Goeie Herinneringe

Dit sou vandag my ma se vier-en-negentigste verjaarsdag gewees het.Sy is al tien jaar oorlede en vanoggend het ek met ‘n knop in my keel aan haar teruggedink.

Sy was altyd ‘n doener,nie ‘n tipiese huisvrou- cum-ma nie.Inteendeel,sy het huiswerk,kook,bak en al die “wonderlike” vroulike geite wat van haar era se vroue verwag is,met ‘n passie gehaat.Jy sou haar nooit in ‘n voorskoot agter ‘n stofsuier gesien het nie!

Sy het BSc op Tukkies gaan swot.Dit was nie baie gewoon vir vroue in haar tyd nie.Tuks was toe maar ‘n klein universiteit met min studente.Sy het op Normaalkollege Pretoria se kampus gebly en ook later haar onderwysdiploma daar verwerf.Sy het altyd vertel hoe sy met een klein reistassie,een swart romp en twee wit bloesies en ‘n paar sykouse per trein vanaf Potchefstroom,na Pretoria gereis het.Hulle was bitter arm en sy was ironies die middelkind en enigste dogter van haar ouers,wat gaan studeer het!

Later jare het sy in Bantoe-onderwys beland en lank by Kilnerton Teacher’s Training College in Siverton,onderrig gegee.Dis hier waar sy ‘n deeglike kennis van swart mense opgedoen het en ons ook geleer het dat hulle net sulke mense soos ons is.Dit klink vandag baie vreemd,maar dis hoe dit daardie tyd gegaan het.Sy het soms swart onderwysers na ons huis gebring vir ete,maar ons moes stilbly daaroor,want sy sou maklik in ‘n tronk kon beland.

Dit was in die ontstuimige sestigerjare toe hulle as onderwysers baie keer deur woedende studente in die personeelkamer vasgekeer is.Soms is hul motors bekrap en bande stukkend gesny.Op ‘n stadium moes sy gewapend skool toe gaan.Dit was die broeiplek van die komplot wat later op Rivonia blootgelê is.Dis die tyd waarin Mandela en andere hul planne gesmee het om die regering omver te werp.

Ek onthou hoe hartseer sy was,toe die polisie van haar topstudente uit haar klas kom haal het.Hulle was uitgewys as aanstigters en was deel van ‘n groep wat een oggend al die onderwysers sou inwag en vermoor.Dit was ‘n aaklige tyd in ons lewens.

Daarna het sy Bantoe-onderwys vaarwel toegeroep en by ‘n Hoërskool gaan Engels gee.Sy was jare daar en ‘n baie gewilde onderwysere.Die kinders was mal oor haar.

Daar was nie nog iemand wat ek ken,wat soveel stories kon vertel nie.Haar kleinkinders het aan haar lippe gehang en om tien dik boeke in ‘n week te lees was vir haar kinderspeletjies.

Nouja,soos alles maar gaan,het die ouderdom haar ook ingehaal en vandag is haar opgerolde Onderwysdiploma en Graadsertifikaat en herinneringe al wat  oor is,van ‘n eens dinamiese mens!

Die lewe is kort en die merk wat ‘n mens maak is maar klein….

 

Aanvaarding

Uiteindelik sit Perdebytjie nou hier in haar volle ouma-“grandeur”! Ek “kuier”nou al van gister af by dogtertjielief en ons tweetjies doen die gestreepte-pakkie-dril,sonder om asem te skep! Gelukkig is dit ‘n maklike baba en die mammie hanteer dit goed.

‘n Mens besef net weereens hoe kwesbaar en afhanklik ‘n klein mensie is.Ten spyte daarvan,is die wêreld steeds oorbevolk.Ek kon dit nog nooit verstaan nie!

Nouja,nietemin,desnieteenstaande,overgesetsynde…dis piepie,poefie,eaty all day long…die knapie roep weer! Nog nie eers kans gehad om my kamera uit te haal nie!

Fluister..ek het nou die titel aanvaar! O..U..M..A!

Verslag

Uiteindelik het die dag toe aangebreek.Perdebytjie is nou amptelik ‘n pensioenaris (met die klem op die NAAR) en ‘n ouma,sommer so binne ‘n week.

Aanvanklik was sy gekant teen die ouma-titel,maar na vanoggend se gebeure,het sy besluit,dis nogal nie te onaardig nie!’n Pragtige gesonde ou seuntjie word toe hier teen twaalfuur se stryk in haar arms gedruk en ouma Perdebytjie zoem die hele wereld vol!

Sy is nog net nie baie tevrede met die p……NARIS-titel nie,maar ‘n afslaggie hier en ‘n afslaggie daar,sal seker haar ontstuimige gemoed sussss!

Gemengde gevoelens

Julle,ek word Donderdag vir die eerste keer ‘n ouma.Ek weet nie of ek moet lag of huil nie.Lag van blydskap,of huil,omdat ek besef daar is onherroeplik ‘n deel van my eie lewe verby!Ek wil nie oud wees nie….die ouma-titel,laat my kop spin en iets insink,waarvan ek glad nie hou nie!

Julle wat al die paadjie geloop het,miskien weet julle waarvan ek praat.Wanneer ek die bondeltjie in my arms hou,sal die legkaartstukkies van my skielike depressie,lag,huil,hartseer,blydskap,angs,vertwyfeling en sommer baie vreemde,onbekende,onnoembare emosies,dalkies inmekaar pas?

Sjoe,ek hoop so,want ek voel half abnormaal…..abnorMAL!