Gisteraand ry ons na ‘n funksie in die deftige Saxon Hotel,iewers daar in Sandton…GPS aan,maar ‘n ongeluk op die snelweg verander die hele prentjie.Nou as julle vir manlief ken,hy laat hom nie eers deur ‘n GPS vertel nie!
Toe ons nou noodgedwonge roete verander,seg die tannietjie allerhande rigtings,waarmee Pappie NIE saamstem nie!Volg dus sy eie kop,want hy ken mos eintlik vir Jouies soos die palm van sy hand.Ek het stilstuipe en sien hoe die horlosie naderhand wys,dat ons nou amptelik laat is.Na nog ‘n driekwartier is ons nog later.Af en toe knip ek die liggie by die truspieël aan en wend ‘n flou poging aan om met my nagblinde ogies,die baie vrot kaart wat die GPS moet ondersteun,te bestudeer.By elke robot probeer Pappie sy bearings kry,maar dis so goed hy probeer koek bak in die donker.
Moenie vra hoe nie,maar uiteindelik seil ons natgesweet by daai Saxon se hekke in.Ons probeer baie kalm en grênd-waardig lyk,want ons het ons status tot eregaste verhef,deur absoluut laaste daar aan te kom!
By die hekke is lakeie in swart pakke met tweerigting radios.Ons word ingewuif in die parkeergarage in en nog ‘n knaap maak die deur vir my oop en raak amper die grond met ‘n swiepende arm,soos hy buig.Skoon verwilderd word ons sonder seremonie in ‘n statige BMW ingebuig,weer met knikkende koppe en knakkende knieë..dag eers ons word ontvoer,maar die kar ry tien treë tot by die hotel se voordeur!Eregaste mag mos nie loop nie..
By die voordeur nog pikkewynpakmanne,wat ons verwelkom en deurbuig na die onthaalarea.Glase sjampanje word in ons hande geprop en ons probeer onsuksesvol lyk of ons maar heeltyd daar rond was.Gelukkig het die verrigtinge nog nie begin nie en niemand sien die twee kommin Oosranders wat op die laaste minuut daar insluip en klaar gesuip lyk,al het hulle nie ‘n druppel gedrink nie!
Oulike program duur toe slegs ‘n halfuur,waarin ons kans kry om weer effens tot verhaal te kom.Na die tyd word die gaste bedien met borde en borde vol van die heerlikste vingerhappies.Dit kom sommer so vanself aangedra deur ‘n klomp swewende manne in swart.As jy nog jou sosatiestokkie wil afkou,neem ‘n vaardige hand dit en siedaar..daardie manne is fyn afgerig!
Later,weer uitgebuig,uitgewuif,tien treë terug aangery na ons eie kar,ry ons daar uit.Buite die hekke staan omtrent ‘n erewag,maar helaas,nie vir ons nie..om die draai kom ‘n blouligbrigade met deftige motors en BBPersone,verskuild agter getinte ruite.Eish!Konnie sien wie dit was nie,beslis baie belangrik!
Ons ry rustig in die vinnige baan op die snelweg terug en die volgende oomblik sny ‘n motor van links af reg voor ons in en gaan staan omtrent stil!Manlief briek en briek en briek!Die ou het ons probeer stamp van die kant af.Dit was die vreemdste gevoel.Onmiddelik is ons paraat,kyk of iemand ons agtervolg,ek tik ons buurtwag se nommer in,polisie antwoord mos nie meer fone nie!Die voertuig ry al stadiger en ons val heeltemal terug en beweeg oor na ‘n ander baan om hom af te skud.Dis nou nog nie duidelik wat gebeur het nie,maar ons het darem veilig tuis gekom.
Ek het vandag skoon die ritteltit as ek dink wat kon gebeur het.Geen aanduitstappies meer vir my nie!