Mooiste katte…
Ek het bietjie gaan blaai deur my ou foto’s en gesoek vir my bestes van jagluiperds. Aangesien dit my gunsteling dier is, het ek nou sommer ‘n hele fotogalery saamgestel…
Geen woorde is nodig om hierdie koninklike, hoogsbedreigde diere te beskryf nie. Oordeel self…
Uitstappie in die veld.
Ek en die brakkies stap vanoggend in die veld en sien wonderlike dinge raak…
Pragtige veldblomme…
Wie loer daar?
Kaapse Glasogie (Cape White-eye) knyp ‘n stukkie boombas los, op soek na insekte…
Nog ‘n skugter bosbewonertjie is die Lawaaimakerjanfrederik (Chorister Robin-Chat) en hy laat ons nie toe om ‘n ordentlike foto te neem nie…
Swartoogtiptol (Dark-capped Bulbul) sit egter oop en bloot en pof sy veertjies in die skrapse oggendsonnetjie…
Oppad na die rantjie sien ons hierdie pragtige grassade…
en nog veldblommetjies vol insekte…
Bo-op die grasrant sien ons ‘n eensame rooihartebees, wat dink hy is ‘n blesbok…
Hy wei altyd saam met die blesbokke…
en ou eenhoring…
Vir oulaas loer iemand ons af…Oranjekeelkalkoentjie (Cape Longclaw)…
My wapens teen beurtkrag…
Vir my Nederlandse lesers…ons gaan tans gebuk onder beurtkrag. Dit beteken dat ons nasionale kragnetwerk nie genoeg elektrisiteit kan opwek om in die vraag te voorsien nie en dan word krag beurtelings vir ‘n aantal ure na alle gebiede afgeskakel. Die rede hiervoor is jare se korrupsie, onkundigheid en tans bankrotskap en skuld van miljarde.
Dis chaos op die paaie, banke is gesluit, winkels kan net beperkte besigheid doen, sommige besighede is besig om onder te gaan as gevolg van die verlies aan inkomste…die prentjie is duister.
Hierdie twee vrugteflesse met hul sonkragskyfies, is my lig in die duisternis.
Voorkant…
Agterkant…Die probleem is net, ons het drie dae laas son gehad, dus is die lig amper uitgedoof. Ek kla egter nie oor die broodnodige reën nie…ek sit liewer in die donker!
Die Valentyn wat ek liefs wil vergeet.
Ek het nooit baie kêrels gehad nie, was maar ‘n skaam jongmens. In my jeugjare was daar nie iets soos Valentynsdag nie en dis maar eers die laaste paar jare wat hierdie storie in SA begin kop uitsteek het. Dus, mens het nie so ‘n dag nodig om in elk geval ‘n totale gek van jouself te maak wat die liefde betref nie.
Die storie gaan eintlik oor my suster. Die seuns het soos bye om haar gezoem en reeds in standerd vyf op ouderdom twaalf, het sy al ‘n vaste kêrel gehad. Op hoërskool het die matriekseuns slote getrap na ons voordeur en wie moes altyd die deur vir hulle oopmaak? Die uwe, armsalige ekke, droëbek, wat nooit ‘n man se knieë kon lam maak nie.
Sommige kêrels was nie baie welkom nie en dan was dit my onaangename takie om vir hulle te jok, dat sus nie tuis is nie. Een so ‘n knaap, was onafskudbaar soos ‘n bosluis en wou maar net nie die boodskap kry nie. Eendag klop hy weer aan die deur en sus wat in die sitkamer was, kruip hande-viervoet by die sydeur uit en los my om die leuen te vertel. Hy sê toe dat hy haar deur die venster gesien vlug het! Ek het soos ‘n totale gek gevoel, maar dit was die laaste sien van dié blikkantien!
Wat my eie liefdes betref…ek hou dit maar geheim.
Inlinkzskakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=816460
Vir Dries…
Hierdie is ‘n skaars standvoël en hoogtetrekvoël in bergwoud en digte struikgewas. Dis ‘n Rooibektiptol. Lioptilus nigricapillus (Bush Blackcap). Ek was baie opgewonde toe ek hom raakgesien het, want dit was ‘n eerste vir my…
Sommer enetjie vir die pret… ‘n Sneeubal. Dis ‘n klein boslaksman.(Black-backed Puffback).
‘n Mooi verhaal.

My bydrae tot blokraai woordsnoere.
Dis Woensdagmiddag. ‘n Gees van opgewondenheid heers in die township. Van orals kom hulle aan en gly teen die skuinste af wat lei na die oop grasveld, waar die klein lorrietjie elke week parkeer. Die rede vir hierdie samekoms, is ‘n wenresep vir opvoeding.
Dit gebeur juis na skool en kinders vol lewenslus, kom met hul honde hier bymekaar om ietsie te leer, oor versorging van troeteldiere. Honde so groot soos oerangoetangs, middelslag honde, klein brakkies, meeste aan leibande, kom met hul base aangeswerm om hul kleims af te steek.
Aanvanklik lyk dit soos ‘n komedie wat hom hier afspeel en die hewige belangstelling, prikkel die buitestaander se nuuskierigheid. Wat sou die aantrekkingskrag wees en wat gaan eintlik hier aan?
Op eie inisiatief is iemand besig om elke Woensdag die kinders te help om hul diere te bad. Hulle moet self inspring, seep smeer, was en afspoel. As hulle klaar is, lyk die eens vuil en verwaarloosde diere weer moedermooi!
Sommige word eenkant geïsoleer en mooi ondersoek. Ontwurming word gedoen en raad uitgedeel oor moontlike makabere velsiektes of septiese aandoenings op die dierelyfies.
In ons droewe land moet politici ophou om deur hul enge getinte lense te kyk en liewer hulself vergewis van die fenomenale bydrae wat vrywillige engele daagliks verrig.
Besondere natuurdinge…
het my lewenspad die afgelope week gekruis…