Ek het nooit kon dink..

dat ek bly sou wees om my kombuis weer terug te hê nie!

Die vakansie was heerlik en op ‘n stadium was hier tien dae lank elf grootmense,twee kleuters,een baba en drie lawaaierige keffende Snauchers!

Die spul jongmense het my kombuis oorgeneem,kos gekoop en gekook,skottelgoed gewas,tafel gedek en oral opgeruim.Dit was voorwaar ‘n plesier om sulke gaste te hê.Ek het soos ‘n gas in my eie huis gevoel.Selfs Kersdag het ek nie ‘n vinger verroer nie.Een van die jongmanne het soos wafferse kok die kombuis geannekseer en die hele ete gemaak.My skamele bydrae was om tafel te dek!

Ek weet nie of dit hierdie era se jongmense is en of hierdie klompie ‘n uitsondering was nie,maar die manne was net so betrokke by die bybies en kleuters.Doeke is omgeruil,kleintjies gevoer,gebad,mee gespeel,opgepas terwyl die mammies bietjie slaap…ai dit was lekker om te aanskou!

Ek dwaal nou af…terug na my kombuis…Op ‘n stadium het ek nie meer geweet waar alles is nie.Vreemde hande pak alles op vreemde plekke.Die yskas was permanent tot boordens toe vol en my gewone geordende patroon van die goed pak,het gesneuwel.Groente orals,bakkies oorskietkos,babakos,volroom-,laevet-,vetvrye melk,van bo tot onder gepak,die rakkies in die yskasdeur het die skarniere laat kreun van al die souse.Daar was vetterige bantingkosse,room,maer hoendervleis en groente vir die cholesterollyers…gee enige supermark ‘n druk.Die lekkerste…dit het my nie ‘n sent gekos nie!

Nou is almal weg.Die yskas is leeg en net uieskille,flentertjies biltong,broodkrummels en ‘n paar melerige appels is oor.Ek vat my lappie,begin alles skoonmaak,pak weer die skottelgoed waar dit hoort en bars in trane uit toe ek my kleinseuntjie se vuil vingermerkies van die kasdeure afvee….

Advertisements

32 thoughts on “Ek het nooit kon dink..”

  1. Ons is ook hierdie vakansie verras deur jong mense. Ons woonstel deur Lekker Slaap verhuur. Een van die voorwaardes was, ons laat nie skoonmaak terwyl daar huurders in is nie. Vyf groepe jongmense oor die tydperk. Elke keer is die woonstel gelaat soos hulle dit gekry het. Skottelgoed gewas, beddens opgemaak, gevee, tot die vullis is uitgeneem. Nooit ‘n lawaai of geraas nie. Ons is gewaarsku dat alles gebreek en of weggedra gaan wees… verder van die waarheid kon jy nie kry nie.

    Like

  2. Dit klink asof jy ‘n heerlike vakansie gehad het Dina en ek kan net dink hoe baie het jy die kinders geniet. Toemaar, een van die dae is dit weer vakansie en kan jy weer lekker kuier. 😀 ♥

    Liked by 1 person

  3. Ek kan dink dit het dol gegaan, dan was dit nog warm ook, maar dit is goeie tye.
    Klein seuntjie is gelukkig dat hy so ‘n ouma het.
    Jare gelede het ek snags wakker gelê met krieke, paddas en sonbesies wat so geraas het, nou mis ek dit 😉

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s