'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak
hang weer oor haar kop en dreig om haar te verswelg. Agt jaar lank al sorg sy vir haar kleinkind wat deur sy ma weggegooi is. Gedurende hierdie tyd het sy ma beswaarlik iets bygedra tot sy opvoeding en moes hy baie verjaarsdae teleurgestel word, as sy nie eers moeite doen om te bel nie. Dan moes Gogo (ouma) maar troos, trane afvee en mooipraat.
Intussen het sy ma weer swanger geraak by ‘n ander man en lewe geskenk aan ‘n dogtertjie. Vir hierdie kind het sy alles gedoen en selfs die geld waarmee sy vir Surprise moes klere koop, gespandeer op pienk goedjies. Juis in hierdie tyd, het sy hom nooit besoek of enige aandag aan hom gegee nie. Die tragedie tref en die dogtertjie sterf onverwags op die tenger ouderdom van vyf maande.
Skielik slaan sy weer by Gogo uit en huil hartroerend oor haar dogtertjie. Sy bieg met trane in haar oë, dat sy Surprise versaak het en weer met sy pa wil regmaak. Intussen het Surprise se pa reeds aanbeweeg met ‘n ander liefde. Toe hy dinge wou regmaak, wou sy nie en noudat sy ellendig is, wil sy weer sake regmaak. Al is Gogo jammer oor die slap mammie se verlies, verseker sy haar die lewe werk nie so nie.
Uit die bloute is daar ‘n foonoproep van slap mammie se pa af en hy dreig vir Gogo dat hy sy kleinkind kom haal.  Sy skop vas en hy dreig haar met die woorde dat sy nie met ‘n Xhosa moet sukkel nie. Surprise het die gesprek oor die foon gehoor en is sommer vir ‘n week lank siek. Die oupa se plan is dat Surprise  Transkei toe moet gaan en by sy ander vrou gaan bly. Hy kan nie die taal praat nie en ken nie eers die mense nie. Hy het nog nooit eers sy oupa gesien nie!
Gogo vermoed hulle wil hom inspan om veewagter te word en hul vuilwerk doen. Wat eintlik agter alles sit, is dat hy weer begin praat oor “damages”. Krismis lê mos weer oom die draai!
Vrydag lui die foon en dis weer die oupa wat begin met sy dreigemente. Gogo was intussen by die welsyn en hulle het aanbeveel dat sy regstappe doen as daar nie tot ‘n vergelyk gekom kan word nie. Die oupa eis nou R7000 vir “damages” en Gogo sê dis regso, maar eers moet hy betaal vir die 8 jaar wat sy die kleinkind versorg het en sy wil ook al die “grant” geld hê wat die ma nooit vir haar gegee het nie. Plus sy gaan ‘n saak van bedrog teen die ma maak, omdat sy die grantkaart gehou het vir eie gebruik. Kliek, die foon is morsdood.
Surprise was weer die hele naweek siek!
My hart is stukkend vir die kind…
Naskrif: Blykbaar is dit ‘n kulturele ding dat die dogter se familie geld kan eis by die seun se familie, as ‘n kind buite die huwelik gebore word.
Hartseerste is dat die oorlede babatjie se pa se familie “damages” moes betaal, terwyl haar lykie al in die lykshuis was…skandalig! Die Xhosa oupa het dit self vir Gogo vertel, as deel van sy dreigtaktiek.
Die verhaal sluit hierby aan https://perdebytjie.wordpress.com/2018/07/03/surprise-wat-n-skat/
Vroegoggend met goue lig en die volmaan nog steeds sigbaar…
Hy stap doelgerig aan…
‘n Ent verder vly hy hom neer …
Bespied die wêreld…
en begin doen wat alle katte doen…was homself van kop tot tone…
Lek elke kolletjie wat hy kan bykom…
tussen die tone…
Kou ‘n paar lastige bosluise af…
Agterpoot in die lug terwyl hy op ongemaklike plekke probeer bykom…
Tussen elke toon word sorgvuldig gelek…
Ek kon skaars by iets uitkom, want die kleinseuntjies was hier vir die naweek.Dit was heerlik om die tweetjies besig te hou. Ouma het selfs geswem, iets wat nie sommer gebeur nie. My dertigjaar-oue swembroek het al amper vergaan, maar moes met ‘n kortbroek bo-oor, sy doel dien. Gelukkig sien klein kinders nie sulke dinge raak nie en was dit groot pret in die water. Die swembad is verhit en het gister op 36 grade C gestaan…dis hoekom ek geswem het!
Verder het ons slangetjies en leertjies gespeel en Ouma het heeltyd verloor! Ook ure in vreemde posisies op die vloer gesit en Lego bou. Die eindproduk…Op ‘n stadium het ek so gekramp, dat ek amper nie kon opstaan nie!
Dit was heerlik om te kyk hoe die kleiner outjie konsentreer op sy eie speletjies…
en ure lank met hierdie 38 jaar oue Fischer Price kasregister speel…
Later doen ek en die vyfjarige eksperimente in die kombuis. Suiker sout en meel word om die beurt in water gemeng, sodat die knapie kan sien hoe dit oplos en hoe die water lyk. Na elke eksperiment gooi hy die water in die drein net langs die agterdeur, maar ouma sien hoe hy die suikerwater sluk…vanwaar ek sit kan ek in die oond se deur sy weerkaatsing sien! Hy is skoon verleë oor hy uitgevang is…ouma het oë agter haar kop!
Om die eksperimente mee af te sluit, maak ons twee pakkies jellie aan en natuurlik word eers die kristalle van ‘n vuil handjie afgelek om te proe en later slurp hy ‘n lepeltjie van die gegeurde water op. Groot opgewondenheid heers, want as mammie en pappie kom gaan hy hulle verras met ‘n bakkie jellie vir elkeen.
Die verrassing was toe ‘n hoogtepunt, maar hy kon nie nalaat om te vertel dat ouma ‘n klein goggatjie uit die jellie moes skep nie. Ook vertel dat ouma gesê het ons eet gereeld goggas en weet dit nie eers altyd nie.
Dit was ‘n prettige naweek saam met die klein mensies, maar nou wink my kooi!
Op 16 November 1908 sien hy die eerste lig in Rotterdam, Nederland. Dis vandag presies  honderd-en-tien jaar gelede.
My pa was ‘n besondere mens. In baie opsigte geheimsinnig en nie vrygewig oor vertellings van homself en sy verlede nie. Sy vader was ‘n skeepsingenieur en was maande lank op see. Sy moeder moes meestal op haar eie regkom met die opvoeding van drie seuns en twee dogters. Sy een sussie sterf tragies op vierjarige ouderdom aan witseerkeel en dit het lewenslank ‘n letsel op hom gelaat.
Die Eerste Wêreldoorlog het vir groot swaarkry gesorg en hy onthou dae van geweldige honger en die slegte kos wat hulle te koop kon kry. Hy het vertel van die broodmes wat sy ma moes skoonvee, elke keer as sy deur ‘n pikswart kluitjierige brood moes sny. Dit het hom altyd bygebly en hy het gereeld vir ons gepreek om nie kos te mors nie. Een van sy sêgoed: “Dis sonde om weg te gooi”, maak vandag nog deel uit van ons familiewoordeskat.
Op skool was hy verveeld en sekere onderwysers het hom as dom bestempel.Tóg het hy later jare studeer en ‘n siviele ingenieur van beroep geword. Die jare dertig in Europa, was moeilik en werkloosheid was aan die orde van die dag. Dit het hom genoop, om vingeralleen ‘n veertien dae seereis aan te pak en in 1936 in Kaapstad aan wal te stap. Hy het sy verloofde en familie agter gelaat met die waarskynlikheid dat hy hulle nooit weer sou sien nie.
Hierdie tydperk is baie duister en ek weet nie veel daarvan nie. Later het hy in Pretoria beland waar hy my ma ontmoet het, waar hulle toevallig in dieselfde losieshuis gewoon het. Op 29 Junie 1946 is hulle getroud en drie kindertjies  is gebore in 1950, 1953 en 1955.
My eerste bewuswording van my pa, was die liedjies wat hy saans met bedtyd vir my gesing het…Nederlandse liedjies …”heb je wel gehoord van de zilvere vloot van Spanje”…”Piet Hein zijn naam was klein”…woorde wat vandag uit my onderbewussyn opslaan. Hy het ook sy eie storietjies opgemaak en ons saans daarmee aan die slaap vertel. Op ‘n stadium het ek vreeslik nagmerries gekry en hy het elke aand as ek verskrik huil, by my kom lê en my vasgehou totdat ek weer rustig raak.
Hy het ons geleer van kuns, musiek, ballet en opera en ons gereeld na uitvoerings geneem. Ek het nou nog sy ou plateversameling, wat ‘n paar waardevolle stukke insluit. Ongelukkig het ons nie meer ‘n grammofoon nie en daardie goed sal seker verlore gaan.
Gereelde uitstappies na Pretoriase Dieretuin, het by my ‘n kennis en liefde vir die natuur gekweek. Ironies genoeg het ons nooit ‘n wildtuin besoek nie. Ek weet nou nog nie wat die rede daarvoor was nie. Ek weet hy was kleurblind en het ook altyd verdwaal….miskien was dit ‘n rede…hy kon nie die diere sien nie!
Hy was verskriklik onhandig en ek onthou toe ons motor eenkeer ‘n pap wiel gehad het, hoe hierdie Nederlander gesukkel en geswets het! Ek het natuurlik met ‘n goeie dosis Nederlandse swetswoorde kennis gemaak en ek onthou hoe ek as tiener, my doodgeskaam het vir my pa se aksent.
Sy humorsin was heerlik en ons het ons soms slap gelag vir hom. By tye kon hy egter baie stil en teruggetrokke raak en het ek later jare besef hy was ‘n depressielyer. Tydens sy laaste jare was hy geweldig siek aan emfiseem vanweë jare se kettingrokery. Hy het wel opgehou, maar dit was te laat. Tydens sy siekbed het hy nooit gekla nie en nog een van sy humoristiese, dog half siniese uitdrukkings was:” Suffer in silence”. Hy het dit behoorlik uitgeleef en is rustig heen vier dae voor sy vier-en-tagtigste verjaarsdag. Sy laaste woorde terwyl die doodsweet hom afpêrel, was: “Heerlik, heerlik!”
Dit sal my altyd bybly, want my lewe saam met hom was altyd net heerlik, heerlik!
Hierdie foto van hom as jong man is waarskynlik vroeg in die dertigerjare geneem…
Troudag 1946…
Vyfuur die oggend staan sy al buite in die donker en wag. Die kliniek maak eers agtuur oop, maar sy weet as sy nie vroeg kom nie, kan sy heeldag wag en later onverrigter sake huis toe gestuur word. Op haar rug peppa sy een van haar tweeling en sus die ander een saggies met sy mondjie aan haar bors.
Die tou word later al hoe langer, soos wat jong mammas met hul babas en kleingoed, vir die nodige inspuitings en gesondheidsorg van hul telge, aankom.
Die personeel kom skuins voor agt stadig aangeslof en sluit lusteloos die kliniekdeure oop. Sy slaak ‘n sug van verligting, want eindelik kan sy gaan sit en omdat sy eerste was, gaan sy sommer vinnig klaar wees. Intussen skreeu die tweetjies luidkeels en sy het haar hande vol om die dubbele las te vertroos.
Sy kry haar leêr en gaan sit in afwagting om eerste nader geroep te word.
‘n Fris oorgewig suster, voer al lank ‘n skrikbewind by hierdie kliniek. Sy skreeu op die mense, stamp hulle rond, stoot kinders uit haar pad en as ‘n moeder met ‘n babatjie en kleuter in die spreekkamer ingaan, stoot sy summier die kleuter by die deur uit en dié moet huilend buite wag, totdat sy klaar is om die baba te weeg en in te spuit.
Die suster kyk in die lokaal rond, kry ‘n gemene trek op haar gesig en sit tweelingmamma se leêr onder in die bondel. Die dag kan begin en die eerste pasiënt is nié tweelingmamma nie! Sy protesteer luidkeels, maar kry ‘n gruwelike afjak by die mislike suster.
Woede klop rou in haar gemoed en sy kan voel hoe die bloed in haar slape pols. Sy lê die tweeling, wat genadiglik nou stil is, versigtig op die vloer langs haar stoel neer, rol haar moue op en stap doelgerig na die spreekkamer. Sy ruk die deur oop en gryp die suster aan die arm. Sy smyt die vrou voor almal op die vloer neer en gee haar ‘n paar goeie opstoppers. Mislike suster keer vir die vale, maar die houe reën op haar drillende lyf. ‘n Gejuig gaan op in die wagkamer, gepaardgaande met ululuuu-vreugdekrete!
Geskok en dikbek syg die suster in ‘n stoel neer en weier om verder te werk. Die ander susters neem oor en daar is ‘n algemene gevoel van verligting dat iemand die moed gehad het om hierdie aartsboelie te konfronteer.
Dié tipe optrede is natuurlik heel onwenslik en tweelingmamma gee uit haar eie haar naam en adres vir die suster en moedig haar aan om die polisie te bring en ‘n saak teen haar te maak.
Intussen het daar niks van gekom nie en mislike suster is so mak soos ‘n lammetjie….tot volgende keer.
Hierdie is ‘n ware verhaal wat hom elke dag in ons hospitale en klinieke afspeel. Mens kan nie veralgemeen nie, maar mense in gesagsposisies hou veral die armes, wat nie kan betaal nie, gyselaar, met hul stink baasspelerige houdings.
Ses klein leeutjies lê waaksaam en wag vir Mammaleeu. Hulle is slegs twee wekies oud en baie kwesbaar. Mamma het hulle in digte grasse gelos om vir haarself te gaan kos soek. Skielik is daar ‘n geweldige geraas en ‘n groen monster op vier wiele versteur hul middagslapie. Verskrik probeer hulle almal gelyk tussen twee dik stamme van ‘n hardekoolboom inkruip…
Gelukkig is dit gawe mense en omdat ons leeutjies in ‘n reservaat grootword, sal hulle vinnig gewoond raak aan hierdie snaakse tweebeniges wat in groen voertuie, heeldag op hul spoor is. Die dapperste enetjie loer nuuskierig agter die stam uit…
Sy bekkie hang eintlik oop van nuuskierigheid…
Lyk darem nie of daar gevaar is nie en sy koppie rus gemaklik op sy pootjie…
Die ander outjies voel ook nou meer gemaklik en enetjie kruip selfs onder die gras uit en bekyk die wêreld…
Die ogies is nog sommer blou, omdat die kleingoed nog so jonk is…
Saam lê hulle snoesig en mens sien net pootjies en naels. Hulle mag dalk net twee wekies oud wees, maar pasop daarvoor…
Ai, die vaakte oorval ‘n kleinding so op die hitte van die dag…
Ogies toe, doedoe…netnou kom Mammie met ons melkies…
Lekker lui…
Lek gou eers die lyf met agterpoot in die lug…
Die begin van ‘n lekker gaap…
Nog ‘n bietjie groter…
en nog groter…
Gaan lê langs die dam…
Vertrek op ‘n jagtog op soek na kos…
Hier kom ek, pasop…
Die nag lê voor en ek is honger…
laat my geliefde witstinkhoutboom in die stof byt! Ons het hom self agt-en-twintig jaar gelede geplant en toe ons vanoggend tuiskom na ‘n heerlike lang naweek, lê hy uitgestrek met sy takke tot amper binne in manlief se kantoor…
Lê halfpad op die bure se huis. Hulle het dit nie eers agtergekom nie, want die boom gooi so ‘n digte skaduwee op hul kombuis, dat die gevalle boom dit nie ekstra donker laat lyk het nie…
Morsaf geknak teen die grond…By nadere ondersoek is dit duidelik dat die boom homself doodgewurg het. In Engels staan die toestand bekend as ” girdling roots”. Lees hier:  http://www.collierarbor.com/probGirdling-Roots.php  Ons is al lankal bewus hiervan, maar het nie verwag dat die boom so ernstig aangetas is nie…
Manlief en ons tuinier, Obed, het nou die moeilike takie om dÃe boom op te saag en te verwyder…
Ek hou my hart vas, want die twee is nie meer so jonk nie…twee mudalas (ou mans) hoog in die takke…
Ai, ek gaan my boom mis…
‘n Rukkie later lyk dit soos ‘n slagveld…
Hierdie bloguitdaging is aanvaar deur 14 Afrikaanse bloggers wat ñ virtuele toer deur Suid-Afrika gaan onderneem. Die gasblogger van die week moet op ñ Donderdag, op die datum wat toegewys is, ñ blog publiseer oor hulle tuisdorp/streek, asook ñ fiktiewe weergawe van die ander 13 bloggers se kuier by sy/haar tuisdorp.
Klik op hierdie skakel om die lys van deelnemende gasbloggers te sien, asook die datums waarop hulle blogposse gepubliseer gaan word.
Die 13 kuiergasbloggers vir die week (en hul lesers) kan dan vir die res van die week ook blogposse bylas waarin hulle beskryf hoe hulle die kuier geniet het, of hulle kan ñ blog skryf oor die streek waarin die gasblogger van die week die kuiergaste onthaal het – vertel van ñ eie ondervinding in daardie provinsie/streek/dorp, deel herinneringe of plaas fotos wat daar geneem is. Enige lekker storie sal doen solank dit in die gasblogger se streek/provinsie afspeel. Kuiergasbloggers en hulle lesers moet asseblief ook hulle skakels byvoeg op InLinkz sodat ons almal kan saamlees.
Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, kliek op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928
Die groen bus rammel vroegoggend die hoëvelddorpie, Dullstroom binne…
Dis forelwêreld en orals is tekens van hierdie lonende bedryf…
Die veertien dames is opgewonde en slaggereed om die dorp met al sy oulike winkeltjies en eetplekke te verken. Die hoofstraat is slegs twee kilometer lank, dan is mens deur die dorp…
Maar o wee! By die ingang van die dorp, word ons voorgekeer deur twee fris borselkop verkeerskonstabels. Hulle het glo opdrag ontvang om ons deur die dorp te begelei, anderkant uit. Blykbaar het ons swak reputasie ons vooruitgegaan en die bron van inligting, was niemand anders as Broodina Barber nie!
Sy verdien sowaar deesdae haar brood by die plaaslike koerant, Die Vet Forel. Sy beklee die pos Verslaggeefster van Immorele Sake en hou haar uitsluitlik besig met vervolging van diesulke oortreders. Gmff..sy is eerder ‘n forel in ‘n haaivel!
Gelukkig het Perdeby ‘n plan B en soos die bus stadig deur die dorp ry, kliek en kliek haar kamera. Soos ‘n wafferse toergids, vertel sy van al die interessanthede.
Die klokwinkel spog met die grootste versameling klokke in die suidelike halfrond. Daar is 7000 verskillende ontwerpe!
Groot advertensieborde dui ook aan waar die beste biltong en verblyf beskikbaar is…
Daar is oral klein winkelsentrumpies met interessante plekke soos die kunsgalery, Bergenkaasfabriek en antieke winkel…
Hierdie advertensiebord dui ‘n baie gewilde plek aan…
Hier kan mens van die beste whiskys en gin proe en koop, maar gelukkig het die Broodbus sy eie versteekte voorraad drankies onder verskeie sitplekke…
Kleurvolle winkeltjies onder andere Van Sand se handgemaakte glasjuwele…
Eetplekke kroeë en blyplekke…
Die Slaghuis, onder pragtige skaduryke bome. Bekend vir sy heerlike wors…
Nog ‘n paar sentrums met oulike name…
Dis ‘n kunstenaarsdorpie en hierdie vrolike winkeltjie met sy ewe vrolike afleweringsvoertuig, verskaf die nodige materiale vir die skeppendes…
Een van die oudste geboutjies is Rose Cottage. Van die mure bestaan nog uit sinkpklaat…
Nog ‘n ou juweel is The Old Transvaal Inn…
Die laaste winkelsentrum net voordat mens anderkant die dorp uitgaan…
Individuele winkeltjies in die laaste sentrum…
Die heel lekkerste melkskommels kan hier gekoop word…
Hierdie winkeltjie is bekend vir die lekkerste forel- en hoenderpasteie, gerookte forel, peperforel en ander heerlike plaasprodukte soos neute , konfyt en lekkernye…
Daar is darem ‘n paar drinkplekke ook vir die manne…
en vir die koffieliefhebbers…Die dames is nou baie teleurgesteld, want hulle wou fisies al die plekke besoek het. Perdeby het haar hande vol om hul tot bedaring te bring. Ontstoke gooi hulle brode in die bus rond en gil: “Weg met Broodina! Voer haar vir die forelle!”
Na ‘n paar foonoproepe en ‘n vinnige inventaris van ons diamantsake, wat nougeset deur Tannie Frannie, onder ‘n spierewit styfgestyselde doekie, in haar broodmandjie, beheer word, kondig Perdeby plan C aan.
Tien kilometer anderkant die dorp, draai Lorenzo die bus van die hoofpad af. Die dames snak na hul asems, want die pad draai en kronkel bergaf tot doer onder in ‘n vallei…
Ons is by ‘n pragtige landgoed, genaamd, Walkersons…Toe die klomp hoor ons gaan tuis in die hotel, is die teleurstelling van flussies, sommer vergete. ‘n Paar mompel nog onderlangse wraakgedagtes van brode en vishoeke en etlike onnoembare wreedhede teenoor ene me Barber, maar bedaar by aanskoue van die heerlike bederf wat voorlê.
Die hotel met sy pragtige roostuin, lyk sommer aanloklik…
Daar is ‘n interessante beeld van ‘n jagluiperd, wat dadelik die aandag trek…
Vir die teurgestelde dames wag daar ‘n verrassing. Almal gaan vanmiddag bederf word met ‘n heerlike massering by die Spa…
Diegene wat nie daarvan hou dat aan hul lywe gevat word nie, het ‘n keuse van perdry…
swem…
of stap. Maar eers word almal ingeboek in netjiese chalets en hotelkamers…
Die rustige tuine laat die opgeruide gemoedere vinnig kalmeer…
‘n Lieflike tafel is spesiaal op die hotelstoep vir die Towerinne gedek met ekstra spasie vir al die meelopers en meesluipers ook…Die aanhangers moet egter self sorg vir verblyf, want ons diamantjies kan ook net sóveel onkostes dek!
Die staptog is deur en deur die moeite werd. Die landelike omgewing met sy veertien foreldamme en stilte, is salf vir die siel…
Die hotel in goue oggendlig…
Pragtige staproetes lewer mooi tonele op…
Lekker bankies om op te rus langs die pad…
Veldblommetjies begin ontwaak na ‘n baie droë winter…
‘n Besondere plant tussen rotse…
In die damme blom die Irisse geil en goudgeel…
‘n Kiepersol, verlep en verslete na die koue winter, stoot nuwe blare uit…
Ragfyn blaartjies van ‘n boomvaring rol versigtig oop…
Die dooie blare van die vorige seisoen is nog heel sigbaar. Gedurende die winter het hierdie blare die kern van die plant beskerm teen die koue…
Die Swartkopwielewaal (Black-headed Oriole) is een van die honderd nege-en-tagtig  soorte voëls wat al  hier opgemerk is…
Die Kaapse bosbontrokkie (Cape Batis) is nog een van die vele mooi geveerdes in hierdie geweste…
‘n Skugter duikertjie loer agter die bome uit…Die dames is in vervoering. Vergete is Broodina en haar mislike geaardheid, vergete is die lastige paparazzo, sy vriende en al die meelopers, motorfietsryers en buitelandse toeriste.
Balans is wat ons nou nodig het. Ons fokus, fokus, fokus net op ons innerlike self…
Die volgende dag, oppad na ons volgende bestemming, doen ons aan by die baie gewilde roofvoëlrehabilitasiesentrum…Dis ‘n absolute móét om ‘n vertoning hier by te woon! ‘n Besoek aan die hokke vol beseerde en gerehabiliteerde voëls, laat mens weereens besef watter wonderlike werk deur toegewyde natuurliefhebbers gedoen word.
Hierdie Witkruisarend (Verreaux’s Eagle) is een van ons grootste arende en ‘n opgeleide roofvoëlkundige dame verstom ons groep, met al die verskillende voëls, soos ‘n uil, edelvalk, sekretarisvoël en hierdie pragtige Witkruisarend, waarmee sy vir ons ‘n vertoning hou…
Kyk sy reusagtige kloue…
Hierna vertrek die groen Broodbus met ‘n hele entourage volgelinge, bestaande uit motorfietsryers, paparazzi, buitelandse besoekers en heelwat nuuskieriges, wat intussen aangesluit het, op die volgende been van ons toer. Kwazulu Natal, hier kom ons…
Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer
My stories
Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals
It's Religion, stupid!
On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....
Myriad memories frozen in time
Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.
'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak
British Wildlife & Photography
Musings on Life - Creative Writing - Environment
potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue
'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.
Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen
Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"
persoonlike blog - cam venter
Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS
Simone Foedrowitz - Naturfotografie +