Die storie agter die wit vrou.

In Januarie 1917het twee Duitsers wat opmeting en kartering van die Brandberg gedoen het,op die tekeninge afgekom.Hulle het glo die aand daar geslaap en eers die volgende oggend gesien die oorhangrots waaronder hulle lê,is vol sketse.Die een,Reinhardt Maack,het sorgvuldige sketse gemaak en later ‘n gekleurde waterverf kopie,wat in Kaapstad gehou is.Ongelukkig het hy die opmerking gemaak,dat die Egiptiese- en Middellandse See-styl van die figure,verbasend ooreenstem.Dit het vir byna ‘n halfeeu gelei tot baie spekulasie,mites en verdeeldheid oor hierdie tekeninge.

‘n Bekende Franse priester en argeoloog,Henry Breuil,wat gereken is as een van die voorste kenners van antieke rotskuns,het in1929 Maack se waterverf kopie in Kaapstad gesien.Hy het toe sommer besluit dis ‘n vrou en dit vergelyk met vroulike atlete op mure van die antieke paleis van koning Minos te Knossos in Kreta.Volgens hom was die bruin jurke en wit of pienk lyfkouse wat die atlete gedra het,baie dieselfde as dié van die figuur in die skets.Natuurlik maak hy die gevolgtrekking dat ‘n klein groepie antieke reisigers van die Oostelike Middellandse See gebied, onder in Afrika uitgekom het.Sy sekretaresse,Mary Boyle,het die naam “White Lady” uitgedink.

Breuil was egter bekend daarvoor dat hy dinge baie verromantiseer het en mense was verbaas dat hy nooit opgelet het dat die figuur nie die nodige vroulike anatomie het nie!Daar is juis ‘n ander opsigtelike vroulike figuur in die tafereel!Hy het gesien wat hy wou sien..soos baie van ons ook maar doen!

Na baie studie van ander rotstekeninge, in Suidelike Afrika is bevind dat die wit figuur ‘n toordokter of sjamaan (geestelike leier) is en dat die tafereel ‘n alledaagse toneel in die lewens van hierdie nomadiese mense was.

Oorhang rots waar alle sakke,water en ander drinkgoed gelos moet word,voordat mens na links met trappe klim tot by die tekeninge.

Een van die interessante tekeninge van ‘n bok met mensledemate aan die agterlyf!

Een van die vrouefigure met duidelike anatomie.

Miskien was Breuil so preuts,dat hy nog nooit daardie dele van ‘n vrou gesien het nie!

Die Brandberg se geheim!

Vandag stap ons verder die berg in. Al raak dit warm,demp dit nie ons opgewondenheid oor die pragtonele om elke draai nie.

Ons kameras klik en klik,ons skiet en skiet soos die San jagters van ouds,maar met heel ander instrumente en heel ander motiewe!

Blouselblou lug met veerwolkies..

Dieselfde toneel, veranderd soos die son agter die wattebolletjies uitskuif..

 

Granietblokke met ‘n boom wat in ‘n skeur veg om oorlewing..

 

Uiteindelik! Een van die tekeninge..’n gemsbok met sy lang horings..

Sien jy al die wit dame?

Ja,hier is sy uiteindelik,met geen definitiewe proporsies van vroulikheid nie!

Sy is toe al die tyd ‘n hy!

.

Ongelukkig is sy/hy baie verdof vanweë sotlike onkundiges wat gedurig water op haar/hom gespuit het om die kleure beter te laat uitkom! Vandag mag mens nie eers ‘n koeldrank daar naby bring nie en die gidse hou mens fyn dop.

Ek vertel volgende keer meer oor die oorsprong van die naam en wat die hedendaagse bevindings aangaande hierdie interessante tekening is.

Pandemonium

Gisteraand was daar al gerugte van ‘n skelm gedierte hier in ons woonbuurt.Gedagtig aan tokkelossies en allerhande bygelowe, het skeptiese ekke maar net gewonder of iemand nie sy ou sokkies gerook het nie!

Vanoggend sê die hekwag vir my, dat hy Kees se kind in ons straat gesien het.Later sien ek hoe ons buurtwagmotor op en af ry..sonder sukses.Buite in die straat is al die tuinmanne besig om blare te hark,sypaadjies netjies te maak en aan die oor en weer gepratery oor ‘n vyfhonderd meter afstand,kan mens hoor hier is groot opgewondenheid!

Ek hang ook daar rond en probeer agter die kap van die byl kom.Dit lag en gesels en beduie en dis so ‘n lekkerte dat ons almal saamgesnoer is deur so ‘n stuk sensasie.Ek het laas so gevoel by die stembus in 1994!Elkeen beduie..een dink dis die apie met die Pampersdoeke,wat hier onder in die straat as troeteldier aangehou word.Nog een wys hoe hoog kees is..en dis skrikwekkend!My huishulp vra vir my of dit daardie diere is wat mense namaak(sjimpansees)en ek pluk my wildtuin diereboek uit om vir haar ‘n prentjie te wys.

Intussen het ek my kamera gereed om my nek..net ingeval!Lang storie kort,tuinman gil vir my Ta is op ons dak.Ek is net betyds om sy lang grys sekelstert te sien,toe is hy weer vort.Huishulp gil hy sit agter op ons houtheining vir haar en kyk!Weer is ek te laat en Adoons verdwyn soos ‘n groot speld.Ons hang oor die bure se mure en almal praat gelyk.Orals is natuurlik net huishulpe en tuiniers.Ek is die enigste wit gesiggie,maar ons is saamgebind in die oomblik!

Die geheimsinnige besoeker is nog steeds soek en diep in my hart hoop ek dat hy nie ‘n tragiese einde tegemoet gaan loop nie!

Ek het lanklaas ‘n oggend so geniet!

Brandberg

Hierdie ongelooflike fassinerende berg lê soos ‘n reuse grys klip in ‘n baie dor Namibiese landskap.Dis ‘n berg wat heeltemal los staan van ander berge in die omgewing en van ver af lyk dit ontsettend ongenaakbaar.

Noord van die Brandberg lê rant op skurwe rant en reusagtige berge toegevou in ‘n warm wasigheid.

Wanneer ‘n mens die Brandberg binnestap,is dit met stomme verbasing..dit is ‘n hele ekosisteem op sy eie en na vanjaar se baie reën is daar selfs spruitjies en hoë riete en biesies.Dit lyk soos ‘n bosveldparadys!

‘n Mens stap amper ‘n uur saam met ‘n gids om na die beroemde “White Lady” rotstekening te gaan kyk.Dis ‘n argeologiese bewaringsgebied en niemand word toegelaat sonder ‘n gids nie.Oppad speel die volgende tonele af.. 

‘n Wandelpad vol verrassings..

‘n Witgatboom staan teen die blouselblou lug..

‘n Klip wat soos ‘n bobbejaan se kop lyk..

‘n Dassie in die vroegoggend son..

Die berg se mooiste geheim wag..tot volgende keer!