Hier by my is sulke fyn klein miertjies.Ek hou hulle nou al geruime tyd dop,seker so ses maande al.Eers was dit net een so ‘n oulike rytjie miere wat in my kamer teen die muur uitstreep.Omdat ek nie glo in doodmaak of gifspuit nie,het ek ‘n beleid van “leef en laat leef”!Hier is oral spinnekoppe en geitjies in my huis en die balans word netjies gehou..altans so het ek gedink!
Hierdie skepseltjies vermeerder nou by die dag.Dis amper soos daai advertensie van die mense wat so vermeerder.Gee my skoon ‘n knop op my maag van angs! (nie die mierteelt nie,wel die mensteelt!) Die kêreltjies dolwe orals die sement tussen die vloerteëls en vensterbanke uit. Elke dag vee ek ewe moedig die nesgoed waaraan hul vier-en-twintig uur gewerk het,by die deur uit.
Nou het die knapies in my koskas ingetrek en sit selfs BINNE-IN verseëlde pakkies soutbeskuitjies hulle en dikvreet!My heuningbottel se bek moet elke oggend skoon gevee word voor ek ‘n telepelvol in my tee kan drup.
Snags voel ek hoe goedjies bo-oor my kriewel en as ek die lig aansit,is dit ‘n verdwaalde wesentjie,wat seker die pad byster geraak het slaapplek toe,want daar is nou baie neste!
Hierdie miertjies is piepklein,amper onsigbaar.Hulle het nou selfs in my tuin ingetrek.Oral op die plaveisel slaan klein sandduintjies soos varkmasels uit.Ek het al vrese begin ontwikkel dat ons huis in ‘n sinkgat gaan verdwyn!
Nou wonder ek net..is die natuur se balans so versteur,dat ons dalk nie deur rotte en muise verswelg gaan word nie,maar wel deur piepklein,amper onsigbare,slim,hardwerkende,klein sieletjies?!