Soveel dinge het verander,vandat die mens mobiel begin raak het.Skaars ‘n eeu gelede was ‘n motor en vliegtuig nog vreemde rygoed.Toe ek ‘n kind was,was Jan Smutslughawe(intussen verander na Johannesburg Internasionaal en nou bekend as Oliver Tambo Internasionaal)net ‘n klein geboutjie in ‘n oop veld vêr buite Johannesburg.
Daar was bitter min vlugte buiteland toe en die enkele binnelandse vlugte was beperk tot Kaapstad en Durban met melktreinstoppe op Bloemfontein en Kimberley.Ek onthou my eerste vlug was in ‘n Dakota…so ‘n skuins vliegtuig op die nat koue aanloopbaan…vêr gevlieg…Kimberley toe!Ek was omtrent so drie jaar oud.Dit het ‘n geweldige indruk op my gemaak,veral toe die huise soos pophuisies uit die lug gelyk het.
Later is die lughawe vergroot en dit was ‘n heerlike Sondagverdryf om in die lughawerestourant (die enigste een en baie grênd )te gaan eet en te kyk hoe die vliegtuie opstyg en land.Lugwaardinne en vlieëniers het status gehad,want dit was ‘n hemelse werk en passasiers was spesiaal en besonders,want dit was nie elkeen beskore om te vlieg nie,veral nie oorsee nie!
Ek onthou hoe ons na skyfievertonings van familie en vriende se oorsese toere genooi is en aan die gelukkiges se lippe gehang het,terwyl hulle vertel van vêrre lande en vreemde kulture.
Nou in die hede,is mense wêreldwyd binne sekondes in verbinding.Om te vlieg is nie meer snaaks nie en enige lughawe is soos ‘n besige treinstasie…niks romanties of besonders meer nie.Jongmense soek avontuur,gesinne immigreer na beter weivelde en gemeenskappe verander en voel bedreig deur nuwe inkomelinge met ander gewoontes en kulture.Onrus begin broei en rassisme steek kop uit.
Bomme word geplant om mense vreesbevange te maak.Groepe wil die wêreld beheer op hulle voorwaardes.Waar vreemdes nou meerderhede word,word bestaande ou kulture onderdruk en met politieskorrektheid gedwing om stil te bly en indringers terwille te wees.Die hele wêreld is besig om sienderoë te verander…binne ‘n kort tyd!
My hart is vanaand baie seer…twee van my kinders het vandag..toevallig op dieselfde dag..die niet in verdwyn!Een is vanmiddag twee-uur vort en die ander een vertrek vanaand sewe-uur.Hulle het groener weivelde gaan soek.Ek haat globalisering,want dit skeur families uit mekaar en bring net hartseer.
Môre voel ek weer beter….