Verdere verwikkelinge in die BLIXEM-sage

Nouja,manlief kom toe tuis met sy twee-dae-oud mens-pakkie en vinger-geborselde tande en vertel vir my hulle het speurder gespeel.Die plek waar die ongewenste inkopie gedoen is,was by ‘n splinternuwe Engen 1Stop oppad van Rustenburg af.Dis blykbaar naby Pretoria.

Op die garage se sekuriteitsfilm kan duidelik gesien word hoe manlief en kollega langs ‘n wit voertuig met vier insittendes parkeer.Hulle klim uit en dis duidelik dat kollega die motor sluit met sy afstandbeheerder.Hy en manlief stap kleedkamers toe met een van die insittendes van die wit motor,reg agter hulle,besig om op sy selfoon te gesels.Die wit motor ry en parkeer in ‘n wegkomposisie.Een vent klim uit,stap houtgerus na kollega se motor,haal die tas uit ,stap terug en siedaar die manne ry rustig weg met een van die dag se groot visse wat hulle gevang het!

Een se gesig is taamlik duidelik en hulle probeer die motor se registrasienommer sien.Nouja,ons hou nie asem op dat hierdie vuilgoed vasgetrek sal word nie.Intussen het skoonseun,wat ‘n rekenaarfundi is,al manlief se inligting geblok.Vir veiligheid moes ook alle pinnommers en kodewoorde by die bank verander word.Manlief is al heel oggend besig daarmee

Dis die nadeel van virtueel wees..alles is daarbuite vir almal om te sien!Dit maak mens eintlik bang!

Perdeby is nou ekstra die BLIXEM in!

Advertisements

Perdeby is die bliksem in!

Manlief bel my gisteraand laat van Dullstroom af,waar hy en ‘n kollega sou oornag.Gisteroggend het hulle ‘n myn in Rustenburg besoek en vandag sou hulle na nog twee ander myne gaan.Hulle het blykbaar iewers aandete geëet en toe hulle by die motor terugkom,is manlief se tas gesteel!

Daar is nie ingebreek nie. Nee,hulle was slagoffers van die skelm truuk wat nou al ‘n ruk lank ingespan word.Jy dink jy sluit jou motor,maar ta staan op ‘n afstand en de-aktiveer jou sluitsisteem met ‘n ander elektroniese aktiveerder..sommer net ‘n doodgewone hek- of garagedeuroopmaker! Dan maak ta die motor oop en verkas liefies waarmee hy wil!

Ek het self manlief se tas gepak (doen dit nie gewoonlik nie,hoor..maar hy was effe laat).Die verlies..twee splinternuwe onderbroeke,twee pragtige strepieshemde,sy toiletsakkie met alles in,denimbroek en kouse,sy Kindle en ergste..sy I-pad waarvoor hy so lank gespaar het!

Die aakligste is dat een of ander BLIXXXEMMM nou toegang het tot sy persoonlike foto’s,e-pos en alles wat mens op ‘n I-Pad het.Vandag moes manlief natuurlik ook met gister se klere en ongeborselde tande sy kliënte gaan sien!

Verskoon dat Perdeby so vloek,maar ek hoop die dr&& kry ‘n M@#%se kramp iewers!!

Besondere ervaring

Ek het vir twee weke van die radarskerms af verdwyn.Die rede hiervoor,was ‘n skielike besoek aan my dogter in Moskou.Dit was ‘n wonderlike ervaring en baie van my persepsies oor die “agterlike Russe” het in die stof gebyt!Ek het groot geword in die tyd van Kommunisme en Rooi Gevaar en nooit gedink dat ek my voete op daardie einste Rooiplein sou sit,waar Stalin op 1Mei jaarliks,met aansienlike fanfare die magtige Russiese weermag ten toon gestel het nie!

Nog meer ironies,is dat ek toevallig op 1Mei daar was en dat die eintlike feesvieringe op 9Mei plaasgevind het en bekend staan as Oorwinningsdag.Ek het ook langs die straat gestaan en die verbyvlug van besondere vliegtuie en die parade van magtige wapentuig  gadegeslaan!Ek het soveel gemengde gevoelens gehad en was weereens verstom hoe vining die geskiedenis kan verander.

Drie-en-twintig jaar gelede het Kommunisme geval en die ontwaking van ‘n moderne Russiese staat is oral sigbaar.In my volgende blogs sal ek bietjie meer vertel en foto’s plaas.