
(Definisie van Rieldans: Dis ‘n Khoisan woord vir ‘n oeroue feesvierende dans wat uitgevoer is deur die San, Nama en Khoi. Dis een van die oudste inheemse dansvorme in Suid-Afrika.)
Gisteroggend, nadat ek heerlik op my klavier, my eie esoteriese musiek gemaak het, staan ek op en raak by die deur van die vertrek, verstrengel in ‘n taai spinnerak.
Dit span soos ‘n gordel om my en as ek die aardbol was, kon ek sweer dis die Diereriem, in die hemelruim, wat my so vastrek.
By nadere ondersoek, ontdek ek die klein moegoe, wat verantwoordelik is vir my taai ontvangs.Ek keur enige agtpotiges in my huis goed en sal selfs ‘n ode en lofrede aan hierdie wonderlike wesentjies wy. As dit egter ‘n knopie-, sak- of vioolspinnekop is, is dit blitsig uit by die deur!
Ek som die situasie op…ta sit styf teen die dakbalk, netjies langs ‘n perfekte stekelrige, kompakte eierballetjie. Hierdie spinnekoppies gaan een van die dae uitbroei en hulle is beslis nie welkom in my huis nie!
Ek en getroue huishulp, Leah, koukus oor wat ons te doen staan. Sy probeer die onnut met die lang verestoffer gaffel, maar Tannie Spinnie kruip styf teen die plafon vas, soos ‘n mollusk in ‘n skulpdoppie in.
Dapper Dien sleep die driesport trapleertjie nader, snipper vinnig ‘n stuk stewige papier uit my skryfblok, gryp ‘n glas in die kombuis en staan slaggereed nader met my spinnekop-vangwapens.
Ek voer gereeld sulke uitsmytsessies uit, maar nie in so ‘n buitengewone posisie nie. Op vyf-en-sestig is ek seker ‘n idealis om te dink dat ek nog flinke toertjies op ‘n leer kan uithaal. Sonder verdere omhaal, begin operasie spinnerasie. Ek krap eers die eierballetjie in die glas in en probeer daarna die spinnekop loswoel. Sy klou soos ‘n neet en dis net hier waar dinge begin skeef loop!
Skielik stort sy na benede, skoon verby die glas. Ek gil soos ‘n maer vark, want vir ‘n oomblik kon ek sweer sy het tussen my twee deinende boesems ingetuimel! Ek palielie om balans te hou. My arms maal soos die wieke van ‘n Hollandse windmeul deur die lug en steeds klou ek verbete aan die glas.
Leah se oë is so spierewit geskrik, dat mens skaars die irisse kan sien. My ore ruis van vars vrygestelde adrenalien. Met een been trap ek van die boonste sport af, reguit vloer toe en voer ‘n volmaakte maxisplit uit, wat ‘n gesoute gimnas na asem sal laat snak. Heel waarskynlik gaan ‘n paar binnebeen- en liesspiere vir ‘n paar dae lank lekker seer wees.
Steeds klouend aan die glas en met ‘n vermiste spinnekop, ruk en pluk ek aan my klere en loer van bo af lyflangs, by my klere in. Gelukkig sien Leah die swart opgerolde bolletjie op die vloer en blitsig plak ek die glas bo-oor haar…net betyds, want die bolletjie kan nie langer haar vrees opkrop nie, rol vinnig oop en verander in ‘n spinnekop op ‘n missie. Sy is nou boos en krabbel rond binne in die glas. Met die papier veilig bo-oor, neem ek haar buite toe.
Ek kon sekerlik myself baie pyn en lyding gespaar het, deur net die dierasietjie dood te maak. As ek egter sien hoe die mens met die natuur omgaan, kan ek dit nie oor my hart kry om enige lewende wese seer te maak nie.
Sy is nou ‘n nimf in my tuin, beskermend op haar eierballetjie, waar ek haar versigtig gaan bêre het onder die plante.
———————————————————————————————
Goue wawielwebspinnekop en haar mannetjies…
Wil jy saam woordsnoer? So maak mens :
Jy kan ‘n enkele woord as inspirasie vonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het.
Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.
Onthou om die prentjie hierbo en ook die skakel hieronder in jou bydrae in te sluit. En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!
https://fresh.inlinkz.com/p/fc81e88db2e742a4bc7e4b37c8f99154
Speel en dink en verbeel en skryf met ons mooiste taal.
Lekker snoer.
Like this:
Like Loading...