Oorgang

Vandag doen ek my honderdste en moontlik laaste inskrywing op hierdie forum.Dis met ‘n tikkie hartseer en spanning,waarmee ek die wegraping inwag!Ek het baie plesier hierdie kant beleef en sluit nou af met ‘n sonsondergang.

Laat ons wees soos hierdie bootjie,varende na die anderkant,vol optimisme en met die wete dat die son ook weer daar gaan opkom!

Vaarwel almal,sien julle doér oorkant!

Advertisements

Een van daaardie dae!

Gister was ‘n vreemde dag en het my positiewe self teen laatmiddag in ‘n melankoliese bondeltjie gelaat!

Alles het reeds vroeg begin,toe ek my oefenklas bygewoon het.Eerstens kry ek ‘n geweldige menopousale-vurige-hitte-roosrooi-gesiggie-sweet-aanval en almal lag,skerts en sê ek het ‘n “power surge”gehad..baie gemoedelik en ek spot lekker saam dat ek iewers kan “inplug” en ‘n ketel kan laat kook met al my ekstra krag.

Na die klas wil ek my maandelikse fooi betaal en gee sowaar vir ons afrigter honderd rand te min!Ek betaal al die hele jaar dieselfde bedrag,maar gister was daar ‘n leemte van honderd rand in my kokende brein.Nogal verleë gevoel,maar laggend die situasie beredder.Natuurlik staan almal daarby en ons lag maar weer.Selfvertoue is nou redelik in sy moer in.(Ek vloek nie graag nie,maar ek vergun myself hierdie enetjie!)

Huis toe,gelukkig sonder voorval,stort,koppie tee en ek voel weer dapper muis..ek bedoel mens.Daarna ry ek opgewonde dorp toe om my skildery wat nuut geraam is,by die kunswinkel te gaan haal.Hierdie skildery het sowat twee maande gelede met ‘n dawerende slag van die muur afgeval en die glasskerwe oral laat spat.Omdat ek weet hoe duur ‘n nuwe raam sou kos,het ek maar uitgestel en uitgestel,totdat die tyd (en geld) reg was vir die skidery se nuwe baadjie.

Sjoe,die vrou het dit so mooi geraam en ek was absoluut in my skik,die skokkende prys ten spyt!Tuis,is manlief net so in sy noppies.Ons het jare terug die skildery gekoop by een van daardie uitstallings wat hulle by skole gehou het en waar jy eintlik half verplig gevoel het om iets te koop.Was toe al effe bo ons vuurmaakplek,maar dit was darem vir ‘n goeie saak..en dis ‘n besondere mooi skildery!

Manlief kap ywerig nog ‘n spyker langs die bestaande ene in,hang ons kunswerk op en ons oee en aaa en voel sommer opgewonde soos kinders wat spookasem eet!Gaan toe maar aan met ons dinge. Skielik is daar ‘n harde slag!Nee,nee,neee!Splinternuutgeraamde skildery lê weereens flenters agter die kas,nie eers tien minute van glorie gesmaak nie!

Ag,ek kan nie beskryf watter emosies deur my suwwe kop gewalm het nie.Manlief was verwese en het sommer dadelik die prent terug geneem om te laat oordoen.Toe voel ek meer sleg oor hy so sleg voel,as oor die skildery.

Na my kokende gemoed bietjie ophou prut het,sak die boomsnoeiers wat ek gehuur het hier in.Binne ‘n ommesientjie is my agterplaas vol takke en die bome lyk soos “knit one,slip one”..gruwelik vermink!Ongelukkig is dit maar hoe bome lyk as die takke na jare se groei bietjie weggesny word.Dis nogtans ‘n skok as dit skielik so oop is.

Na ‘n nag se slaap,lyk die wêreld vandag weer anders..het net ‘n effense kopseer!

Truspieël

Die lewe is soos ‘n truspieël. Wanneer ‘n mens terugkyk, kry dit wat agter lê, weer helder betekenis en kan ‘n mens ‘n sinvolle verband met die hede vorm.

Al is gebeure wat agter jou lê soms soos ‘n voortstormende vragmotor, kan jy nogtans daarby verby ry en net die helder mooi oomblikke in jou gedagtes vaspen.

Die afgelope jaar was vir my so. Ek blog presies ‘n jaar en in hierdie tyd het baie bloggers vir my helderblou oomblikke gebring!Dankie daarvoor.Ek is nie besig om afskeid te neem nie,maar berei my tog voor vir die verandering wat ons in die gesig staar.

Miskien moet ons ook die geheimsinnige vragmotor van verandering verbygaan en mekaar in vernuwende omstandighede maklik met ons verlede op LitNet verbind! 

Nare Metgesel

Twee maande lank,word ek agtervolg deur ‘n nare vrou.Sy agtervolg my vier-en-twintig uur lank,elke dag.Sy verskyn heeltyd uit die bloute,ongevraagd,onverwags en heeltemal ongenooid!Ek is nou redelik dik vir die tante en wil haar warmplek toe stuur.

Sy het ‘n drake-asem,wat sy in my vernoude are inblaas,sodat my poorte kreunend oopgaan en dit voel of die rookwalms my skedeldeksel gaan oplig!Bedags tref haar onwelkome attensies my in die benoudste plekke,waar ventilasie totaal afwesig is.Dan trek ek ongemerk bietjie van my klere uit,vee skelmpies met ‘n sakdoekie oor my sweetpêrelende voorkop en probeer haar waardig teenstaan!

Nadat haar onwelkome attensies gewyk het,laat sy my met ‘n doodse koue agter en moet ek weer rittelend my klere aantrek,ysig en nat tot in my murg.Sy is ‘n pes,wat my privaatheid binnedring en haar heksevuur laat brand en rook in my beleërde lyf.

Na elke besoek van die hitsige tante,lyk my kapsel soos ‘n “appy” se mislukte beginnerspoging en my maskara loop sulke strepe uit my ooghoeke.Waardigheid o waardigheid,waar is jy heen?

Ek haat haar wanneer sy snags omtrent elke uur haar opwagting maak en my rustige slaap omkeer in ‘n helse kookpot,waarin allerhande gediertes borrel en prut.Komberse op, komberse af..geen rus of duurte vir ‘n arme siel nie!

Die Katolieke se vagevuur is soos ‘n koel briesie in vergelyking met hierdie innerlike vuur!

Wyk Antie..wyk! Ek is hartlik siek en sat vir jou!

Effense ontnugtering

Vandag het ons met die Gautrein Sandton toe gery,heerlik daar geëet,weer die trein gehaal,hierdie keer Pretoria toe.Dit was vir my op ‘n manier ‘n baie emosionele trippie.Dit was glad nie so bedoel nie,maar dit het net gebeur.Vir manlief was dit ook erg,want hy het presies ‘n jaar gelede vir Skoonpa op dieselfde roete geneem.Min het hy geweet dis die laaste ding wat hulle saam sou doen.

Baie emosies het deur ons harte gemaal.Vir hom was dit die deurdring van die werklikheid van sy verlies en vir my was dit ‘n warboel van indrukke van verandering.Ek het groot geword in Lyttelton.Destyds was dit ‘n vierkantige dorpie met drie kerke,vier skole en twee stasies.

Al loop die Gautrein nie langs dieselfde roete as die gewone trein nie,was dit skokkend om te sien hoeveel alles verander het.Dis gebou op gebou en ek het moeite gehad om ou bekende bakens te vind.Selfs al het ek nog in die laaste paar jaar gereeld Pretoria toe gery,was alles net vir my sooo vreemd.

Ons was albei op Tukkies en ons kinders het nie lank terug daar studeer nie. Dus kon ons die verandering van die studentewêreld vanaf ons tyd, tot hulle tyd, raaksien en gewoond raak daaraan.Toe ons egter vandag in Hatfield afklim,kon ons netsowel ‘n maanlanding gedoen het.Die splinternuwe stasie spoeg jou uit in ‘n Hatfield met ‘n vreemde atmosfeer.Ek kan nie sê dit is vuiler as gewoonlik nie, maar die nuwe geboue oral en die feit dat die koffiewinkel waar ons altyd saam met die studentekinders gekuier het, het ‘n metamorfose ondergaan en is nou ‘n tipiese gemorskoswinkel.Manne leun oor die reling waar die sypaadjiestoele staan en beskou die sokker op die tv binne in die kafee.Taxis toeter onophoudelik buite en ek en manlief het so vreemd gevoel.Alles was net anders.Dit was asof ons voete onder ons uitgepluk is.

Dis seker hoe ‘n voël voel,wat altyd in dieselfde boom gaan sit en op ‘n dag is die boom afgekap.Ons drink toe maar ietsie en haal die trein terug huis toe.Die atmosfeer in die trein was heerlik Daar was massas mense van alle kleure en gemoedelikheid was die wagwoord.

Dis so hartseer,dat politiek altyd ‘n wig tussen ons indruk.Op hierdie trein was almal net ..MENSE!

Begrafnisondernemer en die likkewaan.

‘n Maraboe is loshande die lelikste gevoëlte op aarde!Net sy mamma kan hom liefhê en seker ook nie vir té lank nie. Met sy kale kop en yle, donsige  krulletjies,lyk hy meer soos iets uit die buitenste ruimte. Gewoonlik is sy bek ook bevlek met die vrot sappe van morsige eetgoed.Hy is ‘n aserige geveerde,wat dikwels by ashope en slagpale sy etes afsluk.Hy eet darem ook meer smaaklike etes soos groot insekte, vis, reptiele en voëls tot so groot soos flaminke.Wees dus in jou pasoppens vir hierdie lelike ooievaar.Ek glo nie hy is die babetjie-bring-soort nie!

Met sy swart manelpak en waardige houding,lyk hy net soos ‘n begrafnisondernemer en oor hy dikwels op plekke van die dood rondhang,is dit ‘n gepaste vergelyking.As hy egter sy vlerke oopsprei en die winde onder sy wieke vang, is hy die toonbeeld van elegansie en grasie,voorwaar pragtig in vlug!

Hier was hy en ‘n likkewaan slaags oor ‘n stuk aas.Met likkewaan se dikke stert wat klap-klap in sy rigting,het Maraboe maar lugtig sy kans afgewag vir ‘n smullige happie!

Tiervis het sy tier ontmoet!

Hierdie tiervis het nog gedink hy swem lekker rond,toe ‘n spies van besondere aard hom deurboor en hy ‘n slanghals se  aandete word!

Die slanghals swem onder water en skiet sy kop vorentoe soos ‘n pyl uit ‘n boog en deurpriem sy prooi.Wanneer ‘n mens die voël sien swem, lyk dit kompleet soos ‘n slang,vandaar die naam.’n Mens sien hulle dikwels op boomtakke of klippe sit,met hul vlerke oopgesprei in die son.Omdat hulle so onder water jag, moet hulle dikwels hul vere laat sondroog.

Hierdie foto’s is op die Choberivier in Botswana geneem en dit was blote geluk dat ek op die regte tyd op die regte plek was!

Eers word Vissie gevang,gesteek so by die hart langs.

Probeer Vissie posisioneer voordat die afslukproses begin.

Skud hom bietjie reg sodat hy bek eerste kan inglip,anders sny die skubbe en vinne Slanghals se keel oop!

Nog een laaste regskud en daar gaan hy..so glad soos ‘n paling!

Nog ‘n sluk en Vissie was gewees!