Hy was van kleinsaf ‘n sensitiewe kind.Harde geluide en bangmaakmusiek het hom vreesbevange gemaak.Tog was hy besonder slim en kon al op twee jaar sing en versies opsê,so oulik,dat mens hom kon opvreet.
Sy eerste skooljare het goed gegaan en sy rugbyloopbaan is genadiglik in standerd een kortgeknip,nadat hy sy tong middeldeur gebyt het in ‘n wedstryd!Die slimme kind het gereeld eerste in sy klas gestaan en met redenaars en voordrag het hy goed presteer.Hy het selfs die hoofrol gespeel in sy skooltjie se operette.Praat kon die mannetjie goed doen en het provinsiaal deelgeneem aan redenaarskompetisies toe hy nog op laerskool was.
Sy hoërskoolloopbaan het maar met tiener stampe en stote gegaan en soms was daar maar vreemde siele wat in sy vriendekring rondgehang het.Hy was altyd een van die “uncool”groepie,maar dit het hom nie afgesit nie.Hy kon sy man goed staan en het selfs geveg vir sy afvlerkvriende se reputasies,wanneer dit nodig was.
Na skool het hy nie eintlik geweet wat om te doen nie en vir ‘n kursus ingeskryf,waaroor hy nie seker was nie.Bolangs het alles goed gelyk,maar tekens van depressie het nou al stewig begin kop uitsteek.Soms het hy woedende verse in ‘n geheime dagboek uitgekrap…so erg,dat daar gate in die bladsye was.Van die verse was so intens en hartroerend,dat sy ma wat eendag daarop afgekom het,haar lam geskrik het.Sy het in ‘n totale staat van ontkenning ingegaan en gehoop dinge waai oor.
Tot een Saterdagmiddag…haar foon het gelui en aan haar seun se stem kon sy hoor daar is groot fout.Sy het nie eers geskrik nie,want die wete het withelder voor haar opgevlam!Die leë bottel pille,die stotterende stem,die smekende oë,die jaag na die hospitaal,die maaguitpomp…sy het geweet dit sou eendag kom!Sy pa het onder ‘n boom in ‘n parkie gaan sit en huil en ‘n eed gesweer dat hy almal wat sy seun veroordeel,persoonlik sal bydam.
Sielkundige behandeling,antidepressante,mooi woorde en aanmoediging,was slegs pleisters op ‘n diep etterende wond..die wond van vertwyfeling,selfhaat,verwerping,veroordeling deur ‘n eng godsdienstige samelewing….want hy was gay!Hy het nie gekies om so te wees nie,sy lewe lank gewroeg met die geheim in sy hart en alles probeer om daarvan weg te skram…selfs die ondenkbare selfmoord sou verligting bring en ‘n einde maak aan sy persoonlike hel op aarde.Alles skreeu uit in daardie neergepende gedigte in ‘n vuilgevatte,donkie-oor skryfboek.
Sy ouers het heimlik geweet,maar dit nooit aan hulself erken nie.Sonder omhaal is hy met liefde aanvaar net soos hy is.Sy familie het nie ‘n oog geknip nie en vriende wat hom lank ken het hom net ondersteun met liefde.
Uiteindelik het hy geluk gevind en hy en sy lewensmaat van veertien jaar,is in die eg verbind!
Hierdie is blote fiksie,maar toegewy aan alle gays en twee baie besondere mense.