Ek is ‘n sentimentele opgaarder en soms as ek kaste regpak, kom ek op goed af uit my verlede, wat my laat terugverlang na ‘n tyd wat was. So ontdek ek toe hierdie handpoppies wat ek en ons bure se dogtertjie lank gelede gemaak het. Ons het alles met oorskiet lappies gemaak en die poppies se gesigte met kleurpotlood geteken. Ek glo nie daar was toe al viltpuntpenne nie. Elke stekie is met die hand gewerk.
‘n Oopgesnyde kartonboks is op ‘n lae tafel staangemaak en die pote toegespan met ‘n ou laken, sodat ons ongesiens onder die tafel kon lê. Gordyntjies wat ons sommer so met die hand oopgetrek het, het die poppekas afgerond. Ek kan nie onthou wat ons as agtergrond gebruik het nie, maar ek is seker dit was ook heel skeppend.
Aanvanklik het ons net lappoppies gehad, maar het later ‘n paar koppe gemaak van papierpap en gom, wat ons geverf het. Die probleem was nou om die lywe aan die koppe vas te sit, maar toe maak ons ook ‘n gawe plan. Die lywe bly los en word net met ‘n rekkie om die wysvinger vasgemaak en die kop kom op die vinger.
In alle erns begin ons toe oefen vir ‘n opvoering. Ek dink daar was Punch en Judy, wat mekaar heeltyd geslaan het en ook ‘n prins en prinses. Natuurlik ‘n seerower en ‘n polisieman ook en ‘n ou omie. Ek kan nie meer sy rol onthou nie, maar hy het sulke bruin plooie op sy voorkop. Daar was ook ‘n mal professor met ‘n draadraambrilletjie en twee van my wisseltande(kiestande) vir oë!
Saterdagmiddag het aangebreek en die hele buurt se kinders was daar. Ons het pakkies spingmielies en lekkers ook verkoop en die opbrengs van die uiters geslaagde vertoning was ‘n hele R2.50! Ons het dit geskenk aan die destydse Transvaler Kersfeesfonds.
Punch en Judy. Judy se oë is twee haarkrullerpennetjies…
Die prinsessie, ons eerste poppie, wat deur my vriendinnetjie gemaak is…
Die ou oom en die prins…
Die konstabel…
Die seerower, wat ook soms ‘n duiwel was. Sy oë is gemaak van tissues wat ons in die holtes gestop het…
Sy volle mondering…
‘n Foto van ‘n lyf, om te wys hoe dit maklik saam met enige kop gebruik kon word…
Die mal professor. Sy oë is my gewisselde kiestande…lol!
Die bedankingsbriefie wat ons gekry het van die sekretaris van die Sinodale Kommissie…
Die kwitansie vir ‘n volle R2.50…
Dit was iewers in Augustus of September 1965, drie-en-vyftig jaar gelede!