‘n Juweeltjie uit my kinderdae

Ek is ‘n sentimentele opgaarder en soms as ek kaste regpak, kom ek op goed af uit my verlede, wat my laat terugverlang na ‘n tyd wat was. So ontdek ek toe hierdie handpoppies wat ek en ons bure se dogtertjie lank gelede gemaak het. Ons het alles met oorskiet lappies gemaak en die poppies se gesigte met kleurpotlood geteken. Ek glo nie daar was toe al viltpuntpenne nie. Elke stekie is met die hand gewerk.

‘n Oopgesnyde kartonboks is op ‘n lae tafel staangemaak en die pote toegespan met ‘n ou laken, sodat ons ongesiens onder die tafel kon lê. Gordyntjies wat ons sommer so met die hand oopgetrek het, het die poppekas afgerond. Ek kan nie onthou wat ons as agtergrond gebruik het nie, maar ek is seker dit was ook heel skeppend.

Aanvanklik het ons net lappoppies gehad, maar het later ‘n paar koppe gemaak van papierpap en gom, wat ons geverf het. Die probleem was nou om die lywe aan die koppe vas te sit, maar toe maak ons ook ‘n gawe plan. Die lywe bly los en word net met ‘n rekkie om die wysvinger vasgemaak en die kop kom op die vinger.

In alle erns begin ons toe oefen vir ‘n opvoering. Ek dink daar was Punch en Judy, wat mekaar heeltyd geslaan het en ook ‘n prins en prinses. Natuurlik ‘n seerower en ‘n polisieman ook en ‘n ou omie. Ek kan nie meer sy rol onthou nie, maar hy het sulke bruin plooie op sy voorkop. Daar was ook ‘n mal professor met ‘n draadraambrilletjie en twee van my wisseltande(kiestande) vir oë!

Saterdagmiddag het aangebreek en die hele buurt se kinders was daar. Ons het pakkies spingmielies en lekkers ook verkoop en die opbrengs van die uiters geslaagde vertoning was ‘n hele R2.50! Ons het dit geskenk aan die destydse Transvaler Kersfeesfonds.

Punch en Judy. Judy se oë is twee haarkrullerpennetjies…

IMG_0395

Die prinsessie, ons eerste poppie, wat deur my vriendinnetjie gemaak is…

IMG_0402

Die ou oom en die prins…

IMG_0403

Die konstabel…

IMG_0405

Die seerower, wat ook soms ‘n duiwel was. Sy oë is gemaak van tissues wat ons in die holtes gestop het…

IMG_0400

Sy volle mondering…

IMG_0407

‘n Foto van ‘n lyf, om te wys hoe dit maklik saam met enige kop gebruik kon word…

IMG_0406

Die mal professor. Sy oë is my gewisselde kiestande…lol!

IMG_0396

Die bedankingsbriefie wat ons gekry het van die sekretaris van die Sinodale Kommissie…

IMG_0408

Die kwitansie vir ‘n volle R2.50…

IMG_0413

 

Dit was iewers in Augustus of September 1965, drie-en-vyftig jaar gelede!

53 Replies to “‘n Juweeltjie uit my kinderdae”

  1. Nou onthou ek ook die pop-makery en poppekas. Ons was darem baie vindingryk gewees. Enige ding kon gebruik word as iets om mee te speel. Sjoe maar jou versameling poppe het goed oorleef tot nou toe. Dankie dat jy dit gedeel het. Mens het sulke poste nodig om te wys hoe goed die lewe was en dalk eintlik nog steeds is as ons net daarvoor gaan soek.

    Liked by 2 people

    1. Die poppies is redelik gehawend, maar het darem die tyd redelik goed deurstaan, Ineke. Ons het vreeslik konsert ook gehou…lekker dae gewees.Vandag se kinders spring op springkastele, kyk tv en speel op klaarvervaardigde klimrame en speelgoed…niks skeppend nie. Eintlik hartseer.

      Like

    1. Ek dink dit was ‘n vreeslike flou vertoning, maar kinders gee nie om daarvoor nie. Hulle gaan mos in hul eie verbeelding in. Dis wat hartseer is vandag, dat die verbeeldingswêreld vernietig word deur klaargeskepte beelde, wat heeldag op skerms in kinders se kele afgedruk word.

      Liked by 1 person

  2. My dogter het handpoppe nodig gehad. Aan die begin van daardie jaar vra ek ‘n baie kreatiewe vriendin om vir my poppe te maak. Alhoewel sy baie opgewonde en vol planne was, het daar min van gekom. Toe sit ek ‘n hele dag en maak poppe, maar die standaard was ook nie reg nie. Genadiglik het hul iewers ‘ordentlike’ poppe in die hande gekry.

    Liked by 1 person

  3. Dink julle was baie kreatief, maar poppe freak my heeltemal uit, nog altyd. Moet sê, ek was mal oor papier-poppe, gedink dis baie cool. En daai wat mens uit mango pitte gemaak het, sommer so hele familie met gesiggies op

    Liked by 1 person

    1. Interessant dat jy dit se van poppe. Ek het al van ‘n paar mense gehoor wat niks van poppe hou nie. My kleinseun haat enige standbeelde en loop wye draaie om enige ding wat soos ‘n mensbeeld of pop lyk.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s