Ekke…

Hester se uitdaging het my diep laat dink. Eers wou ek nie deelneem nie, toe besluit ek om dit privaat te skryf. Sy het egter so kwaai geklink, dat ek dit maar goed gedink het om my karakter hier oop te vlek vir almal om te lees.

Ek is baie sensitief teenoor onreg en kry soms bitter swaar daaroor. Ek kan my dit verskriklik aantrek as mense of diere te na gekom word. Ek sal sommer in die middel van die nag myself wakker  huil as ek gehoor het van een of ander gruwelikheid. Die gevolg is dat ek beperk nuus luister en skaars koerant lees, want dit doen my niks goed nie.

Ek is geweldig skepties en vreet niks vir soetkoek op nie. Dit veroorsaak dat ek nie ‘n navolger van enige bepaalde denkwyse is nie en myself eerder vergewis van feite en my eie gevolgtrekkings maak. Dis ook waarom ek ateïsties is en glo dat aardverhitting ‘n helse groot klug is. In dieselfde asem kan ek byvoeg, dat ek almal hul eie denkwyses en geloof gun en nooit iemand sal aantas daaroor nie, behalwe as hulle met my skoorsoek.

Ek het  breë skouers, vir almal se trane en is lief om vir hartseer mense raad te gee en hulle te bemoedig in slegte tye.

Ek lees geweldig wyd, maar onthou deesdae bitter min van wat ek lees…ek wonder hoekom?

Ek hou daarvan om sosiaal te wees in klein groepies, maar kan ook lank alleen wees met my eie gedagtes. Ek sal ure op my klavier tokkel, sonder om te konsentreer wat ek speel, maar eerder die musiek as agtergrond hoor, terwyl ek oor verskeie mense en dinge dink. Soms laat dit my sommer huil, as die musiek iets hartseer in my wakker maak, terwyl ek byvoorbeeld oor siekes of oorledenes dink…gek né!

Die natuur is my kerk en ek kan nie genoeg daarvan kry nie, soos julle al tot vervelens toe agtergekom het.

Ek haat lawaai en harde musiek en soms is ek bly my een oor is amper doof. Die afgelope paar dae was daar ‘n kriekende kriek in my kamer, en kon ek net op die goeie oor lê en daai laspos met sy getjirp, ‘n heerlike dowe kap!

Ek is van nature ‘n negatiewe mens, wat deur baie hard daaraan te werk, dit omgeswaai het om positief te wees. Die politiek en gebeure in ons land is deesdae egter ‘n helse stok in die speke van my waentjie se wiele!

Ek het ‘n heerlike humorsin en lag graag vir myself. Ek praat ook heeldag met myself en soms blaf my een brakkie, want hy dink hier is mense. Dan is dit net Perdeby in gesprek. Ek hou van stoutigheid, maar sonder banaliteit en toilethumor.

Sekerlik my swakste eienskap is ongeduld. Dit veroorsaak dat ek soms baie humeurig kan raak, maar ek word vinnig weer goed. Ek vergewe maklik en haat stilstuipe. Dinge moet dadelik uitgeklaar word. Daar is nie tyd om te sit en broei nie…dit gee te veel grasie vir iets leliks om uit te broei!

Ek is haastig van geaardheid, verpes dit as iemand laat is vir ‘n afspraak, is altyd betyds of te vroeg by ‘n plek, stap vinnig waar ek wil wees, haat dit om in winkels rond te drentel, hardloop net in en uit vir die nodige…kortom ek is nie ‘n ” shopper” nie.

Ek is hoogs gespanne…ook een van my swak eienskappe, maar ek steek dit baie goed weg. My swetende hande en voete is die enigste getuienis hiervan, maar ek klad dit diskreet droog met ‘n sakdoek.

Ek sal my klere van my lyf af gee vir iemand wat dit nodig het en ek is altyd respekvol teenoor almal, hoe gering ookal. As iemand werklik sy bes gedoen het, al is dit nie na wense nie, sal ek aanmoedig en komplimenteer.

Ek is in baie opsigte ‘n perfeksionis, maar darem nie heeltemal ‘n pyn nie…mal oor ‘n besem en lappie! Vee, vee as ek kans kry. Dis terapeuties vir my.

Ek weet nie hoe mense my beleef nie, maar ek gee nie om nie. Ek is gelukkig in my vel, netsoos ek is.

Hier is die Inlinkz-skakel vir die uitdaging: https://fresh.inlinkz.com/p/6061e1ded6fa403bb328f7fe5decfe6d

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

65 Replies to “Ekke…”

  1. Ag, ek hou sommer nog altyd van jou, al het jy nou eers hier kom kerplaks oor voorkeure, afkeure, goedkeure en humeure. 😉 Jou talente met die kamera en die plesier wat jou passie vir my bring is ‘n seëning. Ek sê altyd ek sal tot die dood baklei om jou vryheid en regte te verdedig, as jy dieselfde vir my sal doen. Ons is elkeen uniek onsself, dit maak die lewe interessant. Bly jy tel onder my maters. Mwah! Die Lappie en stoffer – ons twee sal kan saam huishou! 😉

    Liked by 3 people

    1. Ek voel ook dat elkeen die reg het tot sy eie keuses, sonder dat iemand hom aantas daaroor. Hahaaa, vir daai lappie! My skoonma het my altyd uitgelag omdat ek so loop en afvee met die lappie. Vandag mis ek haar spottery.

      Like

  2. Haai ou Bytjie ek is verstom. Jy het soveel van my eienskappe neergepen dat ek dog jy skinner van my. Behalwe ek is glad nie perfeksionisties nie, glad nie lief vir die besem en lappie nie, jy kan my deel ook maar doen daar, haha. Jy doen wat ek graag wou, daai in die veld leef en kiek…..ek sal maar teken wat jy kiek. Ongeduld is ook my swakheid veral met myself… maar darem nie so humeurig nie…
    daar is nog een groot verskil tussen ons en jy weet wat. Maar weet jy, ek was van die begin af mal oor jou en is steeds baie bly jy is ‘n mater van my…..en ek hoop steeds ek kan eendag “for real”saam met jou op so veld ekspidisie gaan, nie towerin style nie, FOR REAL

    Liked by 2 people

  3. Ek het nou hierdie geniet Perdebytjie en sommer ‘n sagte plekkie vir jou gekry oor jou groot omgee. Ek sien jou voor daardie klavier sit en speel besig met jou eie gedagtes. Ek het nou drie prentjies van jou….jy in jou tentjie…jy voor die klavier…en jy met jou lappie!!! O ja, en jy wat val….😂😂😂 konnie dit verby laat gaan nie.

    Liked by 3 people

  4. “Ek is haastig van geaardheid, verpes dit as iemand laat is vir ‘n afspraak, is altyd betyds of te vroeg by ‘n plek, stap vinnig waar ek wil wees, haat dit om in winkels rond te drentel, hardloop net in en uit vir die nodige…kortom ek is nie ‘n ” shopper” nie.: – This is me to a T!

    Liked by 2 people

  5. Daar steek baie waarheid in die sêding “birds of feather flock together” – ek deel ook ‘n hele paar karaktereienskappe met jou, skeptisisme, ongeduld, haastigheid, maar boweal die liefde vir natuur en die humorsin. Dankie vir die oopvlekking – ek hou baie van dit wat ek sien.

    Liked by 3 people

  6. Ek dink met hierdie uitdaging het dit aan die lig gekom dat so baie van ons dieselfde eienskappe deel….ons manier van toepas verksil dalk net. Dankie vir jou hart oopmaak, Perdebytjie…ek vermoed ons sal mekaar wel eendag ontmoet….hierdie blog is ‘n geval van “great minds…”

    Liked by 3 people

  7. O ek wens so ek kon tog clavier speel. Of tjello. 🙂

    So van die lappie gepraat – iemand wat ek ken sê hy staan altyd met ‘n lappie in sy hande by ‘n braai. Niemand pla hom vir drankies of so nie want dit lyk die hele tyd of hy besig is 😆

    Liked by 2 people

  8. Ek ken jou nou ‘n bietjie beter… alhoewel ek al lankal vermoed het dat jy ‘n perfeksionis is! Jou fotos en skrywyse verklap dit!
    Net so btw… ek sal nooit verveeld raak met jou fotos en stories nie!
    Ook maar goed jy bly nie in Ierland nie… Suid Afrikaanse stiptelikheid werk nie hier nie. Ons vergelyk dit dikwils mt “Afrika tyd!!” 😉

    Liked by 2 people

  9. Dit wat jy van jouself skryf, is hoe ek jou beleef. Jy druk nie jou wil op enige persoon af nie, maar jou menslikheid en omgee staan duidelik uit. Ook die respek wat jy vir jouself en ander het.

    Liked by 3 people

    1. Dankie Tina! Jy ken my al die langste van al die bloggers. Destyds het ek as ‘n groentjie daar by LitNet begin. Ek was so onseker van die tegnologie en met jou aanmoediging het ek vasgebyt en vandag is ek nie vir ‘n oomblik spyt nie. Ek sal jou altyd beskou as my eerste internetvriendin!

      Liked by 2 people

  10. Ag jou fotos ontroer my menige dag, so dankbaar jy deel jou talente. Soms wonder ek of karaktertrekke in ons geboender is..was ons ouers so .. iewers moes iets vasgesteek het. Ek hou veral van ‘ ..ek is gelukkig in my vel’ ..dit is kosbaar . Dit vertel so baie oor jou diepe karakter. Dankie vir die deel Perdebytjie

    Liked by 2 people

      1. Urbanols soos smarties geeët, niks gehelp nie. Nou Zanor/Azor ons maar, rook soos ‘n skoorsteen en vloek soos’ n matroos. Nog nie sonder perke begin drink nie, slegs per geleentheid… 😂🤣🍻

        Liked by 1 person

  11. I used google translate to get a quick idea of what you are writing about….and it was interesting getting to know you better. 🙂 Sweeping therapy – something we have in common. As well as the church of nature. 🙂

    Liked by 1 person

  12. Bietjie mostert na die maal maar ek kry skaars tyd om my daaglikse dingetjies gedoen te kry.Diereliefhebber is vir my die belangrikste eienskap in die lewe. As jy omgee vir diere het jy beslis n hart van goud. Jy is baie spesiaal in my lewe. as ek jou blog besoek het voel ek sommer geestelik weer hernu. Ek sien jou in my gedagtes met jou stowwer/lappie gedurig aan die afstof! Wat doen jy as jy kamp? Baie lief vir jou.

    Liked by 1 person

    1. Dis nou net die woorde wat ek vandag wil hoor, dankie Ineke! Jy is baie na aan my hart. Met ons Nederlandse agtergrond en dieselfde liefdes en belangstellings, het ek van die begin af gevoel dat ons ‘n spesiale band het.

      Like

      1. Dis tog interessant hoe kulture sekere maniere het van dinge doen en aanleer. Ouers het darem n groot invloed met die voorbeelde wat hul voorhou. Ek kom selfs agter met my kind dat daar sekere eg Hollandse eienskappe is. (Sal dit natuurlik nie sommer vir hom vertel nie!) Ek voel ook dat ons van die begin af aanklank gevind het. Tina het my ook soosrt van “gedwing” om by Litnet te begin blog wat my net nie geval het nie. Ek’t toe op my eie by WordPress begin en sy het later toe ook met n gebrom oorgeskuif.

        Liked by 1 person

Leave a comment

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +