Vasco en sy handsak.Spesiaal vir….

@ladygodiva My seun se Bokser kuier vir twee weke by ons en dis nogal ‘n probleem met my klein Schnausers,wat hom nie ‘n straaltjie son oor sy kop gun nie!

Aanvanklik was hulle hondverskrik vir die reuse lummel,want met ‘n pootklap het hy vir Tienkie onderstebo gerol.Hy wou regtig net speel.Frankie hang heeltyd soos ‘n bloedsuiende vampier aan Vasco se oor,as hy dit naby my of Tienkie waag!Na weke se droogte reën dit heerlik,maar skep dit nogal drama met die woewe.Dan moet dié een hier toegemaak word en daardie een moet daar uitgaan,dis ‘n organisasie met kosgee en wie se koppe gevryf mag word en wie s’n nie! Boonop moet die telers,tuinier en huishulp ook in gedagte gehou word.Dus ‘n hele beplanningseremonie om almal uit almal se hare te hou!

Vasco is die dierbaarste siel en so gehoorsaam,maar twee beskermende,keffende,gillende (hulle gil regtig) Snauchies gaan nie sommer besgee aan hul status in hierdie huis nie!

Uit radeloosheid het Vasco my dogter se handsak ingepalm en dit lê en oppas asof dit sy eie is.Wat is dit tog met Boksers en handsakke?

IMG_1478
Moenie nader kom nie,dis nou myne!
IMG_1482
Bewaar die een wat my handsak steel!

 

Advertisements

Strepe en patrone…

Ek is besig om ‘n berg papiere te versnipper.Aan die begin van elke jaar sorteer ek al my bankstate,mediese vorms en al die ander pampiergeite uit.Ek hou net twee jaar se goed en die res gaan in die oranje sak.My snippermasjientjie is piepklein en na elke tien papiere,gee hy ‘n bloedstollende gil,as sy maag te vol word.Dan moet ek eers die papierderms uitryg en in ‘n ander sak leegmaak.Dit vreet my tyd op en van die vooroor buk,sien ek strepe en patrone voor my oge verbyflits….seker maar bloeddruk en ergerlikheid gekombineerd.

Wou net bietjie rus en die masjientjie ‘n blaaskans gee…gaan nou weer “werk”…sooo vervelig!

IMG_1476
Agterste sak nog vol papier.Voorste ene klaar gesnipper.Moeg masjientjie en snippermandjie met al die krammetjies,wat ek sommer uit die hoekies van die dokumente skeur…het nie nog lus om een van daardie kramtweezertjies te gebruik nie!

Oumas…vir

@twaksak. Na aanleiding van Twakkies se steelfoto van die mooi ouma,moet ek met hom saamstem dat sommige oumas vandag nog absoluut pragtig lyk.Dis tog asof vrouens in hul middeljare meer besorgd is oor hul lywe,gereeld oefen,die kleurselbotteltjies langer gebruik en koebaai gesê het vir ou-tannie skoene en rokke met geplooide rompe.

‘n Mens hoef regtig nie grys te wees,solank as wat jou kopvel ,sonder allergiese reaksie,die kleursel kan uitstaan nie.Totdat ek die dag met dik geswelde oge en knoppe op my kop sit,gaan die botteltjie verf,deel van my “toilet” (spreek asb uit: TWALY…pinkie in die lug) wees!Perm en stywe krulletjies hoort vêrweg in die vorige eeu en haarkappers wat hierdie style uitvoer,moet hewig beboet word.”Purple Rinses” moet nie eers meer in enige woordeskat bestaan nie!

Daardie plat,dienlike Dr Skollie- en Groenkruis bote,is ‘n besliste nee! Ek weet dis gemaklik en gesond vir die voete,maar ai tog,dit doen niks vir elegansie nie.’n Mens hoef nie swik-swik op spykerhakke of platvorms te balanseer nie.Daar is allerlei mooi sandale,wat gemaklik aan netjiese,goedversorgde voete pas.Gepraat van voete…gebarste hakke,toonnaels wat oor skoenpunte hang en ‘n ritme uitklik op die vloer,is heeltemal taboe!

Meeste oumas worstel met voller figure,as toe hulle ‘n paar jaar jonger was….blykbaar is dit hormone,of so iets?Dit hoef egter nie die stylvolle ouma te dryf,om haar lyf in ‘n geplooide romp in te prop om dan soos ‘n wapperende sirkustent,asemhaal-asemhaal wind te pomp nie.Lekker styvolle langbroeke en denims,is oral beskikbaar.

Moderne oumas moet asseblief nie probeer lyk soos tienermeisies nie.Daar is niks so lelik soos getênde (lees uitgedroogde),wapperende bo-arms,wat mouloos elke kolletjie en plooi blootstel nie…om nie eers te praat van opgedrukte boesempies met ‘n kloof so breed soos ‘n snelweg nie.Ek mag al hierdie goed skryf,want ek is self ‘n ouma!

Eintlik wou ek net ‘n paar foto’s van my kleinkind plaas,toe rangeer ek na ‘n ander spoorlyn….

IMG_1443IMG_1439IMG_1446

Lig…..

kan die mooiste kleure op donker wolke verf,deur die digste mis beur en die landskap prentjiemooi laat lyk, wolke met silwer randjies skep….

_MG_1088
Sonsondergang,Swakopmund.
_MG_0948
Vroegoggendmis by Bloedkoppie,Naukloof Nasionale Park.
_MG_9153
Sonstrale vreet aan miswolke,Ugabrivier omgewing,Damaraland.

 

Handsakstories vir Godiva

Hier kom interessante goed na vore,as die bloggeresse of bloggerinne (ekskuus,deesdae word daar mos beswaarlik gebruik gemaak van die vroulike vorm!) hul handsakke so uitdop in die virtuele ruimte.Ek het nog nooit erg gehad aan handsakke nie en het dit nog altyd bloot gesien as ‘n pakplek vir noodsaaklike goed soos beursies,brille,penne ensovoorts.Ek onthou nog die dae toe vrouens selfs hul skoene en handsakke bymekaar laat pas het.Skoene is soms oorgetrek met dieselfde materiaal as waarvan die handsak gemaak is.Dis was sekerlik baie sjiek en modieus,maar ek kon nooit vatkry daaraan nie.Daar is egter niks mooier as ‘n pragtige handsak nie en ek verkyk my soms aan die vrouens met hul goeie smaak.

Deur al die jare heen,kon ek nog nooit vreeslik opgewonde raak oor ‘n handsak vir myself nie.My enigste vereiste was nog altyd dat dit prakties moet wees,by alles pas,nie reusagtig nie en die binnewerk moet ‘n ligte kleur wees.Swart binnegoed laat my dink aan die oerknal…voor tyd en ewigheid,want jy skrop oneindig in die duisternis rond,om iets raak te vat.Ongelukkig is meeste handsakke pikswart binne en daarom het ek ‘n plan gemaak en vir my ‘n ligkleurige binnegoedjie,wat jy van sak na sak kan oorplaas,aangeskaf.

Ek dink ‘n handsak vertel tóg iets van ‘n vrou.As mens bietjie loskop is,kan daardie handsak in ‘n warboel van implimente,strokies,papiertjies en onnodige goed,ontaard.Perfeksioniste se handsakke word fyn beplan,elke dingetjie op sy plek.Minimaliste dra net die noodsaaklikste saam.Die elegante,modieuse vrou dra ontwerpershandsakke,wat pas by elke geleentheid.

Nou blerts ek maar my handsakgeheime ook hier uit.Ek besit presies tweetjies,baie lelikes,maar prakties.Met die een reis ek en die ander een is elke dag se sak.Wanneer hulle gaar gedra is,gaan soek ek weer ewe oninteressante,maar praktiese goed uit.

IMG_1413
My swart dienlike sak langs my seilerige reissak,saam met die binnesakkie,wat ek baie ordelik hou met die volgende:kam,tandevlos,sonroom,handewasmiddel,liniaal,
potlood,uitveer,twee penne,sonbril,selfoon.Hierdie sakkie plaas ek net so oor na my ander handsak.Voor in die middel is my kaarthouertjie,brilhuisie met bril en sleutels.In een van die zipsakkies kom my kontant en in ‘n ander een,die papiergeld.

 

Carpe ….

Diem kry nuwe betekenis,wanneer ‘n mens na die natuur kyk.As jy nie vroeg opstaan nie,mis jy daardie eerste goggatjie,wurmpie of hasie vir ontbyt.Die res van die dag is daar nie tyd vir leeglê nie,want jy kan self iemand anders se maaltyd word.Op die hitte van die dag sit jy hopelik iewers onder of in ‘n boom,met jou waaksaamheid wat nooit mag verslap nie.

Natuurlik is jy bedeeld met die regte gereedskap wat aangepas is vir die omstandighede waarin  jy woon, hetsy dit groot tande,skerp naels,kamoefleerjassie,saagtande,skeurtande,spiessnawel of wat ookal is.Jou fisiese bou het alles te doen met jou kanse op oorlewing en die stadige,lomp,gebreklike,siek wese,het in die natuur geen kans op ‘n lang lewe nie.

Met die moderne mediese wetenskap,het die mensdom hierdie deel redelik onder die knie,vandaar ook een van die redes vir die ontsaglike oorbevolking van ‘n kreunende aarde!Natuurlik word alle slegte gene aanmekaar voortgeplant,want die swak gene kry nooit kans om op ‘n natuurlike manier uit te faseer nie.Dit klink sleg in mens-terme,maar dis waar die mens teen die natuur werk en die balans versteur.Ek is steeds dankbaar vir die moderne wetenskap,anders het ek al op tienjarige leeftyd, die ondermaanse met ‘n gebarste blindederm verlaat!

Ek plaas foto’s van ‘n paar noodsaaklike wapentjies om in die natuur te oorleef!

Tande om mee te skeur en te verskeur (foto by manlief gesteel)
_MG_1185c
Naels om mee te vang,te verskeur en oop te skeur.
_MG_1185
Vlerke om mee te vlieg en te vlug.(Swartaasvoel)

 

Verrassing in die woestyn

Ons was vanoggend vir ‘n rit deur die Naukloof Nasionale Park.Dis horingdroog,maar steeds het ons plate springbokke,gemsbokke,Hartmann zebras,volstruise en swartaasvoëls gesien.Skielik sien ons hierdie vreemde verskynsel…’n spierwit springbok! Dis nie ‘n goeie foto nie,want die lig was vreeslik hard en die bok was bietjie vêr.Ek wou dit egter met julle deel,omdat dit eintlik ‘n seldsame verskynsel is.’n Mens wonder hoe hy dit reggekry het om so lank te oorleef,want hy lyk heel gesond en goed aangepas!

_MG_1220
Ek moes die foto baie crop,dus bietjie kwaai pixellasie.(hoop dis die regte term)
_MG_1220b
Albinisme is redelik seldsaam en dis die eerste keer dat ek so ‘n springbok sien.