Ontdek die wêreld…

deur die oë van ‘n kind.

Ek pas nou al vir drie dae lank kleinseuntjie op.Dis nou die eerste keer in sy veertien maande lewetjie wat hy alleen kom kuier het.

Ouma laat hom toe om aan alles te vat en te kyk,natuurlik onder streng toesig.Dis ‘n hele ontdekkingstog,as die ou pofferhandjies die kasdeure oop en toe maak,die honderde oorpluisies uit die houer gooi en voel-voel aan die tekstuur.Daarna mik dit spelerig na sy snotterneusie en die ogies glimlag ondeund in my rigting.Oupa se skoene is ook uitgepak en hy skuif so skelm- skelm na die muurprop om te peuter waar hy nie moet nie.Ouma hou hom met ‘n valkoog dop en net een NÉÉ! laat die mannetjie skater,want hy weet goed dis verbode terrein.

Buitekant trommel hy teen die gasbottel en dit klink soos ‘n regte Afrika toi-toi in die agterplaas.Die posbus se deurtjie wat toegehou word met ‘n skroefie,trek groot belangstelling.Die lompe aspersievingertjies wikkel en woel die skroefie los en dan meet en pas dit om weer die gaatjie te kry.As dit nie dadelik werk nie,gil hy van ongeduld,maar probeer en probeer oor en oor,tot ouma wil omval van moegheid.

Daarna vat knapie die pad straataf op waggelbeentjies en hy weier om ouma se hand te vat.Dit goe! en gaa! soos hy vertel en kyk na alles om hom.Elke blomstingel en takkie word bekyk en bevoel en grassies word afgepluk en in ouma se onwillige mond geprop!Pienk handjies word pikswart soos hy modderbolletjies rol,proe,uitspoeg en na ouma kyk vir goedkeuring.

In die kombuis is die blink koffiepot met skarnierdekseltjie, ‘n gerieflike simbaal en ouma se kookboeke word tot aaagter in die rakkie teruggestoot.Die skottelgoedwasser se oop blink deur is ‘n lekker stoel terwyl die seephouertjie se deksel oop en toe gewikkel word.In my dag des lewens sou ek nooit my kinders toegelaat het om dit te doen nie.Nou sien ek die wonder van ontdekking en laat alles toe onder toesig.Dis ook die gouste manier om nuuskierigheid te bevredig.

Die hondehokkie is ‘n geheimsinnige plek en daar word ingekruip en uitgeloer met ‘n  glimlaggie van verwondering.Ek sal later ‘n foto plaas.

Seuntjie gaan vanmiddag huis toe en ouma gaan op die katel lê met ‘n erge rugspasma en ‘n regter armspier wat voel of dit geskeur is!

Ontmoetings met besondere bome deel 5

Die mees besondere bome waarmee my lewenspad gekruis het,is versteende reuse wat oeroud is.Dertig minute wes van die dorpie Khorixas,kan mens gaan kyk na hierdie versteende woud.Die bome is iewers anders ontwortel en meegesleur deur vloedwaters,bedek deur modder en slik en later ontbloot deur erosie.Hulle ouderdom word geskat op 200,000jaar.Hier is gidse wat die storie aan jou vertel en toesig hou dat geen stukkie van die bome weggedra word nie.

_MG_3626
Versteende boom in bewaringsgebied naby Khorixas.Let op die welwitsia aan die bokant.

Verder het ons op ‘n eensame plek,Klein Gai Aus, op ‘n onbewaarde klomp bome afgekom..heel waarskynlik van dieselfde bome,wat miljoene jare gelede net verder ondertoe gespoel het.

063
Iewers in die omgewing van Klein Gai Aus, lê hierdie stompe.
058
Duidelik sigbaar hoe die bome deur erosie blootgele word.
059
Naby Klein Gai Aus.
054
Wat ‘n wonderlike voorreg om te sit en tob oor hierdie boom se herkoms en om te probeer uitpluis hoe lank gelede 200 000 jaar is!

Verlate grafte

Ek het ‘n ding oor begraafplase.Dit laat my altyd so rustig-hartseer voel as ek by ‘n grafsteen staan. Ek weet nie of dit die stilte,die eensaamheid,die geruis van die wind deur ou bome of sommer net die finaliteit van die lewe is,wat my so aangryp daar tussen die rustendes nie.

In Namibie is baie sulke verlate plekke met ‘n grafsteen of twee.In my omswerwinge het ek dit vasgevang,terwyl ek half hartseer-nostalgies staan en tob het oor wie se lewe hier was.

_MG_9782
Hierdie grafstene is by De Riet,blyplek van die ontheemde Riemvasmakers,waaroor ek reeds geblog het. Wanneer mens die woestynolifante soek,is mens amper verseker om hulle hier te kry.
_MG_9774
Die kinderlike eenvoud van die grafsteengeskrif het my aandag getrek…ook in De Riet se begraafplaas.
_MG_9773
Ook in De Riet se begraafplaas.
_MG_9974
Iewers,diep in Damaraland is hierdie verwaarloosde verlate rusplek.
_MG_9973
Die skrif is weggekalwe deur die elemente.
_MG_9969
Een van die drie graffies doer in Damaraland.
_MG_9970
Geen woorde is nodig om te besef dat alle mense smart ervaar met die afsterf van ‘n geliefde.
_MG_3828
Ek het voorheen al hierdie een geplaas.Dis in die Dorob Nasionale Park,naby die Maanlandskap.’n Jongman het hier verongeluk op een van daardie vierwielgedoentetjies.
_MG_3438
Verlate op die Skedelkus,naby Terracebaai.Ek vermoed die persoon het verdrink.
_MG_0231
‘n Vreemde eerbiedigheid wat aan iemand getoon is.Ek het reeds hierdie foto lank terug geplaas.
_MG_9971
Geskenkie uit die hart aan ‘n geliefde.

Ontmoetings met besondere bome deel 4

By Bloedkoppie,in die Naukloof Nasionale Park,staan ‘n pragwoud van Kokerbome.Vir my is dit een van die interessantste plante.Dis nie eintlik ‘n boom nie,maar wel ‘n stam-vetplant…so genoem want dit dra water in sowel die stam en blare.Dis ‘n aalwyn en staan bekend as Aloe Dichotoma.Ek het alreeds oor hierdie uitstappie geblog in Desember 2013.https://perdebytjie.wordpress.com/2013/12/20/n-voorsmakie/ asook https://perdebytjie.wordpress.com/2013/12/19/heelhuids-terug/

_MG_0966

_MG_0959

_MG_0973
‘n Naby kykie van die pragtige bas.
_MG_0854
Laatmiddag met goue lig.
_MG_0963
Vroegoggend met mis wat inrol.
_MG_0978
Gevalle boom met Bloedkoppie en mistige agtergrond.Die koppie word regtig so rooi,vandaar die naam.
_MG_0979
By elke boom-avontuur,is daar ‘n tent betrokke.