Tandarts toe!

Ek het só opgesien teen vandag,want ek moes gaan vir ‘n kroon.Eers tagtig rand neersit,want dis mos nou deesdae die in-ding by dokters en tandartse.Jy kan dit darem eis by jou medies,maar Dokter moet darem ook ‘n ou inkomstetjie hê as die medies bietjie lank vat..heeltemal verstaanbaar!

Gelukkig wag ek nie te lank nie,het een van daardie tandartse wat ‘n meester in tydsbestuur is.Dis hoekom ek al dertig jaar by hom is.Ander kwakke kan gerus by hom kom lesse neem!

Nou ja,ek syg half onwillig in die stoel neer en die assistent knip al die nodige fieterjasies om my nek vas en daar kom hy in,gemasker en met sy inspuiting al mikkend na my brose tandvleise.Voor my geestesoog sien ek weer daai advertensie van Vodacom,waar die veearts,’n ou bewerige omie,met dik toegewasemde brilglase, met ‘n massiewe perdespuit die ou in sy boud wil klits!

Weereens,goeie tandarts,rêrig nie seer nie,maar ai tog,die blote gedagte aan daardie liederlike naald!Lang storie kort..dit boor met allerhande groottes bore en intussen versuip ek halfpad.Meeste van die bore spuit mos water ook uit en die assistent verwring my lip met ‘n liederlike suigbuis wat kort-kort ‘n mangel ook halfpad afruk!Baie fatalisties dink ek..dis nou sommer twee vir die prys van een!

Nou is dit blou bytgoed en warm byewas en ek weet nie wat nog alles wat in my beleërde, oopgesperde mond ingedruk word.Ek dink juis by my sigselwers dat my vel hoeka nie meer so elasties soos twintig jaar gelede is nie en voor my geestesoog sien ek hoe hang my wang nou vir ewig skeef!Ek het juis so ‘n stryd teen die ouderdom,sonder dat dit nog kunsmatig aangebring hoef te word!

Terwyl die dik boor,so voel dit vir my, tot in my harsingspan dril,probeer ek aan ander goed dink en wonder hoekom tandartse nie teen hul plafonne allerhande oulike prentjies kan plak,waarna die stomme pasiënte kan kyk nie.Al wat ek teen dié dak sien,is drie plat ligte met stowwerige motkarkasse van baie somers gelede.Ek lê maar en tel hoeveel daar is en lees tot satwordens toe die naam van die spreilig wat selfs my brekfis en ek weet nie wat nog nie, verhelder!

Na amper ‘n uur,kom die marteling tot ‘n einde en moet ek my uitgerafelde mond uitspoel.Probeer dít nou doen as al jou gesigspiere lam is..die water druil gewoon by my mondhoek uit en ewe verleë wuif ek my martelaar vaarwel.

Ag,ons het deurentyd darem baie lekker gesels,hy ‘n monoloog en ek vingertaal en ‘n’n! en eee! op die regte plekke.

Tandartse het eintlik ‘n baie eensame lewe..hulle kan met niemand ‘n ordentlike gesprek voer nie.Hul pasiënte staar alewig daktoe met ‘n mondvol tande!   

19 Replies to “Tandarts toe!”

  1. Ek het laasweek ook die prosedure deurgegaan en vandag die kroon laat opsit. Die blou bytgoed laat my erg ‘gag’ en ek moet net keer of my ontbyt land op die tandarts se hand 🙂 Jare terug was ek by ‘n tandarts wat sulke ‘Where’s Wally’ prente teen die dak gehad het. Ek dink ‘n i-pod met musiek in die ore sal ook help.

    Like

  2. Moet sê, my tandarts is ook ‘n man wat met deernis, so versigtig te werk gaan, kan spuit en boor dat jy dit nie voel nie – en daarvoor is ek hom innig dankbaar.My kindertyd tandarts was ‘n regte perde dokter en ek beleef nou nog dikwels die paniek wat met my besoeke aan hom te paard gegaan het……………..

    Like

  3. Oulik Bytjie,puik beskrywing selfs iemand wat nog nooit in n tandartsstoel was nie , weet na dese presies wat dit behels !

    Like

  4. was onlangs vir die eerste keer by die tandarts…interresante ervaring…sal een of anner tyd weer gaan,…

    Like

  5. Daar word beweer tandartse het die meeste stres van alle beroepe,want hulle is die heeltyd bang hulle maak iemand seer.

    Like

Leave a comment

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +