Nog steeds hier!

Kwaaitjie Koekoek is nog steeds hier.Hy skreeu heeldag in die blaredak by ons kombuis.Die Janfrederikke se stertvere hang,so moeg is hulle.Ek sien hulle probeer hom nou wys hoe om sy eie kos te vind.Hulle sit bokant die vrugtetafel waar ek soms vir die voëls lekkernye uitsit.Hulle roep en roep en smeek,maar hy sit net stil en skreeu.

Dit sal volgende week twee maande wees,sedert ek die gevooltetjie begin afneem het.Volgens al my voëlgeskrifte moet hy ten minste volgende week “gespeen” of is dit nou “geveer”? wees.Ek het seker al tweehonderd foto’s van hom..neem elke dag ‘n paar.Hy het al verskeie storms oorleef,die wrede buurkat ontwyk en verskeie lawaaierige prosedures soos grassnyery, brullende motorfietse en skreeuende motorbande gewoond geraak.

Ek kan taamlik naby aan hom kom,maar sy “ouers”is steeds vreeslik sku en versigtig..asof dit help,want hy is so groot en skreeu so hard,dat die hele buurt weet waar hy is! Ek weet net ek gaan hom vreeslik mis as hy vertrek.

Ek sal probeer om ‘n foto te plaas,maar as dit nie werk nie,moet julle maar terugkyk op my vorige blogs.

Dit werk toe nou NIE!!

 

Frustrasie!

Ek wil sommer my hare uitpluk,want ek kry nie reg om foto’s te laai nie.Elke keer is daar ‘n kennisgewing wat sê dat my fotogrootte die toegelate grootte oorskry.Ek het hulle al kleiner gemaak,maar die probleem bly.Dis SOOO frustrerend,want ek wil verder vertel van ons uitstappie,met foto’s.Daarsonder,kan ek dit netsowel los!

Help,help!!

Besondere uitstappie deel 1

Min besoekers aan Namibië weet van hierdie interessante roete naby Swakopmund.Plaaslike inwoners en toergidse besoek wel dikwels die area.
Desembermaand het ons die familie uitgeneem op hierdie heerlike daguitstappie.Met ‘n viertrekvoertuig (beslis nodig),genoeg water en hope piekniekkos,het ons vroegoggend uit Swakop vertrek op die pad oos in die rigting van Usakos.Iewers draai mens regs van die pad af en ry dan ‘n hele ent langs die oorblyfsels van ‘n ou treinspoor.Die opvullings,deurgrawings en klipbakens is nog duidelik sigbaar.Dis verstommend dat mense so ‘n spoor met hande-arbeid gebou het.

Onderstaande foto’s wys duidelik die uitgrawing en die opvulling van die ou spoor.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die omgewing is hier taamlik plat met interessante woestynplante en koppies.Soos mens egter verder ry,begin die pad heelwat daal en bevind mens jou binnekort tussen geweldige rotskranse in die rivierbedding van die Houtrivier.Dis droog en geweldig warm in die somer en die beste is om maar vroeg te begin.(Vervolg)

 

 

 

Liefde in die natuur

In die natuur gaan dit nie soseer oor liefde soos wat ons as mense ervaar nie,maar eerder om oorlewing.Liefde is ‘n emosie wat deel geword het van die menslike psige,soos wat die mens deur eeue ontwikkel het.Dit is waarskynlik ‘n voortsetting van die drang om te oorleef,daarom moet jy jou nageslag koester en beskerm en mettertyd (oor baie eeue heen) het hierdie drang verfyn tot wat ons vandag as liefde ken.

Ek plaas vandag se foto van Kwaaitjie en een van sy sorgsame ouers.Ja,hy is nog steeds hier en word steeds gevoer..’n voorbeeld van ware liefde,toewyding of oorlewingsdrang?

Dis nou al die sesde week van liefdevolle versorging.

Die binnekant van ‘n taxi

Vanoggend ry ek weer agter ‘n taxi wat so skeef soos ‘n krap loop.Sy voorwiel aan die regterkant steek ‘n goeie banddikte verder as die agterwiel uit.Agter is die deur vol duike en die ruite is gekraak…duidelik reg vir die ashoop!

Ek wou my vererg,maar begin toe dink hoe moet die arme mense voel wat aan die genade van hierdie monsters oorgelaat word?Hulle is met die rug teen die muur,want hulle is uitgelewer aan die grille en giere van die taximeesters!

My huishulp moes gister twee ure lank in ‘n tou staan in gietende reën,want die taxiverenigings het ‘n dispuut oor roetes wat gery word.Daar is nou sommer ‘n “nuwe” taxistaanplek geskep in die oop veld langs woonhuise hier in ons buurt. Ek is seker die huiseienaars gaan dit nie sommer aanvaar nie,want die omgewing lê reeds besaai met rommel en die spul taxis parkeer oral voor die huise in die oop veld.Daar is ‘n taxistaanplek met afdak en geriewe,waar almal altyd heen gegaan het,maar skielik is daar drama.

My huishulp vertel my,dat daar soveel onmin heers,en dat die taxibase geen ander mense toelaat om ook te deel in die vervoerdery nie.Daar is eerder te min taxi’s as wat ander toegelaat word.Nou word hulle smiddae ingeprop en soms is daar tot vier-en -twintig mense per taxi.Blykbaar sit hulle op die vloere tussen ander se voete! Ongelukkig kan die pendelaars nie staak en toi-toi nie,want hul is afhanklik van vervoer en die taxi eienaars weet dit.

Voor jy volgende keer weer kwaad word vir ‘n taxi,dink ‘n oomblik aan die insittendes,wat moontlik in angs en bewing en ook woede,uitgelewer is aan die varkerige bestuurder!

 

Vanoggend se veervolkies

Uiteindelik het ek vanoggend die foto gekry,waarvoor ek dae lank soos ‘n papparazzi met ‘n kamera in my agterplaas rondgehardloop het en arme Kwaaitjie en gesin verpes het! Die knapie is nou op bessies en goggas.Met hierdie gemengde diëet behoort hy seker nou gouer te groei.Ek neem waar dat hy self al bietjie begin pik na insekte.

Gister het vir ‘n paar benoude oomblikke gesorg.Ek het gehoor die Janfrederikke gaan verskriklik tekere en Kwaaitjie was doodstil.By nadere ondersoek,sien ek ‘n vieslike grys kat in die boom,waar my geveerde vriendjie altyd sit en skreeu.Ek gaan toe soos ‘n beserker tekere, dat selfs my nuwe klein hondjies verwoed kef en op hul agterpote staan om hierdie vreemde gedierte te aanskou! Katgoed slaan op vlug en ek dink hy is nou al in die Kaap.

Vanoggend ontdek ek nog ‘n kuiken,dié keer ‘n rooiborsduifie.Hy is al reg om te vlieg en buite die nes sit ‘n tweede enetjie ook vluggerreed.

Dit vibreer van die lewe in my tuin.Oral is akkedissies,geitjies,miere en selfs hommelbye en ander insekte.Dis hierdie klein dingetjies wat die lewe mooi maak!

Pappie bring vir Kwaaitjie ‘n lekker sappige oranje bessie!

 

Kwaaitjie sluk amper vir Mammie in!

 

Duifie sit gereed om te vlieg!

Kan julle glo?

Ek plaas net gou Kwaaitjie se nuutste foto en ook sommer die eerste een wat ek minder as ‘n maand gelede geneem het op die 7de Januarie.’n Mens kan nie glo hoe mooi en vinnig hy gegroei het nie!

Skaars ‘n paar dae oud!
Skaars drie weke later.Kyk hoe pragtig lank is sy stert!

Mense wat jou pad kruis, deel1

Dwarsdeur mens se lewe kom jy gedurig in aanraking met mense.Dis tog interessant watter invloed dit direk of indirek op ‘n mens maak.Sommige ontmoetings is vlietend,soos die kelner wat jou ete bedien,of die kaartjiesverkoper by die fliek.Andere maak weer ‘n groot impak op jou gemoed en beïnvloed jou jare later nog steeds.

So sit ek vanoggend en dink aan verskeie sulke mense.Ek kry nog steeds die reuk van 7eleven reukwater in my neus,wanneer ek aan my graad een onderwyseres dink.’n Wonderlike vrou,wat my so simpatiek behandel het toe ek die dag ‘n stuk kougom in my pragtige lang lokke ingewoel het.Sonder bohaai,het sy haar bes gedoen om my handjies met sand skoon te vee en met ‘n skêrtjie die verbode kougoed uit my hare te knip..doer eenkant,sodat die ander kinders nie my verleentheid raaksien nie!

Dan was daar die aaklige standerd twee onderwyseres, wat sadistiese genot daaruit geput het om ons op allerhande vreemde maniere te straf..boude in die lug,kop onder die tafel, slaan jou met ‘n stok op die agterent dat jy jou kop teen die tafelrand kap as jy boontoe ruk,arms in die lug vir ‘n uur lank in die hoek van die klas,knypend aan die spier in jou skouer,vernederende aanmerkings..ag ek kan ‘n boek oor hierdie vieslike vrou skryf!

Standerd vier onnie was nie veel beter nie.Sy het ons boeke sommer opgeskeur as die werk nie netjies was nie,byname aan sukkellende kinders gegee soos Pampoentjie,Dreamy Danie (hierdie outjie het die naam gehou totdat ons die dag matriek geskryf het!).Toe dit in 1964 die eerste keer in ‘n leeftyd by ons sneeu,het die ander juffrouens hulle kinders buite toe laat gaan om die wonder van sneeuvlokkies op hul hande te voel.Wat maak ons ou draak? Sy verbied ons om eers deur die venster te kyk.Nodeloos om te sê,die val van vlokkies was van korte duur en nie een van ons het al ooit sneeu gesien nie! Ek is nou nog die donder in vir haar,al is sy lankal lang bome toe!

Standerd vyf onnie,was ‘n riller!Hy het dit sy besigheid gemaak om die meisies se bra’s te skiet en onder die trappe te staan en koekeloer waar hy nie moes nie.Vieslike ou man het my eenkeer in die biblioteek se stoorkamer vasgedruk en my wange bloedrooi geskuur met sy aaklige bokbaard! Ek voel nou nog daardie benoude vasgeklemdheid en asemloosheid wat ek beleef het en ek ruik nog die ou ding se stink asem! Gelukkig was die skrif toe aan die muur vir hierdie ou pervert.My ma was vinnig by die hoof en volgende wat ons hoor,is hy gepos na ‘n eenmanskool! Sjoe,daardie arme kinders…later gehoor hy is daar ook weg en in ‘n adminpos geplaas!Seker toe die TOD-amptenaresse in die gebou rondgejaag!

My volgende standerd vyf onnie,was ‘n juweel en het my vertroue in mans weer effe herstel! Hoera vir hom, want hy het balans gebring in die gemoed van ‘n jong kind,wat niks geweet het van perverte en stout omies nie! In dieselfde jaar het nog ‘n waardige ou heer vir ons Engels gegee en ek dink aan hom terug met die grootste respek.Hy was oud en grys,maar so hoflik teenoor ons.Ons het hom nie genoeg waardeer nie en ons was openlik standerd vyf- en tienerverveeld in sy klas! Ek kry nou nog skaam daaroor,maar miskien was ons te jonk om hom werklik te waardeer.Dis die jare toe ons nog almal elf in standerd vyf was..later die jaar twaalf geword!

Bogenoemde was positiewe en negatiewe ervarings,wat my vandag nog bybly, maar waaruit ek tóg verskeie lewenslesse geleer het!

Vandag se foto

Kwaaitjie groei pragtig en ek kry elke dag kans om hom af te neem. Hy maak so ‘n vreeslike geraas,dat mens heeltyd kan hoor waar hy is.Ek het nou opgelet dat sy ouers hom roep.Hulle gaan nie meer na hom toe nie,maar hy moet na hulle toe vlieg as hy kos wil hê! Die gevolg is natuurlik,dat hy al baie sterk begin vlieg en nie heeltyd soos ‘n vet lord op een plek sit en vreet nie!

Hy word mooier en mooier.Waar sy bors nou swart is,sal die volwasse voël ‘n rooi bors ontwikkel.

Help asseblief!

Ek wil bitter graag bloggers soos Neander,Katrina en Hysmal se blogs lees,maar weet nie hoe om daar uit te kom nie!Gee asseblief raad julle slimmes!

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +

%d bloggers like this: