Die storie begin so..

omtrent middernag,skrik sy wakker van ‘n gehamer aan haar sinkmakoekoe se lendelam deur.Met die oopmaakslag,word sy begroet deur ‘n woedende man wat sy hygende dogter vashou en vuur spoeg in haar rigting!Half deur die slaap probeer sy sin maak van die situasie.

‘n Kraampyn skeur deur die dogter se liggaam wat haar laat haar gil,terwyl die pa die saadsaaier se bloed hier by haar kom soek.Verward wonder sy wat aangaan,maar as haar seun agter haar praat,word sy yskoud en die legkaartstukke pas inmekaar.Woede en verwyte gaan nie nou help nie,want die meisiekind moet hulp kry.Die pa is meer besorgd oor die skande,as oor sy dogter se welstand.

Die ouma in wording is net so geskok,maar organiseer vinnig haar buurman se lendelam bakkie,om die meisie by die hospitaal te kry,waar klein Surprise  gillend die lewe binnekom.Sy is stom geslaan oor die situasie en woedend vir haar seun.Hoeveel keer het sy hom nie al gewaarsku teen juis hierdie soort van ding nie!Ergste van alles,dis ‘n skoolmeisie en hy is ook skaars nat agter die ore en boonop werkloos.

Nou volg dae van verwyte,woede,mooipraat en aanvaarding van die situasie.Die paartjie sukkel om aan te pas,want die meisiekind moet skool opgee en haar pa soek die nuwe skoonfamilie se bloed.Intussen sorg die bybie vir slapelose nagte en die nuwe ouma se werkgewer ondersteun met doeke,klere,kombersies en raad.Sy probeer die nuwe ouma moed inpraat en oorreed dat haar woede nie die situasie gaan verander nie.Die bybietjie is nou die belangrikste.

Skielik is daar “damages” van R10 000 wat van haar seun geëis word.Dis dreigemente en beskuldigings,ten spyte van die feit dat die mannetjie volle verantwoordelikheid aanvaar en aanbied dat sy ma die babatjie sal versorg dat die meisiekind kan klaarmaak met skool.Hy het intussen werk gekry en op aanbeveling van nuwe ouma se werkgewer,teken sy en meisiekind ‘n ooreenkoms,dat ouma die babatjie sal versorg vir die jaar.Mens weet nooit wanneer sy beskuldig word dat sy die kind gesteel het nie!

Ouma word aangeraai om elke strokie van elke uitgawe en die creche se onkoste,te bêre vir latere verwysing.Ouma se “damages” beloop in die jaar baie meer as R10 000…natuurlik met die hulp van haar werkgewer ook.

Soos Surprise groter word,gaan dinge beter en seunskind en sy boeties en sussies raak ontsettend geheg aan die knapie.Seunskind is ‘n goeie pa,wat omgee vir sy kind.Die meisiekind verneuk hom om elke draai en die verhouding is op die rotse. ….word vervolg…

Perdeby is op ‘n slegte plek….

Gaan asseblief verby as jy nie lus is vir treurmares en negatiwiteit nie.

Hierdie skryf ek bloot vir myself om my kop skoon te kry.

Ek voel die afgelope tyd soos ‘n stoompot wat wil ontplof! Ek het gister besef verskeie faktore het daartoe gelei.Toe ek vir die soveelste keer in die verkeer vassit en te doene het met padvarke,voel dit of ek ‘n padwoede aanval gaan kry,wat ‘n kroeggeveg na ‘n romantiese orgie sal laat lyk.

By nadere ondersoek besef ek dis opgekropte angs en woede en dis heel waarskynlik,waaraan meeste Suid-Afrikaners ly.Ek is so gedesensiteer om te probeer oorleef en positief te bly,maar soms moet mens eerlik met jouself wees en die waarheid in die oë kyk.

Ek noem ‘n paar faktore wat die laaste tyd Perdeby se vlerke laat verskrompel het,tot waar sy nou in ‘n bondeltjie sit en galbraak!

Afgesien van al die gemors in die land,waarmee ons daagliks gebombardeer word…korrupsie,oneerlikheid,armoede,bedelaars wat mens op elke straathoek verswelg,kragprobleme,dreigende grondeise,paloeka politici…ag die lysie is bekend en oneindig…het ‘n paar baie slegte goed in my nabye kring gebeur.

‘n Goeie vriendin se man is twee weke terug deur ‘n agressiewe werker,met ‘n pyp doodgeslaan.Sy was skaars twee jaar met hom getroud,nadat haar vorige man selfmoord gepleeg het.Waarom,waarom moet een mens ‘n tweede keer deur so ‘n trauma gaan? Dis een van die redes hoekom ek nie in ‘n persoonlike god glo nie,want hierdie tipe van aaklighede gebeur heeltyd.Waar was God in hierdie saak?Hiermee wil ek asseblief nie op tone trap nie en ook nie ‘n debat ontketen nie.Ek skryf net oor wat ek waarneem.

Verlede naweek is my suster se kind,wat amper soos my eie kind is,deur twee barbare aangeval.Hulle wou sy selfoon gryp.Hy het verbete teruggeveg en hulle goed gedonner.(Perdeby vloek nie graag nie,maar dis ‘n ontlading vir my opgekropte woede!)Die arme kind (38jaar oud,maar steeds ‘n kind in sy tannie se oë)het hier aangekom,want ons het Ouma se negentigste verjaarsdag by ons huis gevier.

Toe hy die familie sien,het hy in trane uitgebars en so groot soos hy is,gesit en snik.Hy was die ene bewerasie,vol blou kolle,krapmerke,blouoog,skewe bril,’n reuse swam op sy arm,waar een van die bliksems hom gebyt het,wurgmerke aan sy nek…ag ek huil sommer.Altwee sy vuiste was potblou,soos wat hy die drelsels gefoeter het.Hy het ook ‘n paar byte ingekry en moes antiretrovirale medisyne by die hospitaal kry om vigsbesmetting te voorkom.Dis vir my die vieslikste van alles…dat mense soos diere mekaar byt en krap!

Ek is gewoonlik ‘n baie positiewe mens,maar iets het net gister in my geknak,toe ‘n vriendin langs my in die oefenklas,sommer goedsmoeds ‘n insek met haar skoen doodslaan.Sinneloosheid deur intelligente mense,vang my…dit ook nou na aanleiding van die aaklige leeustorie en die slagting onder renosters,olifante en ander wilde diere.

Ek haat mense se ongeërgheid teenoor ander lewende wesens en die natuur.Dat so ‘n klein dingetjie soos die doodslaan van ‘n gogga,my amper innerlik laat ontplof het,het my laat besef dat ek en meeste Suid-Afrikaners aan erge trauma ly,

Al lyk alles goed op die oppervlak,is ons kookpotte wat wag om oor te kook!

Ekskuus julle,ek wou nie hier kla nie,maar hierdie kom uit my hart en ek probeer net sin van alles maak.