Vragmotorbestuurders en Grensposte

Mens is alte geneig om jou vreeslik te vererg vir hierdie “onkruidspesie”op ons paaie.Hulle ry die paaie stukkend,ry soos maniakke en stel motoriste gedurig in gevaar! Ek sien egter ‘n ander sy van hierdie hoogs uitputtende en senutergende werk.

Ons ry gereeld Namibie toe met die Transkalaharihoofweg deur Botswana.Vir diegene wat nog nie die pad gery het nie,dis lank..superlank!Eers karring mens vroegoggend deur die verkeer rondom Pretoria,totdat jy uiteindelik op die Bakwenatolpad beland,wat jou Rustenburg toe neem.Dis op sigself ‘n nagmerrie,want party plekke is daar tweerigtingverkeer.Meeste vragmotors ry dan in die noodbaan en padvarke jaag enige plek verby en druk soms hierdie arme bestuurders in benoude situasies in,bv waar daar skielik padvernouings sonder skouers is.Gelukkig is padbouers besig om ‘n dubbelweg te bou,maar dis tans nog ‘n riller.

Wanneer mens nou uiteindelik by die Skilpadhekgrenspos kom,loop die frustrasievlakke al redelik hoog.Daar was lankal al bouwerk aan nuwe grensposgeboue en alles is nou in tydelike strukture..karavaangeboue..smal met min beweegruimte,benoud en klein.Die afgelope vyf jaar lyk dit al so.Mens stap deur ‘n verwaarloosde ogiesdraadheining,wat slap soos ‘n hangmat hang en kies koers na ‘n piepklein geboutjie waar die tantes heerlik met mekaar gesels terwyl hulle die publiek blindelings “help”.As ek op so ‘n plek moes werk sou ek ook nie baie inspirasie tot diens gehad het nie.Intussen is alle bouwerk aan die nuwe kompleks gestaak en is dit amper toegegroei onder gras en bosse.

Ek wyk nou effe van die punt af,maar probeer net die prentjie skets wat ‘n vragmotorbestuurder op hierdie roete,elke dag deurmaak.Die gewone motors parkeer maklik ,maar die vragmotors staan in rye geparkeer.Hul goedere moet verklaar word,die vrag word deursoek en soms moet hulle selfs afpak.Waar ons relatief vinnig deurgaan,neem dit soms ure vir die vragmotors om deur te gaan.Hulle sit heeldag in die stof,son en hitte en het iewers ‘n baas wat hulle oor ‘n selfoon aanpor om gou te maak.

Hul vragmotor is hul blyplek.Ek het al ingeloer en gesien hoe klein en beknop die slaapplekkie is.Die sg.Truck Inns is ook maar yl gesaai en skraps ingerig,met wasgeriewe en toilette wat maar lekker vuil is.Gewoonlik is dit in son en wind en stof,waar die manne oornag..om van die eensaamheid nie eers te praat nie!

As jy nou deur SA se grenspos is,stop jy ‘n paar honderd tree verder om deur die Botswana grenspos te gaan.Hulle het beter parkeerplek en geboue,maar dis ook ‘n gespook om agter te kom waar jy eerste moet aanmeld.Waar jy moet betaal vir ‘n voertuigpermit,neem een transaksie langer as ‘n kwartier..ek dink die rekenaar werk met paraffien!As jy lewende hawe moet verklaar en jy is oopmaaktyd daar,jammer vir jou…jy moet wag tot halfnege vir die staatsveearts om uit die vere te kom!(Het hierdie keer maar deurgesluip met ons honde,want dit was donker en die hekwag was gelukkig ook nog in droomland!)

Ons knoop altyd ‘n geselsie aan met die vragmotormanne,wanneer ons in die ry staan en wag vir die perrefienkomputertjie om op te warm.As ons kla,is hulle maar kalm en rustig en lag maar net en trek skouers op.Dis deel van hul daaglikse werk en hulle aanvaar dit ewe gelate,tot ons skaamte.

Nou volg die oneindige lang pad deur Botswana.Spoedgrense word gehandhaaf,want as jy gevang word,betaal jy op die plek of dis die naaste polisiestasie toe met jou!Daar is ook heeltyd die gevaar van donkies,perde,bokke en beeste langs die pad.Wild spring ook soms voor jou in en selfs volstruise staan rustig en skrop op die padskouers.Dis tans baie droog,vandaar al die diere langs die pad.Stel jou voor ‘n vragmotor moet skielik uitdraai.Ons het dit al ‘n paar keer gesien waar vragmotors beeste getref en omgegooi is..eenkeer was die hele pad vol kissies drank.Daar was omtrent ‘n versameling mense wat “geskep” het!Daardie arme bestuurder kon nie eers ‘n botteltjie bier red nie.

Na ure der ure se ry,tref jy die grenspos tussen Botswana en Namibie.Hier gaan dit nie te woes nie en weereens is die geboue en parkeerplek redelik prakties uitgele.Die son trek nou al water,wanneer dit somer is.Wintertyd is dit al hoeka donker en glad nie slim om verder te ry nie.Die vragmotormanne parkeer net daar en span maar uit vir die nag.Geen geriewe,want die pos sluit en hulle moet maar buite langs die pad wag tot die volgende dag.Ons skel en raas oor die toiletpapier en gemors in die bosse langs die pad,maar ‘n vragmotorman het nie regtig veel van ‘n keuse as moeder natuur roep nie.

Die langpad Windhoek toe volg nou en die smal skouerlose,onegalige ryvlak met vele weiende vlakvarke in die padserwituut,kan in ‘n nagmerrie ontaard vir enige vragmotorbestuurder.Windhoek is nie noodwendig hierdie bestuurders se eindbestemming nie en sommige ry nog aan na Angola,waar paaie en grensposte baie bedenklik is.

Elke keer wanneer ek by Spar in Swakopmund vars tamaties van ZZC uit SA koop,besef ek watter poging dit van ‘n dapper vragmotorbestuurder vereis het!

Advertisements

26 thoughts on “Vragmotorbestuurders en Grensposte”

  1. ‘n Laaaaaang sit deur landskappe waar die f… hoog groei? Mooi geskryf. Ek het een stukkie klitsgras oor die verwaarloosde plekke. Waardeer en pas die mense dit op? Soos township skole waar die vensters stukkend is. Daar was eens op ‘n tyd heel vensters in. Dit maak van my ‘n mensis!

    Like

  2. Daai trans kalahari hoofweg maak dinge maklik vir vervoer tussen 3 lande….wel eintlik 4… As jy die N4 insluit wat Mosambiek ook verbind met die snelweg

    Like

    1. @zephur Dis waar,maar die grensposte laat regtig baie ruimte vir verbetering.Dit maak mens eintlik vies dat Skilpadhek in so ‘n vrot toestand is!Ek neem aan jy het al daardeur gegaan.

      Like

  3. Baie insiggewend vir my wat nog nooit deur ‘n grenspos was nie. Daar leer mens seker wat die woord geduld nou eintlik beteken. Lekker dat julle so baie kan rondreis en plekke verken en altyd is jou geweer byderhand om met jou lesers te deel. Ek het ‘n fantasie om met ‘n moerse groot trok(met ‘n slaapbank) deur die land te kan ry. Ek wil self bestuur ook. Die nuwes is amper luuks soos hotelle. Die geluid van die uitlaat wanneer die ratte verwissel en daai toeter!!!!!!!!!!!!!! Jou vertelling baie geniet, baie dankie. Bly ek het hierop afgekom

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s