Troeteldiere kan soms…..

eienaardige vorms aanneem! Ek het juis so ‘n paar vreemde siele op my troetellysie.Dit val natuurlik nie in almal se smaak nie en sommige mense gooi maar ‘n wye draai om hierdie “gunstelinge”!

370
Ek is mal oor streepmuisies.
IMG_6311a
Reenspinnekop in my agterplaas.Ek sien hom elke aand en beskou hom as ‘n troeteldier.

Dan is daar die meer aanvarbare troeteldiere wat onder mens se vel inkruip!

_MG_4645
Dexter,my kinders se Airedaleterrier
_MG_2979
Carma,my seun se Bokser
_MG_2993
Vasco,lyk altyd of die honde sy kos afgevat het!

Musiek..pes of plesier?

Daar is musiek en mu-SIEK. Die eerste soort is daardie tipe klank samevoegings wat perfek tot die sinne spreek en jou meevoer na ‘n heerlike geesteswêreld.

Die mu-SIEK is daardie oorpyn-en irritasiemusiek wat orals teen mens se sin aan jou opgedwing word.Wanneer ek in ‘n klerewinkel kom,is ek nie lus dat die vals nood(t)krete van ‘n “kunstenares”met ‘n vlymskerp blêrstem,my oordromme opkerf nie.Ek wil in stilte my klere uitsoek en aanpas.

Dan is daar die liewe “agtergrond” musiek,waar die desibels so hoog is,dat dit ‘n vegvliegtuig,wat deur die klankgrens bars,na ‘n sagte briesie laat klink.Tussen die lawaai deur,moet mens kuier en ‘n gesprek probeer voer.Dis veral jaareindepartytjies wat hulle hieraan skuldig maak.

Die grootste pyniging is definitief daardie eentonige geprate “musiek”(Rap).Dit voel of iemand  boor en boor in my brein in en net as ek dink dis verby,dan dril die boor vir ‘n laaste encore,nog so vyf tot tien minute langer tot binne in my breinstam!

My doodsteek is wanneer iemand van sy “baby” sing.In Engels of Afrikaans klink dit ewe vertraag.

Wanneer ek hierdie tyd van die jaar ‘n winkel ingaan,kners ek op maat van Jingle Bells,Rudolph the Rednose Reindeer en Little Drummer Boy,dat my tande agterna los en stomp voel.

Opgezoepte karre wat lyk of hulle asemhaal van die woeste klankgolwe wat kloppend teen die bakwerk timmer,is een van my padnagmerries.

Elke diertjie het sy plesiertjie en elkeen se musieksmaak verskil,maar moet dit net nie op ander afdwing nie.

 

My oudste en nuutste speelding

Herman Beertjie is een van my paar kosbaarste besittings en hy word vandag nog soos ‘n kleinnood opgepas! Soos ek reeds in my vorige pos genoem het,het ek ‘n Nederlandse ouma gehad,wat ek nooit ontmoet het nie.Sy het hierdie beertjie as ‘n geskenk gestuur toe ek gebore is.Saam met ‘n gegrafeerde mes,vurk en lepelstelletjie, is dit die enigste geskenke wat ek ooit van haar ontvang het.

Die knapie lyk effens motgevreet,maar is verder in ‘n redelike goeie toestand.Die kleertjies wat hy aanhet,het ek in standerd drie gebrei,toe skoolkinders nog geleer is om handwerk te doen.Ek onthou nog hoe die juffrou baie keer al die harde werk van die breipenne afgepluk het en ek weer van vooraf moes begin!Dit was maar nodig,want ek het so baie steke laat val,dat die ding soos ‘n sif gelyk het.Daardie tyd het ek lang trane gehuil,maar vandag is ek nie spyt dat ons geleer is om met net die beste tevrede te wees nie.Nodeloos om te sê,tot vandag toe haat ek dit om te brei..nou ja,dis ‘n ander storie daai!

Ons bure se dogters het ook beertjies gehad en een van hulle s’n se naam was Herman.Kinders volg mekaar altyd na,dis hoekom Herman Beertjie vandag nog Herman Beertjie is,al haat ek die naam.Ek hoop nie ek vat nou iemand in die gesig nie!

IMG_0549a
Herman beertjie is al sestig jaar oud en ek pas hom soos goud op!

My nuutste speelding is………taraaaaa!………..tromme…….verspotte ouma!!

IMG_0516
Vandag elf wekies oud
IMG_0474
Begin nou mens word!

Ouma se reukwaterbotteltjie..vir Godiva

Hierdie botteltjie kom al ‘n lang pad….

My Nederlandse ouma het dit as jong vrou present gekry by my oupa.Ek het nooit die voorreg gehad om hierdie twee mense te leer ken nie.Hulle was maar altyd vir my Oupa en Ouma Holland…twee vae figure waarvan ons net vergeelde foto’s gehad het.

My pa was een van vyf kinders en Oupa was ‘n skeepsingenieur en selde tuis.Werkskaarste het my pa laat besluit om groener weivelde in Suid-Afrika te kom soek.Na ‘n skeepsvaart van twee weke,het hy in 1936 in Kaapstad voet aan wal gesit.Dit moes vreeslik gewees het vir sy ouers,want die wêreld was nie daardie tyd so klein soos vandag nie.Hy het nooit weer sy pa gesien nie en slegs eenkeer na vyf-en-twintig jaar vir sy ma gaan kuier..sy is kort daarna oorlede.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hulle ontsettend swaar gekry en my pa se oudste suster met haar man en dogter(my niggie) het net na die oorlog ook Suid-Afrika toe gekom.Dit was die jaar 1950.As afskeidsgeskenk het Ouma die leë botteltjie vir my niggie gegee.Ons is altwee Ouma se naamgenote.My niggie is 25 jaar ouer as ek en begin ook nou links en regs haar goed weggee.Dis hoe dit toe nou kom dat sy vir my die botteltjie gegee het.

Al is dit miskien nie veel werd nie,is dit my enigste band met ‘n ouma wat ek bitter graag sou wou ken.Dit voel of daar ‘n stuk van my is wat ek nooit sal verstaan nie…hulle sê mos bloed is dikker as water!

IMG_0415a
Glasbotteltjie met regte goud insetsel en piepklein glasproppie.
IMG_0398a
Die botteltjie langs sy kissie.Dis pikswart en met fluweel uitgevoer.Dit lyk soos ‘n doodskissie.