Transkgalagadi-stories 4

Van Kang af raak dit nou werklik eensaam en wild. Mens sien nou minder donkies en beeste, perde en bokke, maar moet maar heeltyd op jou hoede wees. Skielik is daar heelwat vlakvarke, volstruise en baie steenbokkies in die padserwituut en die wildernis gevoel is te lekker.

Ons voertuig het eenkeer so sewe jaar gelede, in hierdie geweste gaan staan en dit was nogal angswekkend,want daar het nie veel voertuie verby gekom nie. Gelukkig het ‘n barmhartige samaritaan ons teruggesleep Kang toe, vanwaar ons agterop ‘n sleepwa terug SA toe is. Sulke goed gebeur maar en elke rit daarlangs, kyk ons altyd na die plek waar ons gaan staan het en beleef weer die hele storie!

Nou strek die pad voor ons uit en jy ry en ry en ry…hierdie 300 km tot by ons aandstop, is gewoonlik my bestuurskof en manlief knip dan ‘n uiltjie saam met die brakke, wat alreeds dik geslaap is!

Die area is baie naby aan die Sentraal Kalahari Wildreservaat en dis nie ongewoon dat daar soms koedoes en ander groter boksoorte, oor die pad hardloop nie. Hier is al selfs leeus opgemerk. Op hierdie stuk pad kan mens maklik aan die slaap raak en ons het eenkeer afgekom op ‘n vragmotor wat drank vervoer het en beheer verloor het. Daar was al ‘n paar ander voertuie op die toneel, maar hulle het ons vinnig weggewys, want toe is die spulletjie besig om hulself te help aan die ongebreekte bottels voggies…wou seker nie nóg grypers duld nie…hahaa….spul aasvoëls!

Naby Ghanzi draai die pad links af na die Namibiese grens,wat nog so 200 km vêr is.Teen hierdie tyd is ons vodde en ry gewoonlik tot by Tsootsha (ook bekend as Kalkfontein), waar ons oornag  in ‘n klein tentlodge, met kampeerplekke ook.

Die plek is reg langs die pad, oorkant ‘n reuse selfoontoring en heet Jungle Light Rest Camp. Daar is vier goed ingerigte tente met eie badkamers en heerlike skoon beddegoed. Dis ook hondvriendelik en die Schnauzers kan nie wag om soos mal goed hier rond te hardloop nie.

‘n Baie gawe vrou bestuur die plek en woon self in ‘n tent, saam met haar hond en twee katte. Deur die jare het ons al so ‘n hegte vriendskap met haar gesmee, dat ons nie kan wag om haar te sien nie. Ons kuier en lag en gesels ‘n hond uit ‘n bos uit. Sy maak die heerlikste kos en later wil ons nie bed toe nie, want sy het soveel interessante stories oor die omgewing, sy mense en haar lewe in hierdie klein dorpie.

Intussen jaag die Schnauzers hoenders, boerbokke en alles wat beweeg, daar in die kamp rond. Die bokke is darem buite, maar word al keffende langs die draad af begelei. Ons arme vriendin se katte het ook al deurgeloop en moes vinnig op die vlug slaan. Verlede jaar het ‘n werfhoendertjie haar stertvere verloor in ‘n skuldige Schnauzer se bek. Die arme hen was só getraumatiseer, dat sy vir ‘n week lank verdwyn het en later in die kampeerplek se badkamers opgespoor is!

Vir hulle ongepoetste gedrag, loop die brakkies goed deur en is later vol klitse, dubbeltjies en daardie fyn dorings wat so aan alles klou.Ek moes al letterlik die dorings uit hul pelse sny en Neelsie se snor tot teen sy bolip afkerf,om die steeksels uit te kry….my skêrtjie gaan altyd saam, want dis elke keer se storie.My vingers voel ook naderhand soos ‘n veerpyltjiebord (“dartboard”) van al die dorings.

Tot so nege uur saans, dreun reuse vragmotors steeds op die grootpad verby oppad grens toe. Meeste parkeer later langs die pad en slaap net daar…gelukkig is dit heel veilig in Botswana en sal die vrag en vragmotor nie sommer gesteel word nie. Snags drie-uur begin die hane kraai en soms balk donkies so hard dat dit klink of hulle by ons in die tent is.

Die sterrehemel is kristalhelder en op maanlose nagte lyk die melkweg soos ‘n spierwit pad. Ai, en die sonsondergange en dagbreek…onverbeterlik…lieflike Botswana met al sy lelike en mooi…een van die plekke waar ek rus vind al reis ek honderde kilometers op ‘n pad!

 

 

 

Advertisements

35 thoughts on “Transkgalagadi-stories 4”

    1. Ek is so lief vir hierdie donkies en verkyk my aan hulle. Hulle staan sommerso orals langs die pad en die babadonkies is so wollerig.Dis sekerlik die mees mishandelde dier en soms kry ek rillings as ek sekere goed aanskou.

      Liked by 1 person

      1. Ek het gehoor van die standbeeld,maar nog nooit gaan kyk nie.Dis sulke hartseerdiere en Botswana spog met duisende van hulle.Daar was op ‘n stadium iemand in die regering wat voorgestel het,hulle moet die getalle verminder,maar dit het tot kwaai uitbarstings gelei…dis amper soos ‘n nasionale dier.

        Liked by 1 person

      1. Dina dit is my effens jonger brein (let wel effens) wat humor te ver en uit konteks probeer strek. Die 2de sin van TRANSKGALAGADI 4 eindig met die woorde “op jou hoede” wees.

        Ek verkies bloot dat my hoede, op my is.

        Liked by 1 person

  1. Dan hou ek maar eerder vakansie met my kroos van ses, ingedruk in ‘n gewone motor, as met honde. Vir die kinders kan ek net sê gaan bad. 🙂
    Klink lekker by daardie tentrusplek… en wanneer laas het ek die hemelruim gesien soos jy dit beskryf?

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s