Ek…

verdwyn weer vir ‘n rukkie.Sien julle een van die dae.

Perdebygroete.

Advertisements

Spinnekopnuus

Spinnie is vanoggend na baie wik en weeg,uit haar ellende verlos.Die manier waarop die natuur sy gang gaan,is nie altyd vir ons as mense verstaanbaar nie.Omdat ‘n mens ‘n empatiese wese is,wil ons altyd help,waar ons soms nie moet nie.Ons redenasievermoë en wil om in beheer te wees,sorg ook soms vir verkeerde besluite,waar dit die natuur aangaan.

In hierdie geval,was dit ook uit nuuskierigheid dat ek vir Spinnie in my sorg geneem het,want dis nie aldag dat ‘n mens hierdie wesentjies so van naby kan dophou nie.Ek kon heerlik met my vergrootglas kyk na die harige beentjies.Die stekeltjies onder haar pote het my laat besef hoekom dit moontlik is dat ‘n spinnekop orals kan loop…dis sulke taai voetsooltjies wat maklik vasklou.Dan was daar die vet agterlyfie en die zebrastrepies op haar beentjies.Die heel mooiste was haar pikswart ogies wat soos ‘n outydse Ford se koplampe lyk…blink en helder.

Nadat sy gister begin vervel het en vanoggend steeds in die greep van haar ou liggaam vasgestrengel was,het ek besluit,genoeg is genoeg!Omdat sy verlam was,kon sy nie haarself loswikkel uit die ou lyf nie en was genadedood die enigste oplossing.

Ek het haar vroegoggend saggies onder ‘n klip  in my tuin begrawe.

Dankie Spinnie,ek het baie by jou geleer.

Spinnekopnuus

Met weinig inmenging hou ek nou al twee weke lank die verlamde reënspinnekop dop.Ek het haar in die blombak in my sitkamer tussen die plante gebêre en loer net elke dag hoe dit gaan.Gister het sy haar beentjies woes beweeg toe ek haar op my hand neersit op haar rug.As ek haar omdraai,het sy steeds geen beheer oor haar ledemate nie en strek ek versigtig die beentjies reguit sodat sy in ‘n gemaklike sitposisie is.

Vanoggend breek my hart toe ek haar sien.Dit lyk of een of ander gedrogtelike gedierte haar in die nag gevang het en vasgeknoop het.Skielik het sy twee koppe en haar bene is vreemd vasgeknoop.Ek was net oppad om haar te verlos uit haar ellende,toe ek besef sy vervel!!

Ek weet nie hoe eties dit is om hierdie wese se lyding so lank uit te rek nie.Omdat sy lam is,weet ek ook nie of sy die vel sal kan afskud nie.Ek wag tot môre en dan neem ek ‘n besluit.

Lyk of iets haar vasgebind het!

img_0227Naderby lyk dit of sy twee koppe het.

img_0229

Ek het gou getel…sy het veertien pote…al wat ek nou kan sien!Gewoonlik het hulle agt pote.

Lees die volle verhaal hier: https://perdebytjie.wordpress.com/2017/01/26/spinnekop-tragedie/

Voertsek!

Wat maak jy hier? Dis my plek!

img_9988_edited-1

Aikôna, dis my plek!

img_9987_edited-1

Skoert knapie! Jy is heeltemal te klein om so parmantig te wees!

img_9992_edited-1

Hierdie Reusereier(Ardea goliath) en Visarend(Haliaeetus vocifer) was in ‘n hewige bekgeveg gewikkel op die oewers van die Choberivier in Botswana.Ou grote het toe gewen en arme visarend moes die aftog blaas!

Rare spesie

Wanneer ‘n mens die voorreg het om ‘n skaars spesie in die natuur te sien,is die gevoel onbeskryflik.Ons ry langs die rivier en skielik staan hulle daar…twee Sitatoengas(Waterkoedoes),oop en bloot tussen die riete in die water.

Hierdie skaars diere is aangepas om in moerasagtige areas tussen riete te leef.Hulle hoewe is ook spesiaal aangepas,sodat hulle maklik in modder kan loop.Die hoewe vurk wyd uit en is tot 18cm lank.Hulle swem ook as dit nodig is.

Hulle kom voor in die Okavangodelta,Linyanti(tans bekend as Nkasa Rupara Park),Kwando,Kasanka en Kafue Nasionale Parke en Bangweulu in Zambië.Hulle is so skaars soos hoendertande en dis uiters moeilik om hulle raak te sien.

Ons was gelukkig om twee in die Kwando-gebied in Namibië te sien!

img_1218_edited-1

‘n Jong ram

img_1182

Volgroeide ram

Vloekskoot!

Soms neem ‘n mens ‘n foto sonder om baie moeite te doen.Gewoonlik kom dit dan ook maar redelik gemiddeld uit.Maar daar is die een in duisend skote,wat ‘n vloekskoot genoem kan word.Dit het niks met vloek te doen nie,maar wel met geluk!

So ‘n kans het my te beurt geval op ons onlangse besoek aan die Kwando Core Area,dóér bo in die boonste hoekie van Namibië.

Eers het ek blitsig teen die lig ,hierdie foto geneem,want ons was nie seker wat in die bek van die Troupant was nie.Gewoonlik neem ek sulke foto’s,nie vir die estetiese nie,maar vir latere uitkenning.

Eers het dit só gelyk…teen die skerp lig en niks verwerk nie:

img_1057_edited-1

Verwerk kan mens nou al sien wat aangaan…steeds nie ‘n goeie foto nie:

img_1058_edited-1

Gelukkig bly Meneer Troupant sit en kon ek hom van ‘n beter posisie kliek.Dit moes blitsig geskied en dit was die resultaat:

img_1064_edited-1