Ek het só opgesien teen vandag,want ek moes gaan vir ‘n kroon.Eers tagtig rand neersit,want dis mos nou deesdae die in-ding by dokters en tandartse.Jy kan dit darem eis by jou medies,maar Dokter moet darem ook ‘n ou inkomstetjie hê as die medies bietjie lank vat..heeltemal verstaanbaar!
Gelukkig wag ek nie te lank nie,het een van daardie tandartse wat ‘n meester in tydsbestuur is.Dis hoekom ek al dertig jaar by hom is.Ander kwakke kan gerus by hom kom lesse neem!
Nou ja,ek syg half onwillig in die stoel neer en die assistent knip al die nodige fieterjasies om my nek vas en daar kom hy in,gemasker en met sy inspuiting al mikkend na my brose tandvleise.Voor my geestesoog sien ek weer daai advertensie van Vodacom,waar die veearts,’n ou bewerige omie,met dik toegewasemde brilglase, met ‘n massiewe perdespuit die ou in sy boud wil klits!
Weereens,goeie tandarts,rêrig nie seer nie,maar ai tog,die blote gedagte aan daardie liederlike naald!Lang storie kort..dit boor met allerhande groottes bore en intussen versuip ek halfpad.Meeste van die bore spuit mos water ook uit en die assistent verwring my lip met ‘n liederlike suigbuis wat kort-kort ‘n mangel ook halfpad afruk!Baie fatalisties dink ek..dis nou sommer twee vir die prys van een!
Nou is dit blou bytgoed en warm byewas en ek weet nie wat nog alles wat in my beleërde, oopgesperde mond ingedruk word.Ek dink juis by my sigselwers dat my vel hoeka nie meer so elasties soos twintig jaar gelede is nie en voor my geestesoog sien ek hoe hang my wang nou vir ewig skeef!Ek het juis so ‘n stryd teen die ouderdom,sonder dat dit nog kunsmatig aangebring hoef te word!
Terwyl die dik boor,so voel dit vir my, tot in my harsingspan dril,probeer ek aan ander goed dink en wonder hoekom tandartse nie teen hul plafonne allerhande oulike prentjies kan plak,waarna die stomme pasiënte kan kyk nie.Al wat ek teen dié dak sien,is drie plat ligte met stowwerige motkarkasse van baie somers gelede.Ek lê maar en tel hoeveel daar is en lees tot satwordens toe die naam van die spreilig wat selfs my brekfis en ek weet nie wat nog nie, verhelder!
Na amper ‘n uur,kom die marteling tot ‘n einde en moet ek my uitgerafelde mond uitspoel.Probeer dít nou doen as al jou gesigspiere lam is..die water druil gewoon by my mondhoek uit en ewe verleë wuif ek my martelaar vaarwel.
Ag,ons het deurentyd darem baie lekker gesels,hy ‘n monoloog en ek vingertaal en ‘n’n! en eee! op die regte plekke.
Tandartse het eintlik ‘n baie eensame lewe..hulle kan met niemand ‘n ordentlike gesprek voer nie.Hul pasiënte staar alewig daktoe met ‘n mondvol tande!