Laaste huldeblyk

Pa, Oupa, ons het jou vanoggend gegroet. Die afgelope drie weke was aaklig, maar nou is jy rustig waar jy hoort..weg van pyn en ellende.

Jy was ‘n wonderlike mens en toe jou seuns en kleinkinders vanoggend aan jou hulde gebring het, het die verlies van Pa weer diep in my hart ingesny!

Nog nooit het ek kleinkinders gesien, wat so hartseer oor ‘n oupa is nie. Hulle rou snikke het my totaal uitgeboul. Die herinneringe wat hulle opgehaal het, het almal se harte geroer.

Ek is bly ek kon vir Pa die stukkie voorlees wat ek dieselfde nag net na Pa se afsterwe geskryf het. Dit was baie moeilik, maar nadat dit verby was, het ek so verlig gevoel en rustig geraak oor alles.

Nou lê die leegheid voor en Kersdag sal ons Pa se vrolike laggie mis. Gelukkig verstaan ons dat tyd die wonde genees, maar die herinneringe sal vir ewig bly.

Liefde,

Jou skoondogter, wat eintlik jou dogter was.

Advertisements

‘n Seder het geval

Vir ons as familie, was hy soos ‘n sederboom, sterk, regop,reikend na bo, met oopgespreide arms, wat almal altyd in sy liefde omvou het!

Ek sit nou slapeloos hier en bepeins die lewe en dood van my pragtige skoonpa.Hy is presies om middernag oorlede. Ons het gejaag om betyds te wees, maar was te laat.Dis eintlik ‘n verligting, want hy het nou vir amper drie weke wanhopig geklou aan die lewe.

Al was hy negentig,is dit steeds ‘n groot verlies vir ons..’n era is vir ewig verby. Ons sal nooit meer sy laggie hoor nie. Ons sal nooit meer saam met hom stap om na sy tuintjie, waarop hy so trots was, te gaan kyk nie.Ons sal hom nooit meer uitgevat sien in sy hemp, das en baadjie nie. Hy was so lief om mooi aan te trek.Ek sal nooit meer vir hom klavier speel nie.Ons sal nooit meer sy leuse, “werk maak sterk”,uit sy mond hoor nie. Dit sal net ‘n familieherinnering bly!Hy sal nooit weer sy hand diep in sy sak steek om vir ‘n arme ‘n geldjie te gee nie.Hy sal nooit meer die motordeur vir my oopmaak nie. Hy was een van die min jintelmanne wat ook sou terugstaan dat ‘n vrou eerste by die deur ingaan.

Gelukkig het hy die laaste drie maande van sy lewe, verskeie hoogtepunte beleef. Manlief het hom geneem om op die Gautrein te ry, hom vir oulaas Marievale toe geneem om voëls te gaan kyk. Sterk is die prentjie nog, toe hy daardie skemeroggend met sy sweetpak aan en sy verkykertjie reggestaan het vir die oplaai! Hy het ook ‘n paar honderd Bybels namens die Gideons by verskeie skole uitgedeel.Die week voor hy siek geword het, het hy nog sy tuintjie reggeruk vir die nuwe seisoen.

Nou is dit net die bergwagters,duiwe en langstertjies wat elke dag vergeefs kos kom soek. Ja, die bakkie met beenmeel en saadjies is vir ewig leeg…

My hart voel soos hierdie bakkie, maar ek weet as die smart en hartseer verby is, sal die bakkie weer vol word van die goeie herinneringe aan ‘n baie besonderse mens!

Rus sag, Pa, Oupa…

Ek tjank nou die sleutelbord nat!

Is die blogs in werlikheid ‘n hoekie vir eensames?

Ek wonder nou al lank hieroor. Wanneer ek alleen voel, kom kuier ek hier. Ek hoef nie alleen te wees nie, maar as daar geen sinvolle gesprekke met ander mense kan plaasvind nie, is ek hier!

Hier val niemand my in die rede nie. Hier moet ek luister na ‘n ander ou, sonder dat ek my eie storie sit en uitdink,terwyl ek met glasoge na die verteller staar!Hoeveel van ons beleef dit nie daagliks in ‘n geselskap nie? Mense is nie regtig meer geïnteresseerd in wat ‘n ander te sê het nie.As jou opinie hemelwyd van iemand s’n verskil, is die kanse op ‘n bekgeveg en doodskreeuery ook groot.

Hier kan ek my mening lug en almal kan verby of ‘n paar stekelrige aanmerkings maak, wat ek nie persoonlik opneem nie.Ek word gedwing om ander se griffels te lees en daaroor te dink. Geskrifte gee ‘n mens ‘n baie regverdiger kans om jou eie opinie te vorm. Gladdebekke en mense wat op hul voete kan dink, kry altyd die oorhand in ‘n gesprek.

Hier is die speelveld gelyk en die stadige perdebye onder ons kan ons tyd neem om stekies uit te deel!

Naais, naaiser, naaisest

Ek wil graag keelskoonmaak oor hierdie naais woordjie wat die mooi Afrikaanse woorde, “lekker,oulike,gawe” heeltemal verdring en verstoot tot argaïese woorde in ‘n woordeboek.

Donderdagaand kyk ek na “Boer soek ‘n vrou”.(Terloops, wat ‘n pot snot!)Die mense se woordeskat is uiters beperk en al wat jy hoor is hoe naais die ou en daardie ou is. Ag, en die couples pas so naais by mekaar. Ai, alles is tog soooo beautiful en naais en dit was so cool en awesome, tog te naais!

Dis slegs ‘n enkele voorbeeld van die gemors wat deesdae as Afrikaans opgedis word.Ek sien hier op die blogs is dit ook baie naais en gewild om sulke gebrekkige, beperkte woordeskat te gebruik.

 Wanneer ‘n mens skryf, is dit baie makliker om die regte woord te soek, want jy het tyd om te dink.Met praat is dit soms moeiliker, want in ons Engelsoorheersde gemeenskap, dink ‘n mens dikwels in twee tale en raak soms verstrengel.Dit gebeur met my ook, maar goeie hemel, van wanneer af is “beautiful” ‘n makliker woord om te sê as “pragtig” of “mooi”?

Hoogere Ingelse hou ook nie van die common woordjie, “naais”, nie.Dus verstaan ek nie hoekom ons, onsself en ons taal so verneder om met die Engelse se commonste woord te ploeg nie!

Ai, dit was nou naais om op my eie common manier hierdie beauuuutiful stukkie oor my naaiste favourite woordjie te skryf. Dis darem vrek cool, hoor

Emosies, emosies!

Ek het ‘n woeste week agter die rug, nie fisies nie, maar emosioneel. Verlede week het ek ingegaan vir ‘n biopsie, maar die volgende dag het drama met my skoonpa begin. Siestog, hy was in vreeslike pyn en sy maag was opgeswel. Natuurlik na ‘n heeldag se gesittery by dokters, plate, terug dokter toe en daarna hospitaal toe, is hy gediagnoseer met ‘n obstruksie in die derm.

Nadat hy Vrydagaand ‘n pyp deur sy neus maag toe, moes kry, om te kyk of die obstruksie nie vanself sal loskom nie, moes hy ongelukkig Saterdag geopereer word. Baie angs het weer by my opgekom, want dit het al twee keer met my gebeur en ek het by die dood omgedraai op ‘n jong ouderdom.Ek beleef van vooraf die ontsettende aaklige sluk van daardie pyp, wat in die neus agter in die keel afgedruk word en jy moet sluk! Arme Pa, sy ogies was vol trane toe hy my Saterdag sien en smeek toe dat hulle asseblief nie weer die pyp moet insit nie. Omdat hulle hom moes opereer het hulle dit tydelik uitgehaal.

Die operasie het goed afgeloop, maar van Sondag af het alles verkeerd begin loop. Pa het longontsteking begin ontwikkel en Dinsdagoggend ophou asemhaal, waarna hy op ‘n ventilator gesit is.Hy is ook kwaai verdoof en dis asof hy in ‘n koma is.

Die hele week gaan dit maar so op en af en ek het skoon vergeet van myself en my eie angs. Gister is my steke uitgehaal en toe die suster vir my sê die knop is nie kwaadaardig nie, bars ek in trane uit en sluip agter my donkerbril by die spreekkamer uit. Ek kon nie glo hoe emosioneel ek was nie, want die hele week het ek nie eers daaraan gedink nie! Dit wys net hoe diepgesetel emosies is.

Ek voel nog steeds of ek ‘n dam vol kan huil, want arme Pa lyk nog steeds sleg. Hy was altyd ‘n besondere gesonde man, flink en fiks en op amper een-en-negentig gebruik hy geen medikasie en het hy ‘n jaar terug ‘n heupvervanging gehad.Hy is ‘n ontsettende positiewe mens en altyd ‘n inspirasie vir almal om hom. By hom is elke ete die lekkerste wat hy nog ooit geëet het en elke vakansie heeltemaal onoortreflik al was dit hoe goor! Altyd is die koppie halfvol en nie halfleeg nie.

Netjies aantrek is een van sy hoofplesiertjies en om hom so onwaardig en magteloos daar te sien lê in ‘n doek en hospitaaljas, met pype wat orals uitpeul, sit nie lig nie.

 Ek huil sommer weer snot en trane!

  

Marteling des martelings!

Toe ek laas oor mammogramme geskryf het, was ek nie heeltemal eerlik nie. Alles was nie heeltemal wel nie, maar dis seker wat ‘n mens “ontkenning” noem.

Nietemin, ek is gister vir die dag hospitaal toe vir ‘n haaknaaldbiopsie!As julle gedink het ‘n mammogram is erg, dan klop hierdie prosedure aan die deure van die middeleeuse martelbendes!

Wel, ek klok toe ewe moedig nege-uur daar in. Gelukkig vooraf alles ingevul toe ek drie weke terug die chirurg besoek het. Kry ‘n bed, jas wat glad nie pas en gaai heeltyd laat uitsteek, en blou pantie wat enige ontwerper na asem sal laat snak. Twee van my kon in die affêre pas en dan was daar plek vir nog ‘n dik tante!

Nadat ek al my tydskrif voos gelees het, kom haal iemand my met ‘n rostoel. Met jaspante wat flap in die wind jaag ons X-strale toe. Klamp my weer vas in die “vice grip” en dié keer is daar geen loskomkans nie. Die bokant van die klamp het so ‘n klomp gaatjies so groot soos my duimnael in. Daardeur spuit die dokter (gelukkig ‘n baie oulike jong vroumensie) my in my bors in. Ek was warmplek toe en terug in daardie dertig sekondes!Toe maak sy ‘n snit met ‘n klein lemmetjie en druk daarna ‘n laaang naald met ‘n haak aan, daarin. Deurentyd kyk hulle op die monitor,sodat sy die naald direk op die knop afstuur.Teen dié tyd voel ek gelukkig niks, maar my nek en rug voel of die spulletjie in ‘n spasma is, van die skeefsit.

Ek moet sê, die drie dames wat die prosedure gedoen het, was baie professioneel en simpatiek. Dis vir hulle ook moeilik om iemand so seer te maak.Daarna is dit terug saal toe met die naald wat soos ‘n antenna bokant my bors uittroon…my eie selfoontoring! Nou weer heeldag wag. Ek het altwee Huisgenoot se blokraaisels ingevul, die simpel tydskrif van ‘n kant af deurgewerk…ja, dis “werk”, want die artikels is leeg en sensasioneel..my eie opinie!

Toe ek uiteindelik teen vieruur die teater ingaan, is ek gladnie beïndruk om te hoor hoe die narkotiseur skerts oor die vorige pasiënt se hoë bloeddruk, omdat sy Gunston rook nie. Hy steek eers my aar mis en ek dag by my sigselwers, dis oor hy soveel poefies praat, dat hy my so verniel! Met hierdie kwaai gedagtes val ek in ‘n diepe beswyming en word genadiglik weer later wakker.

Die res is geskiedenis. Ek is huis toe, manlief het my bederf met tee en broodjies en vanoggend voel dit of ek in ‘n muur vasgeloop het! Nou is dit net wag vir die uitslag!