Ek weet dis seker al afgesaag,want dis die storie van ons lewens hierdie kant van die aardbol.Die regstellende inkopies vir Kersfees het in volle swang begin!
Gister sit ons gesin en aanhangsels en kleinkind heerlik aan tafel,net gereed om roomys op te skep.Seunskind se foon lui en dis die sekuriteitsmaatskappy wat sê sy huis se alarm lui.Vyf minute later laat weet hulle…ahem..die hekmotor is gebreek,veiligheidsdeur en voordeur oopgebreek en twee beteuterde groot kwaai bokserhonde sluip verwese daar rond.Seun is so kwaad,hy gooi sy selfoon op die tafel,dat dit sommer so wip.Ouma vra nog wat hom makeer en Sussie sê ewe droog dat Seun net ‘n tantrum gooi!
Ons heerlike samesyn is onderbreek en daar word huis toe gejaag..veertig minute se ry hiervandaan.Later laat Seun weet sy tv,werkskootrekenaar,persoonlike rekenaar en selfs Telkom se modum is binne vyf minute gebuit in ‘n “hit ‘n run”.Dis wat die vloeke doen..beplan alles mooi..wegkommotor,genoeg hande om blitsig deur die huis te spaander en te gryp wat daar te grype is!Voor die alarm klaar geloei het,”cruise”die uitvaagsels al rustig op die snelweg met hulle buit.
Die sekuriteitsmaatskappy vertel hom dat daar binne vier-en-twintig uur VEERTIG inbrake in sy omgewing was.Baie,baie suksesvolle inkopies né!Seun se hart is baie seer oor sy persoonlike goed,wat nou in laeklas skuim se hande is.Hy dig graag en ‘n leeftyd se gedigte en gedagtes is nou van die kosbare goed wat deur geen geld vervang kan word nie!
Ons lysie vir die afgelope twee jaar:Dogter en skoonseun:Tv,twee skootrekenaars.Ander dogter en skoonseun:Tv.Ons:Twee skootrekenaars,kamera en lens,selfone.My seun:Tv,twee skootrekenaars,Telkom modum.My huishulp:tuinstoele en wasgoed van die draad af.Haar seun:Sy makoekoe is kaal gesteel..net ‘n paar potte het oorgebly.Haar broer:Sy broek is van sy lyf afgesteel,toe hy gestap het om vir haar te kuier!My tuinier:Sy selfoon is gegryp terwyl hy besig was om ‘n oproep te maak.Dis net in ons klein kringetjie!My nefie:Sy selfoon is gebreek in ‘n geveg met die boewe en hy het twee weke in die hospitaal beland.(Ek het al hieroor geblog).
Nou ja,die Perrebyfamilie en kie het nou genoeg bygedra en Perreby self,is nou @$&vol vir die spulletjie!
Like this:
Like Loading...