Onselfsugtig…

moes Ma se ander naam gewees het. Ma het ons voor die tyd bymekaar geroep en gesê sy wil geen begrafnis hê nie. Sy wou ons die minste moeite besorg. ‘n Week voor haar dood, het sy nog met gedoende hare, pragtig aangetrek soos altyd, in haar rolstoel gesit. Sy het ons meegedeel dat sy oppad uit is en dat ons onder geen omstandighede ons vakansie moes onderbreek as dit dalk dán sou gebeur nie. Drie dae voor die tyd, het sy haar drie oorblywende skoonsusters gebel en hulle gegroet.

Ons was in ‘n lodge by die ingang van die Kgalagadi-oorgrenspark, toe ons in die nag eenuur se kant, wakker gebel is, om te sê dat dit nie goed gaan nie. Siende ons meer as ‘n duisend kilometer van die huis af was, was dit nie moontlik om terug te jaag nie. My swaer het in die nag gery om Ma by te staan en sowaar, sy dring aan om met ons oor die foon te praat. Ek sal nooit daardie gesprek vergeet nie….sy het my bedank omdat ek vir haar ‘n wonderlike dogter was, gesê hoe lief sy vir my was en wéér benadruk, dat ons nie mag huis toe kom nie en voortgaan met ons vakansie.

Sy is die volgende middag rustig weg en ons het in die stilte van die Kgalagadi, saam met die diere, gesels oor haar en herleef oor watter besondere mens sy was. Ons trane het in die Kalaharisand geval, maar dit het genesing gebring en ons beter laat voel.

Saterdag hou ons ‘n intieme familie- en vriendebymekaarkoms, by ons huis. Dit gaan nie ‘n droewige dag wees nie, maar ‘n viering van haar wonderlike lewe en ongelooflike humorsin, waarmee sy ons almal aangeraak het.

Hierdie tyd van die jaar…

vul mens met heimwee na wat verby is. Die dolle gejaag knars stadig maar seker tot stilstand en laat mens weer wonder en peins oor die hoekoms en waaroms van die lewe.

Ons moes twee weke terug afskeid neem van my geliefde skoonma en ook die smart van vriende deel, wie se seun verongeluk het.

Die een was 92 en die ander een 32. Ma het sag heengegaan, na ‘n lang betekenisvolle lewe. Die jongman het geweldadig gesterf aan die begin van ‘n belowende toekoms.

Ek het nie woorde nie…die lewe is goed en die lewe is wreed…

 

My gunsteling plek…

in die wêreld is die Kgalagadi-oorgrenspark. Die wye ooptes maak dat ongewone tonele makliker vasgelê kan word. Die barheid, harde lig en ongenaakbaarheid van hierdie omgewing, sorg vir ‘n atmosfeer, wat moeilik elders ervaar word.

Ek plaas sommer net ‘n paar foto’s, sonder kommentaar.

_MG_2912_edited-1

_MG_0942

_MG_0941

_MG_0962

_MG_1106

_MG_1108

_MG_1105

_MG_1104