‘n Janfrederikpaartjie maak elke jaar nes in my voortuin en dan hou ek die broeiery en grootmakery met belangstelling dop.Verlede week roep my tuinier my en toe ek in die nes kyk,sit daar ‘n bont klein gevoëltetjie,definitief nie janfrederik se kind nie!Die knapie is vreeslik agressief en pof sy gestreepte vere op sodat hy soos ‘n broodrolletjie uitrys!
Ek besef dadelik wat aangaan en trek my voëlboek nader.Ja-nee,dis koekoek se kind! Koekoeke is nesparasiete,wat hul eiers in ander voëls se neste lê en dan salig verdwyn vir die lekker lewe sonder kommer oor bybies! Hulle eiers lyk gewoonlik soos die gasheer s’n en wanneer die kleintjies uitbroei,maak die indringerkuiken die ander kleintjies dood of skop hul uit die nes uit.
Wyfies lê sowat 23 tot 25 eiers per broeiseisoen, waarvan drie tot ses per broeisel.Hulle lê net een eier per nes en doen dit baie skelm.Dis al waargeneem waar mannetjies die gasheervoëls besig hou terwyl mammie gou die eiertjie lê!Ek vermoed hierdie is ‘n Piet-my-vrou,want hulle parasiteer op janfrederikke,kwikkies en vlieëvangers.
Ek het verlede week elke dag foto’s geneem en was verstom om te sien hoe vinnig die knapie groei.Eergister was hy al so groot,dat die nes soos ‘n halwe eierdop om sy agterent gepas het.Gister,was die nes besig om uit die mik te val en ek het ‘n plankie onder gesit en die nes met ‘n draadjie aan ‘n tak vasgemaak.Vanoggend sit hy op die plankie en die hele nes is verfomfaai!
Die janfrederikke vlieg besete op en af om die klein monster te voer en as mens naby hom kom,loods hy ‘n woedende aanval.Ek kan sommer dink wat in die janfrederikke se koppe aangaan..”Wat het ons verkeerd gedoen om so ‘n veelvraat te verdien?”
Ek sukkel om die foto’s te plaas,maar dit kom!
Like this:
Like Loading...