Dis weer daardie tyd van die jaar…borskankermaand en mammogramlyding!
Vriendin en ek het Woensdag sommer saam gegaan na die borskliniek in Linksfield.Ons was omtrent gespanne,maar met ons aankoms in hierdie vriendelike huis,het die personeel ons sommer gou tuis laat voel.My vorige ervarings was by gewone hospitale se X-straalafdelings en dit was maar worsmasjiene en koue onpersoonlike behandeling.
Hier is ons in netjiese skoon,pienk japonnetjies aangetrek en die wagtyd was regtig kort.Die dametjie wat die mammogram gedoen het,het dit met deernis en respek hanteer en vir geen oomblik het ek te ongemaklik gevoel nie.
Ongelukkig,wys daar toe ietsie aan die regterkant…reeds ‘n vorige keer ook ‘n probleem daar gehad,wat toe darem nie ‘n probleem was nie.Net daar en dan doen die dokter…klein vroutjie met groot bril en baie professioneel..’n biopsie.Mensig,ek het my flou geskrik,maar met gerusstellende woorde van die assistent se kant en ‘n presiese verduideliking van hoe die affêre werk,sluk ek toe maar ‘n paar knoppe weg en staal my vir die martelinstrument.
Nou ja,inspuitinkie (of is dit tjie?…ek het skoon my spelvermoë weggeskrik..weet ook skielik nie of vermoë een of twee e’s het nie!) in daardie sagste van sagte plekkies en alle gevoel is weg.Toe word die pinkie-dikke-instrument versigtig gesteek tot by die geknopte!Ek volg alles op die skerm en verwonder my aan die moderne tegnologie.Skielik is daar ‘n harde knal,soos wat die instrument ‘n stukkie van die ongenooide gas,afknip.Die proses word weer herhaal en nog ‘n stukkie verdwyn in ‘n botteltjie vir patologiese ondersoek.
Ek het effens geklappertand van die skok,maar met bemoedigende woorde,’n heerlike koppie tee en ‘n yspakkie op die teerste van teerplekkies,is ek sitgemaak in ‘n lekker sagte stoel.Nadat die dametjie seker gemaak het ,ek is kalm,is ek en vriendin daar uit.
Nou is dit net wag en hoop vir die beste.