Wagkamers en mammogramme

Interressante plekke..wagkamers! Ek sit nou die oggend in so ‘n plek en wag vir my jaarlikse “borsknyptang”-ondersoek. Eerstens vul jy ‘n gebruikersonvriendelike vorm in (net in Engels, al is al die radioloë op die briefhoof duidelik Afrikaans!) waarin daar trippel seker gemaak word dat jy wel sal betaal. Adres van lid, pasiënt, kennis, “next of kin”..die hele tutti, word gevra.. net nie die huishulp s’n nie! ID-nommers, geboortedatums, krone, operasies, implantate, swanger of nie..?

Klaar ingevul, sit ek en kyk vir die mense. Almal sit stip voor hulle en staar en maak geen oogkontak nie. Sommiges lyk regtig siek en ander lyk openlik verveeld of geïrriteerd, kyk kort-kort op horlosies en sug swaar.Jonger mense se vingertjies knip behendig hul selfoonknoppies terwyl my geslag mense doelloos deur spoegvoos tydskrifte blaai. Dis nog ‘n ding, daardie tydskrifte! Party dateer uit die vorige eeu en het al sulke haasore, dat jy gril om aan die goed te vat! Daardie onsigbare spoegblertse onderaan die bladsye, laat my met baie ligte vingertjies bo-aan die tydskrifte vat en in my agterkop sê ek vir myself om tog nie aan my neus of mond te vat nie!

Nou word ek ingeroep en kry ‘n japon om oor my naaktheid te trek..so ‘n voos bloue, wat genadiglik aan die kant vasknoop en nie jou hele alie laat uitsteek soos sommige hospitaaljurke nie. Jy sit daar in die hokkie agter die gordyn en wag dat iemand onseremonieel die gordyn oopruk en jou laat marsjeer na die masjien wat jou nou gruwelik gaan martel. Ja, ons vrouens ken daardie ding..ek vergelyk dit met ‘n “vice grip”, en wórd daardie arme stukkie vroulikheid nou styf vasgeskroef!  Jy’t skoon ‘n spasma in jou nek en blase op jou tong soos jy vasbyt om nie te gil nie. As daar geen probleem in die bors was nie, is daar definitief nóú een na sulke behandeling!

Gelukkig is die dame wat die martelinsrument werk, baie professioneel en verskonend en na die tyd kry ek ‘n sjokoladetjie en ‘n mooi boekmerkie, omdat dit nasionale borskankermaand is. Nou moet ek weer wag in daai benoude hokkie sodat die dokter kan kyk of genoeg vleis vasgeknyp is! Sit maar ‘n horingou blokkiesraaisel, wat al deur iemand anders begin is en invul. Met een oor luister ek na die gesprekke anderkant die gordyn. Dis ‘n vrolike spul en die dokter maak kort- kort grappies met die radiologie meisietjies. Natuurlik kan ek niks sien nie, maar die gesprekke en gelag, laat my besef hierdie mense is gelukkig in hul werksplek, al het hul heeldag met ellendes te doene..’n pluimpie vir hierdie spesifieke praktyk.

Ek is dik van die lag toe ek ‘n ouerige mansstem hoor wat vir die jongklomp daar sê, dat hy nou so vol wind gepomp is en dat hulle nie moet dink dis donderweer of ‘n aardbewing as hulle snaakse geluide hoor nie. 

Ongelukkig word ek weer ingeroep vir nog ‘n sarsie in die knyptang omdat daar bietjie onduidelikheid op die x-straal is. Eish! Hierdie keer is my hele lyf in ‘n spasma en ek gil sulke stil gilletjies agter in my keel. Kry toe darem weer ‘n sjokoladetjie om my te troos…het nogal gehelp hoor.

Sjoe, darem klaar is dit terug wagkamer toe, waar intussen al massas mense soos worsies ingeryg sit. Ek wag amper ‘n uur voordat ek my verslag kry en skeur dit met bewende hande oop in my kar. Gelukkig lyk alles reg en ek sug van verligting. Dis twee dae later, en ek voel of ‘n voorhamer my dáár getref het, maar ek is dankbaar dat ek gesond is en sal maar vir ‘n paar dae loop met die bietjie pyn!

Advertisements

4 thoughts on “Wagkamers en mammogramme”

  1. My knyptang sessie so drie maande gelede gehad. Die vorige keer was glad nie seer nie, maar hierdie keer was marteling op sy beste. Die personeel in hierdie spesifieke praktyk was glad nie vriendelik nie, nadat ek my afspraak ses maande vroeër gemaak het en ‘n week vooraf bevestig het, het hulle niks van my geweet op die dag van die afspraak nie. Gaan beslis nie terug soontoe nie!Mammogramme is ook nie 100% betroubaar nie, so dit bly ‘n risiko.

    Like

  2. Ja, dis waar. Ek het ‘n sonar ook laat doen.Ek weet dis nie altyd effektief nie, maar dis darem ‘n aanduiding. Het al drie vriendinne verloor aan borskanker! Dis maar ‘n swaard wat oor elkeen se kop hang..blykbaar deesdae by mans ook. Ek dink dis dalk die onderarm spuitgoed wat almal so gebruik.Gifstowwe soos alluminium in.Mammogramme is al erg genoeg, dat jy nou nog by suur ongeskikte mense moet beland. Soek ‘n ander plek.

    Like

  3. Nog steeds aan die kuier op jou ou blogs. Hierdie storie het ek herken nog voordat ek die eerste paragraaf klaar gelees het. Daardie martelende wag, veral in die wintertyd in daardie verslete ou japonnetjie en die radioloog wat tot drie keer ‘n nuwe stel plate aanvra … afgryslik.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s