kan dit wees, om ‘n Reuse-ooruil (Verreaux’s Eagle Owl) so rustig en ontspanne in die natuur, te sien!
Nog net drie stukkies…
meubels moet gaan, dan is die slot van ‘n lewe bereik. Gister nadat ek ure gesorteer en uitgegooi het, het ek uiteindelik plat op die mat gaan sit, met ‘n koppie tee en Mariekoekies vir middagete. Sommerso met my selfoon het ek ‘n foto geneem en die ironie het my getref…doer vêr in die hoekie is net ‘n paar goedjies oor…
Die leegheid van die vertrek, met ‘n enkele eensame meubelstuk, het my sommer in trane laat uitbars…nou is dit finaal en verby en daardie leegte bly vir ewig…
Wat is die mens?.
“Net vel en pens”, het ons as kinders gespot, min wetende hoe na aan die waarheid dit was.
Wat is die mens?
‘n Bakkievrag verflenterde meubels en kartondose vol gebruikte goed, oppad township toe.
‘n Sitkamerstelletjie, koffietafeltjies, skilderye en ornamente wat iewers in ‘n geliefde se huis ‘n staanplekkie kry en ‘n herinnering aan iemand besonders is.
‘n Sak vol plastiekbakkies, polistireenhouertjies, koerante, tydskrifte, stukkies seep, gebreekte mandjies, glasbotteltjies van alle grotes, ou lappe…oppad asblik toe.
‘n Laaitjie met ou lipstiffies, poeierdosies, naelvyltjies en ‘n kopdoekie, wat snags die kapsel in toom moes hou.
‘n Kas vol klere wat lankal uit die mode is, waaraan die geur van reukwater nog liggies kleef.
‘n Handsakkie met ‘n opgevrommelde papiersakdoekie en ‘n kammetjie in.
‘n Vrolike strooihoed, wat eens teen giftige sonstrale moes beskerm.
‘n AVBOB sakkie met ‘n kissie vol as, wat by ‘n geliefde in die vleiland tussen die biesies en riete, gestrooi gaan word…
(Ons is die afgelope week besig om Ma se huisie op te ruim)
Sonbesie
Na aanleiding van Hester en Una se ervarings met hul ore, pos ek weer hierdie ou blog van my. Intussen het ek gewoond geraak aan my sonbesie, maar ek moet mooi luister om verby sy eentonige geskreeu te hoor!
Terug op die lug…
na tien dae! Ek hou nie my asem op dat dit lank gaan hou nie, maar hier is ek darem weer. Die regstellende inkopies van koperkabels, neem skrikwekkende afmetings aan, veral hier in ons buurt.
Die Telkom mangat is langs die pad, by ‘n woeste boskasie, waar leeglêers woon. Sodra die kabels herstel is, hou dit net ‘n rukkie dan is dit weer sulke tyd. Een plus een is twee en my gesonde verstand sê vir my presies waar die bron van alle kwaad in hierdie geval lê!
Koperkabelgroete aan al my blogvriende, tot en met die volgende leemte!
Frustrasie
Ek tik gou op my foontjie, om te verduidelik hoekom ek nie jul blogs lees en self iets pos nie.
Ons Telkomkabels is alweer gesteel.Dis die tweede keer binne een maand en van verlede Januarie tot nou toe, is dit presies die vyfde keer!!!Wat my betref is dit sabotasie wat die hoogste vorm van straf verdien! Ek weet nie hoe lank Telkom dit sal kan bekostig nie.Ons fibrekabels is gelê so ons gaan ook nou tatta sê vir Telkom.
Sien julle hopelik binnekort.
Prettige blouwildebees…
foto’s. Die blouwildebeeste het omtrent die watergate gedomineer en al wat ‘n ander dier is, verdryf. Toe neem ek maar ‘n paar snaakse foto’s en speel met lig en vreemde effékte. Dis dalk nie almal se smaak nie,maar vir my was dit nogal ‘n uitdaging!
Moeder Natuur…
het ook maar baie gebreke. Tydens ons afgelope besoek aan die Kgalagadi, het ek baie snaakse verskynsels opgemerk. Ek plaas ‘n paar…
Grondeekhoring sonder ‘n oog:
Fiskaallaksman met besondere lang bokaak:
Springbok met gebreklike horing:
Gemsbok, flenters gesteek en met ‘n stuk horing wat steeds in sy vel vassit:
Dalk was hierdie ou die skuldige:
Versamelvoël met ‘n verskriklike verwronge bek:
Dragtige springbokooitjie met ‘n slegte boggelrug:
Koning leeu met een oog:
Antwoord op gister..
se raaisel. Blykbaar word my blog nie deur almal gesien nie, dus hoop ek die paar bloggers wat gister gereageer het, sien die antwoord:
Volstruismannetjie in die Kgalagadi.
Raai wat…
is dit?