Die wonder van kennis

Die afgelope twee weke se sage oor die bytjies in my tuin, het vanoggend ‘n hoogtepunt bereik. Die swerm het drie dae lank verdwyn en verlede Vrydag is hulle in volle sterkte terug en het weer in die nou skoongemaakte voëlbadjie se stam ingetrek.

My huishulp en tuinier het al die gebeure met belangstelling gevolg en vanoggend, soos alle ander oggende, drink ons saam tee in die kombuis en ons gesprek gaan oor die noodsaaklikheid van insekte en bye.

Sommer uit die vuis, beduie ek rofweg op ‘n stuk papier, die konsep van bestuiwing en bevrugting…IMG_0637Die volgende oomblik gaan daar ‘n lig aan by beide en hulle babbel opgewonde in hul eie taal.Nooit tevore in die tuinier (55) en huishulp(46) se lewens het iemand ooit die konsep aan hulle verduidelik nie!

Die praktiese biologieles vorder toe buitentoe en nadat ons verskillende blomme se binnewerke bekyk het, was die twee in ekstase. Ek beklemtoon toe ook sommer die feit dat verskeie insekte en nie net bye, verantwoordelik is vir bestuiwing en daarom maak mens hulle nie dood nie en gif is heeltemal taboe!

Later sien ek die papiertjie lê by huishulp se bossie sleutels, want sy gaan dit huis toe vat om vir haar kinders te wys.

Die opgewondenheid wat vanoggend geheers het by die ontdekking van iets wat vir meeste mense vanselfsprekend is, was ‘n riem onder die hart om te aanskou.

Verdere verwikkelinge met die bytjies..

Maandagmiddag, ‘n week nadat die nes omgeval het, is daar skielik ‘n verskriklike gezoem en die hele agtertuin is vol vlieënde bye. Hulle vlieg in sirkels al bokant die swembad. Mens en dier vlug binnetoe en al die vensters word toegemaak. Vreemd genoeg was hulle nie agressief nie en na omtrent ‘n uur, groepeer hulle in ‘n struik, omtrent vyf meter van hul nes af…IMG_0619Daar sit hulle nou al die afgelope vier dae, rustig en geensins kwaai of agressief nie. Af en toe vlieg een of twee op, maar gaan onmiddelik weer sit in die bondel.

My nuuskierige geaardheid laat my wonder wat aangaan. Weereens gewapen met my tuisgemaakte byepak…img_0617-1lig ek die voëlbadjie se badgedeelte van die stam af en sien dat daar nie meer ‘n enkele by in die nes is nie.

By nadere ondersoek,word die raaisel van die vlugtende bye stelselmatig opgelos. Let wel, ek weet niks van bye af nie en dis slegs my eie waarnemings:

Van die heuningkoeke is pikswart en daar is weinig heuning in..IMG_0620

Kommerwekkend is die groot dele wat heeltemal gemuf is…IMG_0621

Hier en daar is ‘n dooie by en enkele larwes, wat spartel om weg te kom van my ondersoekende hande…IMG_0627

IMG_0634

Ek het die ou nesmaakplek skoongemaak en wonder nou of die swerm gaan terugtrek. Intussen sit hulle steeds saamgekoek in die struik langs die swembad.

Af en toe val een in die water en dan red ek hulle van gewisse verdrinking.Hulle is verbasend taai. Al lyk hulle morsdood, ontwaak hulle wonderbaarlik, daar op die warm bakstene langs die swembad. Na ‘n halfuur van lyf- en vlerkpoetsery met hul voetjies, styg hulle een vir een op en dáár gaan die gelukkiges.

Ek het dit toevallig waargeneem, nadat ek ‘n spul dooie bye met die skepnet uit die swembad gehaal het. Van die hele spul was daar later net omtrent drie wat dit nie gemaak het nie.Die res het stelselmatig ontwaak en weer gevlieg.

Nou is die reddingspan kort-kort daar met die net en kyk in verwondering hoe die “dooies” ontwaak en wegvlieg.

As iemand wat my blog lees, iets van bye af weet, sal ek graag ‘n mening wil hê van wat hier gebeur het.

Dagsê aan al my blogmaats

black rotary telephone on white surface
Photo by joenibraw on Pexels.com

Om my lang stilte te verduidelik, net die volgende inligting…ons foonlyn se koperkabels is weereens gesteel en Telkom het laat weet hulle voer ‘n verlore stryd en gaan nie weer die kabels vervang nie. Ons het aansoek gedoen vir fibrekonneksie en dit kan nog ‘n tydjie duur.

Skielik het ons vanmiddag internet, terwyl die foonlyn steeds buite werking is. Ons verstaan dit nie, maar ek spring gou om te blog, voordat hierdie uiterste wonderwerk weer verdwyn.

Ek mis al my vriende en om jul blogs te lees, maar ek is steeds hier, perdfris en gesond en ly aan die uiterste vorm van FOMO (Fear Of Missing Out). Die simptome wissel van uiterste neerslagtigheid, verlange en bewerasie tot dranksug en die rook van pappegaaislaai, waarvan ek myself tot dusver met moeite kon weerhou.

woman wearing white crew neck shirt
Photo by Megan Forbes on Pexels.com

Hopelik hou hierdie meevallertjie van internet vir ‘n wyle en kan ek gou opvang wat in jul lewens aangaan…hou duimvas!

Perdebytjie en die bye op ‘n Bloumaandag

In my tuin is ‘n ou stukkende voëlbadjie. Verlede jaar het ‘n swerm bye hul intrek in die hol stamgedeelte geneem. Omdat hulle niemand pla nie en ons hulle ook nie pla nie, leef hulle al lankal in vrede met ons saam.

Vanmiddag kom roep ‘n hoogsbenoude tuinier my. Hy het per ongeluk die voëlbad omgestamp en nou lê die badgedeelte onderstebo en die hol stam ook. Die bye swerm verward in en uit en sigbare heuningkoeke drup van die soetigheid.

Perdebytjie se eerste gevoel is dat ons dit net so moet los en hoop dat hulle ander blyplek gaan soek. Met ‘n vieslike wind wat waai en ysige koue aan die kom, vermurwe my hart vir hierdie arme ontredderde wesentjies.

Met ‘n selfontwerpte byepak, bestaande uit ‘n dik jas, handskoene en dik serp om die gesig, met net oë wat uitsteek, pak ek die bul by die horings…oftewel die bye by die angels…img_0617-1Verbasend genoeg, was daar min agressie en sommer gou-gou is die voëlbad weer in posisie…wel bietjie gehawend, maar vir die bytjies ‘n veilige hawe…img_0614-1