Voordat die ou jaar finaal sy laaste asem uitblaas,wil ek bietjie keel skoonmaak en kerm oor iets wat my lankal pla.
Gisteraand was ons by ‘n uitstekende vertoning,tussen duine,aan die rant van die see,met ‘n bloedrooi sakkende son.Die kunstig aanmekaar getimmerde verhoog is deur ‘n vriend van ons geskep..voorwaar ‘n pragskepping in die woestyn.Die kunstenaars…plaaslike jong mense…dansers,paaldansers (nie die soort met seksuele konnotasie nie,maar wel drie sterk jong meisies wat kunstig teen die pale opklouter en toertjies uithaal) dromspeler,’n sangeres en vuurdansers.Dit was ongelooflik mooi gedoen.
Die vuurdansers was besonders en het ons op die tone gehou met hul kunstige rondswaaiende vlamme.Dis moeilik om te vertel wat hulle presies doen,maar in die donker woestynaand,was ons soos motte om ‘n kers nadergetrek,deur die fassinerende spel van vuur en lig.Een jong man het kort-kort vloeistof uit ‘n bottel geneem en dan hemelhoë vlamme geblaas om die drie dames,wat met ongelooflike vaardigheid hul vlamme rondswaai,aan te vul.
Maar o wee,wat ‘n onopgevoede skare!Opstaan en rondloop terwyl items aan die gang is,vieslike aanmerkings op die mooi meisies,rassistiese aanmerkings toe die tromspeler sy item lewer…aijaijai!Ek het my kop in skaamte laat sak vir die meestal Afrikaanssprekende Namibiërs.Ek wil nou nie almal onder dieselfde kam skeer nie,maar sowaar,het hierdie mense nog nooit gehoor van respek toon teenoor kunstenaars wat hard werk om besondere vermaak te lewer nie?
Natuurlik het drank ook ‘n rol gespeel.Dit was saam met kos te koop en vir sommige was dit seker die hoogtepunt.Hier wil ek veral die mans bykom…Ekskuus vir dié wat nie so maak nie..Dis opstaan en dopkoop,kom sit en drink dop,dan opstaan en toilet toe..opstaan,dop,sit,opstaan,toilet toe..ad nauseam.Dit terwyl die kunstenaars hulle siele uitstort op die verhoog.
Hierdie tendens merk ek oral op.Blykbaar dink mense dat vertonings net agtergrond musiek is en ‘n lekker jol impliseer.Mens sien dit by al hierdie sogenaamde feeste..lekker loslit sing,dans,en doen wat jy wil.Ek is nie teen pretmaak nie,maar daar is ‘n tyd en plek vir alles.
Is ek nou te preuts.Wat dink julle?