Uiteindelik het die groot dag toe Saterdag aangebreek!
Ek het vroegoggend vir Bruidjie by die haarkapper gaan aflaai en manlief moes worstel met sy tante en niggie wat van Bloemfontein af gekom het…hulle geneem vir ontbyt en heeltyd geselskap gehou.Ek het my totaal onttrek van alle familieverpligtinge en net op Bruidjie gekonsentreer.Dit was ons oggend en ons ander meisiekind wat amper twee jaar in Moskou woon,was ook hier.Saam is ons drie toe in ‘n helse storm hier uit Benoni,Pretoria toe.Bruidjie se senuwees was klaar,want sy het juis ‘n Apriltroue gereel om in ‘n pragtige tuin te trou.
Dit het mooipraat en paai gekos om haar te kalmeer en positief te hou…twakstories van geseënde huwelike wat in kwaai reën plaasvind het haar nie juis laat beter voel nie! Aangekom by haar mooi tuin,was die weer darem minder dreigend,maar dik wolke het bly saampak.Teen twaalfuur moes ons besluit of dit binne of buite moet wees en BUITE het die oorhand gekry,na vele foonoproepe tussen Bruidjie en aanstaande manlief en nare ou skoonma (dis nou ekke) se onwelkome raad om dit maar binne te hou.
Dit was die regte roep,want teen vieruur was dit pragtig oopgetrek en onder lieflike blou lug en met die son wat deur die herfsblare loer,kon die seremonie begin.Bokant ons koppe het duiwe gekoer en daar was selfs wilde parkiete in die blaredak,wat saam gekwetter het om die atmosfeer verder besonders te maak.
Ek en manlief het ons meisiekind weerskante ingehaak en saam die paadjie afgestap en haar aan ons nuwe seun oorhandig.Die oumas en ouer tantes het blykbaar tissues volgehuil,omdat dit so aandoenlik was.Ek moes self konsentreer om nie in trane uit te bars nie!Wat dit verder besonders gemaak het,is dat ‘n vriendin van Bruidjie die seremonie waargeneem het.Dit was nou werklik besonders om na hierdie mooi jong dame se pragtige boodskap te luister!
Die onthaal,die kos,die blomme,die geselskap…alles was net perfek.Ons kinders het dit ontsettend geniet en ek het ‘n pragtige seun bygekry.Ek wens net seun se ouers kon hierdie wonderlike dag saam met ons beleef en sien hoe gelukkig hul pragkind was!