(Vir my gereelde lesers, hierdie is net ‘n pretblog en sal geen sin maak nie. Gaan gerus verby. To my regular readers, this is just a fun blog and will make no sense to you. Please pass).
Dis doodstil by die Toweropstal. Orals lê lywe rond. Toortsie se gefranjelliekoseerde poeding en die nag se kaperjolle in die bankkluis, het sy tol geëis. Sersant Gigaba lê heerlik lepel teen ‘n uitgepaasde kollega se deinende boepens. Wanneer sy drankasem met elke asemteug buitentoe geforseer word, tril sy mondhoeke ritmies en maak sulke klapgeluidjies. Verskeie van die voortvlugtiges lê ook hand om die blaas, met die polieste en met mekaar. Almal lyk ekstra dik en rondborstig van die bondels banknote, wat in trippel D’s en deurskynende tentgrootte Balipênties ingestop is.
Oom Paul en Oom Piet sweef bokant die dronknes rond, skud afkeurend hul spookkoppe en klik met hul tonge, terwyl rookwolke uit brandende pype borrel. Die twee is dit eens dat die moderne mens sleg en lui geword het en sonder sedes en waardes is.
Skielik is daar ‘n oorverdowende knal en die twee spoke skrik hulself vir die tweede keer in hul grafte in. Kisplanke, eierklitsers, kombuisware, rooibosteesakkies, Frangelicobottelproppe, twee bloedrooi stiletto’s, ‘n lipstiffie, mascara en ‘n verflenterde blonde pruik, sif neer op die verdwaasde motgevrete spul, wat nou skoon nugter geskrik is.
Una se “container” se deur hang aan een skarnier en in die boom langsaan, wapper ‘n kopdoek, wat alteveel na Toortsie s’n lyk. ‘n Swaargelaaide trippel D fladder skeef-skeef soos ‘n reuse tandemvalskerm af aarde toe. Die Bali-stalletjie is nou ‘n ali-stalletjie, want dit het letterlik sy g..alie gesien!
Lekkervurig se vuur is heeltemal geblus en nou voel sy ook nie eers meer lekker nie. Die klippers en graspolle spat soos Sonell, Woestynkind en Wegkruipertjie, wild dekslaan agter die stewige stêrre, van ‘n flou man in blou. Camilla, ontdaan van al haar verleidelike bybehore, het heeltemal haar sexy aanslag verloor en huil warm snot en trane, in die kroes borshare van die Latynsevoorkomskonstabeltjie. Abrie duik verskrik uit die pad van ‘n Baliaanse blou bal-en-klou tafelpoot, wat trillend langs hom in die grond vasslaan en sy volgestopte monnikjaspante netjies vaspen.
Tannie Frannie is helder wakker geskrik uit ‘n salige droom en gryp vervaard in die lug rond na vallende voorwerpe, onder andere ‘n uitgeholde brood vol skitterblink kroonjuwele. Scrapydo se Porkie-uil klou verbete aan haar skouer en rittel van die koue en skok. Sy veerlose lyf lyk soos dié van ‘n geplukte hoender. Sy hele veredos is in sy maai in en warrel stadig aarde toe, saam met stukkies suurgeworde gefranjelliekoseerde poeding. Scrapy self, lyk of sy so pas met haar Muskvuurpyl deur die klankgrens gebars het.
Ekmyself se bewerige vinger druk per ongeluk die musieksisteem aan die gang en ‘n klipharde sarsie kanonskote uit die 1812 Overture van Tchaikovsky, sorg vir nóg nat en vuil onderklere.
Op die plaas langsaan, in die koeistal, sweef rasperige Mozart en Bach musiek, spookagtig deur gebuigde luidsprekers. Die klomp Friese se uiers is drooggeskrik en hang soos trosse rosyntjies onderaan die rondmalende beteuterde diere. Die melk wat reeds uitgemelk is, het geskif en staan nutteloos in skeefgeduikte emmers.
Perdebytjie steier verdwaas na haar byeboerwa met ‘n plan om alleen te vlug. Sy weet nie waarheen en waarvan sy moet wegkom nie. In haar benewelde toestand besef sy net, iets groots het vanaand hier gebeur. Sy wonder of Hester en haar katelknapie se pappie, Pablo Escobar, nie iets hiermee te doen het nie. Hy is hoeka nog kwaad oor die goud wat uit sy seun se voortande gesteel is én hy het ‘n ogie op onse Hes! Natuurlik ook gehoor van die vonds in die bankkluis. Slyp seker sy geelgerookte Colombiaanse tande vir die Towerspan se swaarverdiende buit, om sy onheilige dwelmbesigheid ‘n hupstoot te gee.
Dan is daar ook nog die moontlikheid dat Abrie se Definitive Dictionary of Dubious Denotation al die tyd eintlik ‘n Definitive Dictionary of Dubious DETONATION is.
Die Perdeby het nou vaal vrede met joernale, rokende-bebaarde-ou-omie-spoke-wat skelm-boudknyp-in-die-donker, tonnels, goud, Krugermiljoene, opdragte van ‘n afwesige afkakebeen Hester-wat-in-luuksheid-in-‘n-druglord-se-villa-lê-en-tjoklits-vreet, zoemende stekende bye, botteltjies omkoopheuning vir bankamptenare, korwe en vuilgevatte banknote…sy gaan nou soos ‘n wafferse skelm die nag in verdwyn. Sy koers eers gou kombuis toe om te sien wat sy vinnig kan aas om saam te vat. Die verwoesting laat haar ‘n oomblik in haar spore vassteek en dan tref dit haar soos ‘n gatslag/slaggat/donderslag?? Sy is nou heel deurmekaar en die regte woorde ontwyk haar.
Stadig registreer die oorsaak van die nag se fiasko in haar warkop. Op die versplinterde tafel in die hoek van die verfloiingde kombuis, is ‘n Tupperbak vol poeding, wat duidelik krioel van die lewe. Die deksel bult gevaarlik uit en dis ‘n gegewe, dat dit enige oomblik met ‘n moerse knal, saam met strale deeg die lug in gaan skiet. Langsaan lê die flarde van nog so ‘n bak, bruisend en borrelend met gefranjelliekoseerde-Abrie-en-Toortsie-se-watsenaam-se-tiraGISmoe. Die plafon hang vol druppende stalagtiete en Perdeby lek vies ‘n taai, suur blerts deeg van haar harige voorarm af.
Met ‘n paar bottels Frangelico stewig onder een fris getatoeëerde arm vasgeknyp en verskeie dik pakke blou banknote, wat sy vinnig in haar bonsende oorvol trippel D en gatsakke stop, storm sy na haar byeboerwa. Skielik staan sy versteend, want dis die gesig wat haar begroet…Zoomaway het plek gemaak vir…

Dis seker waarheen die B van die Bali-stalletjie, wat minute gelede verfomfaai is, gelanseer is. Nou glo sy sowaar in spoke.
Skielik ontwikkel sy ‘n vretende lus vir een van Hester se Pablo Esco-tjoklit-Bars…
Ekmyself sal nou verder kalmte met haar musiek moet bring.
Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:
http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=769965
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
Like this:
Like Loading...