Kolmanskop

Kolmanskop is een van die vele aantrekkingskragte van Namibië.Hierdie verlate myndorp lê in die Spergebied, so tien kilometers van Lüderitz af.Met ‘n besoek hier,hang mens se mond oop oor die vindingrykheid van die Duitsers wat in hierdie afgeleë,waterlose plek,’n bestaan kom maak het..alles natuurlik agter diamante aan!

Vir ons was dit ‘n fotogeleentheid soos min,en met ‘n spesiale permit, het ons reeds met dagbreek daar ingegaan en verlore geraak in die verlede!Daar was nie ‘n siel nie,net die gapende deure en vensters van geboue van ‘n vervloeë tyd.Dit was nogal spookagtig, want met rukke het misvingers om ons gekrul en die verlate ruïnes ingesluk!Met genoeg verbeelding, kon mens die deftig geklede dames in hul Victoriaanse kleredrag, deur die strate sien sweef en die vars geur van Duitse gebak opsnuif,waar dit uit die verlate bakkery walm.

Dalk het ek my verbeel,maar iewers kon ek ‘n perd hoor runnik en die skoolklok het gelui om die kinders klas toe te roep.Meester se huis is ook daar,maar amper toe onder die sand.In die pragtige hospitaal,wat nogal baie goed behoue gebly het,hoor ek die gehuil van ‘n pasgebore baba.Ek sien hoe sweef verpleegsters met stywe wit kappies in die sale rond.In my verbeelding sien ek selfs die X-straal masjien..die eerste een in Afrika..in ‘n klein vertrekkie,waar die sand riffels maak teen die verrotte deur.

Die pragtige herehuis van die mynbestuurder lyk goed van buite af,maar binne kraak die vloere en die wind loei onheilspellend deur die oop vertrekke.Die kaggel  roep herinneringe van koue klam aande op en ‘n gesin wat gesellig voor die vuur sit en die dag se lief en leed deel. 

Buitekant is ‘n ou verroeste watertenk,wat op ‘n skewe staander,beur teen die elemente.Dis net ‘n kwessie van tyd,voor dit in duie stort.

‘n Ry geboutjies,wat lyk soos openbare toilette,is al dakhoogte van agter af deur die woestyn opgeslurp.Die wind huil oor die los sinkplate en die sand maak sulke warrelende wolkies,wat om en om karring.

Die goed bewaarde Casino is die middelpunt van die dorpie en saans was daar opvoerings en etes met feestelike geleenthede.Die massiewe kombuis is ingerig om vir baie mense kos te maak en in die saal staan ook ou gimnastiekapparaat,wat nog heel bruikbaar is.

Hier en daar lê nog ou stukkende deurrame,’n geroeste ketel en kamerpot,stukke hout wat iewers in ‘n vorige tydperk nuttig was,selfs ‘n bad in ‘n gapende oopte,waar daar eens ‘n badkamer was.

My kamera kliek en kliek en ek is in ‘n droomwêreld van my eie.Soms trek ‘n koue rilling deur my lyf,maar dis van pure genoegdoening,want ek voel op my beste met my eie verbeelding!

Advertisements

7 thoughts on “Kolmanskop”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s