Gistermiddag laai ek my huishulp en tuinier by die taxi-staanplek af. Dis langs ons dorpsswembad en daar is ‘n toegekampte area met ‘n grasperkie. Wat was my verbasing groot toe ek dít sien…
Met my ewige nuuskierigheid, maak ek dit toe my besigheid om uit te vind wat aangaan. Aanvanklik was ek vies en lus om die DBV in kennis te stel van iets wat heeltemal vreemd en verdag lyk.
Die verhaal gaan so….oorkant die straat is ‘n dierehospitaal en dis een van hul pasiëntjies. Hy is ‘n wesie en het sorg nodig gehad. Hy word viermaal per dag met ‘n bottel gevoed en verder eet hy die gras daar in die kampie. Sy naam is Cooper die Swartwitpenskalfie. (Sable Antelope).
Perdeby het vanmiddag deur die fyn heining foto’s gaan neem en was gelukkig om te sien hoe Cooper deur ‘n werker van die veearts, versorg word. Hier word ‘n haltertjie om hom gesit…
Die hek gaan oop en hy word versigtig gedra. Die son sak en dis slaaptyd. Die outjie word saans veilig toegemaak in die hospitaal…
Die dierehospitaal is net ‘n entjie verder en boklam is ewe rustig in sy helper se arms…
Ek het skelm die foto’s geneem van agter ‘n boom, maar die helper se glimlag laat my dink hy was bewus van my…
Nag Cooper, word gou gesond en groot dat jy weer deel van jou trop kan wees…
Eendag gaan jy so lyk…
Intussen spoed ‘n oulike fiets verby met ‘n tuisgemaakte sleepwaentjie agteraan. Bo-op is een van hierdie kantoordraaistoele en ‘n onderstebo lessenaartjie met wieletjies…en Perdeby steel weer ‘n foto!