Nog ‘n townshipstorie.

Gogo is besig om wasgoed op te hang.Skielik hoor sy ‘n gerammel in die grondpad langs haar tuinmuur.Nuuskierig loer sy oor en sien ‘n man,redelik onvas op sy voete,die straat afkom met ‘n trollie-asblik op sleeptou.

Sal die ou nie wraggies tot by haar muur kom en die asblik begin uitgooi,net daar op haar sypaadjie nie!Sy protesteer heftig,maar hy skel haar en gaan ewe vermakerig voort om hope en hope aartappelskille,plastiek en ander gemors uit die drom se stink maag te tiep.Hy slinger weg en kom ‘n ruk later met ‘n kleiner asblik terug en begin smalend dit ook uit te gooi.Teen hierdie tyd kook Gogo se bloed,maar die ou dreig haar dat sy suster wat ‘n Nyanga(toordokter)is,haar sal toor,dat sy binne in haar huis doodgaan!Gogo sê vir hom dat sy nie aan toordokters glo nie en dat dit pure bogtery is.

Voor die ongeskikte morsjors verder kan praat,stap twee gemeenskapsleiers op hom af.Hulle het gesien wat hy doen en beveel hom om dadelik alles op te tel.Daar is ‘n duidelike bordjie waarop ‘n boete van duisend rand aangedui is,maar almal weet dat niemand in ‘n township dit sal betaal nie,want as jy sê jy het nie sulke geld nie,wat kan dan gebeur?Die tronke is te vol en die polisie te besig met erger dinge as morsjorse wat sommer onder die kennisgewingbordjie tip en vir ‘n encore die bordjie ook uittrek en as ‘n stutpaal vir ‘n sinkmakoekoe,saamvat!

Die ou protesteer heftig,maar een van die manne pluk ‘n lat van die naaste boom af en begin dit betekenisvol rondswiep.Hulle stap saam met hom na die huis waar hy die trollieblik gebêre het en forseer hom om dit weer na die plek van bemorsing,te stoot.Intussen het die skare aangegroei en almal loop en koggel en skel agter die oortreder aan.’n Uur later is alles opgetel en skoon en ons morsjors is nou sommer nugter gesweet!Natuurlik kan hy nie nalaat om vir Gogo die skuld te gee vir sy eie vieslikheid nie..tsk,tsk!!

Advertisements

Stof…

IMG_2478a
Stof kleur goud in die strale van die dalende son.
IMG_4586
Springbokke bondel onrustig saam.
IMG_4589
Skielik fluit ‘n paar en dan is daar ‘n stofstormloop!
IMG_7616_edited-1
Pappa volstruis skud sy stof af,terwyl mamma en die kleingoed heerlik bad.
IMG_9115
Niks kom by so ‘n stofbad om die luise en ander nare ongediertes uit die vere te hou nie!
IMG_7580
Honderde elande vlug in die vroegmore son..naby Gharagab in die Kgalagadi.
IMG_4944
Rooibokke in ‘n vroegoggend stowwerige skermutseling.
IMG_9712b_edited-1
Blouwildebees karring stof op.

In ‘n droë land soos Suid-Afrika,is stof allerdaags en gewoon.

Dis weer hierdie tyd…vervolg.

Vooraf:https://perdebytjie.wordpress.com/2016/06/11/dis-weer-hierdie-tyd/

Gogo het kom terugrapporteer en ek was aangenaam verras.Behalwe vir die feit dat Thabo en die honderdduisend (eergister oor die nuus is hierdie getal genoem…skrikwekkend hoeveel jongmense in S.A, is en om te besef min van hulle gaan eendag werk kry!)seuns vanoor die hele S.A.hierdie winterveldskole bywoon,is daar kampe vir die dogters ook.

Haar dogter is ook nou daar.Sy het my bietjie ingelig oor wat hulle doen en dit klink vir my na sinvolle inlywing in die grootmenslewe.Hulle is gehuisves in ‘n nuutgeboude kompleks met badkamer- en kombuisgeriewe.Elkeen bring sy eie matras en twee komberse en elke dag word alles opgevou,gebere en skoongemaak.Hulle leer kosmaak,kry lesings van hoe om in ‘n respekvolle samelewing te funksioneer,leer hoe om hulleself te handhaaf en natuurlik ook die lesse van die blomme en die bye.Verder leer en oefen hulle tradisionele danse en aan die einde van die tyd kom die mammas en geniet dit om saam met hul dogters te sing en dans in hul tradisionele drag.Dan word daar word kos gemaak vir al die mammas wat van veraf kom en dis een groot kuier en gesellige samesyn,al ken hulle mekaar nie eers nie.Natuurlik word foto’s ook geneem en Gogo het belowe sy sal vir my een gee,wat ek dalk hier sal plaas.

Gogo vertel ook,dat die seuns se veldskool heeltemal gereguleer word.Die regering het uiteindelik wakker geskrik en daar is vreeslike streng reels waaraan die aanbieder onderwerp word.’n Span dokters het byvoorbeeld die eerste dag elke seun ondersoek en daar is steeds elke dag ‘n voltydse dokter aan diens.Verder is daar ‘n inspekteur wat enige tyd daar kan instap om te kyk of alles reg verloop.Gogo wil haar doodlag,want sy vertel dat die ou wat altyd die veldskool aanbied,’n groot,dik man was.Met al die nuwe regulasies het hy vreeslik gewig verloor van al die stres!Sy reken ook hy gaan dit nie weer aanbied nie,want die maklike geld wat hy elke jaar gemaak het,word nou uitgegee aan dokters,ordentlike behuising en kos!

Ek is so verlig om dit te hoor en ek hoop dat dieselfde regulasies landwyd toegepas word by ander veldskole.Dit het in so ‘n geldmaakeuwel ontaard en dis bemoedigend dat hierdie mense vasgevat word!

Mooiste name..

Die boorgate en drinkplekke in die Kgalagadi Oorgrenspark,het die mooiste name.Die woord Kgalagadi kom van die woord Makgadikgadi,wat “soutpanne” of “groot dorsland”, beteken.In die omgewing suid van die park is reuse soutpanne,met name soos Hakskeenpan,Kykompan,Laaistokpan,Koppieskraalpan,Koopan,Eensaamheidspan… om maar net ‘n paar te noem.

Die name in die park self,is afkomstig van plase en gehuggies wat deur vroeëre inwoners bewoon is.Na die Eerste Wêreldoorlog, het’n Skotse opmeter,Rodger “Malkop”Duke Jackson,die area opgemeet en verdeel in plase.Jackson het baie van die plase vernoem na plekke in sy tuisland,Skotland.Vandag nog word van die name soos Auchterloni,Monro,Strathmore,Craig Lockhart en Dalkeith gebruik vir die boorgate.

Van die inheemse name klink soos musiek op die ore en ek plaas sonder verdere kommentaar,foto’s van ‘n klompie.

bl35

bl48

My gunsteling name waarvan ek nie foto’s het nie,is Bedinkt,Langklaas,Kousant,Polentswa,Gnurrie,Kwang,Lijersdraai(let op die outydse spelling…Nederlandse invloed) en die heel mooiste ene:Cubitje Quap!(spreek uit:Koebietjie Kwap).

Ek vind toe wel die volgende in my versameling:

 

Dis weer hierdie tyd…

van die jaar,wanneer duisende jong seuns veldskool toe gaan om oornag in mans te verander.

Gogo,my getroue huishulp,is baie vies oor die hele besigheid.Haar tweede oudste seun,Thabo,moet hierdie naweek inklok by die kamp.Gogo is die enigste broodwinner in haar uitgebreide familie van twaalf.Haar oudste seun werk ook,maar soos die geld inkom,spandeer hy dit op fênsie klere en skoene!Dus rus die totale betalingslas van hierdie veldskool op haar skouers.Dis net so R5000 per kop in die organiseerder se sak!

G’n mens weet wat sy uitgawes is nie,want die stomme kinders slaap merendeels in die veld,nakend,net met ‘n kombers om die lyf en beslis nie met gourmet etes op die spyskaart nie…

Verder mis Thabo die halfjaareksamen,want hy word uit die skool gehaal vir die tradisionele gebeurtenis.Gogo wou nie hê hy moet gaan nie,maar daar is soveel druk van haar werklose broer en haar ma,asook uit die gemeenskap,dat sy nie anders kon as om te swig nie.Werklose boetie sal Thabo se chaperone wees…slyp sy tande om sy nefie te sien swaarkry!Gogo moes natuurlik vir sy “verblyf” ook betaal….grrrr!

Dis ‘n groot geheim wat op hierdie veldskole gebeur en daar word ook nie oor gepraat nie.Al waarvan die publiek hoor is die baie sterftes wat elke winter op hierdie veldskole plaasvind…almal weet ook hoekom,maar dis polities onkorrek om dit by name te noem.Afgesien van die inleiding(lyding) in die mannewêreld in,waaraan hierdie seuns in die koudste maand van die jaar blootgestel word,is die kersie op die koek…die besnydenis!Tradisioneel is dit sommer met ‘n skerp klip en later ‘n mes gedoen en sepsis en verminkte geslagsdele was en is steeds baie se voorland.

Dis maar eers onlangs dat stemme begin opklink het,omdat soveel jeugdiges jaarliks sterf.Die regering wend darem ‘n poging aan om dit te reguleer.Gogo moes ‘n dokterssertifikaat vir Thabo kry om aan te dui hy is gesond.Skynbaar gaan daar ‘n dokter???teenwoordig wees,wat ook elke dag die seuns se gesondheid monitor.

Ten spyte hiervan,gebeur lelike dinge steeds.Verlede week het ‘n hartseer pa ingebel na ‘n bekende radiostasie en vertel dat sy seun HIV besmet teruggekom het!

Ek verstaan nog steeds nie die mens se behoefte om swakkeres of nuwelinge te inisiëer nie.Dit gebeur heeldag in alle samelewings…ontgroening in koshuise,groentjiekonserte in skole,inlywing van nuwe spelers in sportspanne,gesuipery en vernedering van bruidegomme by rampartytjies….

Dit hoort nie meer in vandag se samelewing nie!

SAPS..minus die S.

Vir die lesers wat nie weet nie,SAPS staan vir South African Police Service.

Gister gaan die uwe en Gogo,my huishulp,polisiestasie toe om net twee ID-afskrifte te laat waarmerk vir haar polis wat nou gaan uitkeer.Daar gekom,staan daar ‘n plaat polisievoertuie…die klein VW-Gholfies…die wêreld vol geparkeer.Lyk of daar ‘n groot byeenkoms is.Nietemin parkeer ek my karretjie styf tussen ‘n vangwa en ‘n Gholfie.

Gogo gaan sit in die ry en ek hang buite rond…gril my dood vir die stoele waarop duisende sitvlakke daagliks van een kant na die ander,voortskuif in die ry!Daar is net drie mense wat saam met haar wag.By die toonbank is ‘n sersant besig om ‘n verklaring af te neem.’n Ander ou sit en skryf stadig in ‘n groot boek met sulke vuilgevatte haasore.’n Derde een sit en staar in die niet met ‘n stapel goed voor hom.Die stempel waarvoor die drie in die ry gekom het,lê op ‘n onbemande toonbank!

Buite hang ‘n polisievrou met dik grimering en ‘n volronde agterstewe,doelloos rond.Sy vra waarvoor ons daar is en ek beduie ons missie.Later kyk sy op haar horlosie en sien …oh,lunch break is over…skommel stadig die vertrek binne en gaan sit by die stempeltoonbank.Ek sug van verligting,want die ry het nog nie ‘n aks beweeg nie en die een ou voor Gogo,sit al meer as ‘n uur en wag en hy begin al kook onder die kraag!

Polisiemama vind egter ‘n leêr wat sy moet teken,belangriker as diens aan die publiek..en skommel weer uit die vertrek buitentoe.Die stempel lê steeds onbeman!Sy kom verby my en ek vra haar vreeslik mooi of sy nie net gou die drie mensies wat wag,kan help nie.”Just now” is die antwoord en sy verdwyn by ‘n deur in,om nooit weer tevoorskyn te kom nie.

Intussen het een van die drie wat saam met Gogo wag,buitentoe gekom vir vars lug en ons tweetjies leun teen die muur en ontleed die situasie van die flinke dienslewering.’n Konstabel kom verby en vra aan my geselsmaat waarvoor hy daar is.Die uniformman beduie daar is ‘n karavaan twee meter van ons af,weggesteek agter ‘n groot wit kontrepsie,wat lyk soos ‘n ou watertenk.Wragtag,daar sit ‘n tante en sy tjap tjop-tjop almal se papiere wat gewaarmerk moet word…daar was toe nie eers iemand in die ry nie.Handig as niemand die plek kan sien nie né!

Ek stoom die kantoor binne en vertel vir Gogo en die ander ou wat nou al amper twee ure wag,van my “vonds”!Ek vra toe die tannie in die karavaantjie,waarom daar nie eers ‘n papiertjie geplak is teen die wit kontrepsie om die plek aan te dui nie…haar ontwykende antwoord: “Elkeen kry ‘n uur op ‘n dag ‘n beurt om hier te stempel en dis nou my uur”.

Ek kan nie glo dat die fris polisiemama nie vir my gesê het van die karavaantjie nie.Ek en sy het tien minute lank ‘n vriendelike gesprek gehad reg by die wit kontrepsie,wat lyk soos ‘n ou watertenk.Gemeenheid,of oor ek haar tyd opgeneem het in “lunch hour”?

Ek slaan my hande saam en rol my oë…SAPS minus die S!

 

Twee-twee…

IMG_3953
Gemsbokke(Southern Oryx)teen blou lug.
IMG_5208
Kelkiewyn paartjie(Namaqua Sandgrouse male and female)
IMG_7398
Rooioogtiptolle(African Red-eyed Bulbul)
IMG_6915
Knibbel nog bietjie,Pappie…ogies is eintlik toe van lekkerkry!Rookopvink paartjie.(Red-headed Finch)
IMG_5129
Bleeksingvalke(Southern Pale Chanting Goshawk)
IMG_6748
Bleeksingvalke in vlug.

IMG_5121

IMG_5745
Rooibekpylstertjies baklei(Shaft-tailed Whydah)
IMG_7400
Draai om dat ons kan sien wie hulle veertjies so sit en pluis!
IMG_7408
Liefies teenmekaar in die skraal oggendsonnetjie.
IMG_7425_edited-1
Rooioogtiptolle(Red-eyed Bulbul)