Boomstories op ‘n Maandagmôre

Daar gebeur dit toe weer. Hierdie keer word die dooie boom op die oorkantste sypaadjie uiteindelik verwyder..IMG_0606

Dieselfde span wat ons boom so vrot afgesaag het, doen dit. Intussen het ons self ons boom beter gesnoei en wag dat die somer kom om te sien of dit weer gaan uitloop…IMG_0646

Nare ontdekking…hulle het wraggies weer met daardie swaar vragmotor oor my sypaadjie gery en die sproeiers diep weggetrap, plus ‘n spoor gelos wat ons weer moet regmaak. ‘n Paar plante se blare het ook in die slag gebly. Die kol van die vorige spoor (regs onder op die foto) is nog nie eers behoorlik toegegroei nie!!IMG_0647

Ai tog en daar was ‘n hele breë straat om in te manuvreer…eishhhh!

 

Rhebusfontein se sirkus ontaard in ‘n regte sirkus!

Hierdie is ‘n pretblog deur ‘n paar bloggers en die skakel is hier https://fresh.inlinkz.com/p/556868f82eae403d9143258e74ee97b1

Na ‘n suksesvolle openingsaand, wat erg formeel was vir ‘n sirkus, word die tent in gereedheid gebring vir ‘n spesiale vertoning vir alle Rhebusfonteiners en hul aanhangsels.

Dis ‘n gewerskaf om alles reg te kry. Op die oog af lyk dit na ‘n rustige prentjie, veral waar die olifante op die dorpsmeent langs die reuse tent, rustig smul aan maroelas van die takke van Vuurvliegie se maroelaboom, wat oor die heining hang. Hierdie vretery gaan nou al vir ‘n paar dae lank aan en niemand het enige erg daaraan nie. Inteendeel, sirkusbaas P.T. Barnum, is maar te bly, want dis ‘n besparing op kos vir hierdie reuse diere.

Die son sak en vol afwagting streep die inwoners en hul aanhangsels, na die imposante sirkustent. Una, met haar kat, Kieter, oor haar skouer gedrapeer soos ‘n nertsstola, klou aan Danie, die bulhond en Cheeky, die keffende Chihuahua, se leibande. Hulle het haar omtrent heelnag wakker gehou van opgewondenheid oor die sirkusvertoning.

Scrapy se Trompiehond is ook aan ‘n leiband, maar hy neem haar op sleeptou en tot haar verleentheid pirts-pirts hy sulke strale teen elke tentpaal en stoelpoot in sig. Bloedrooi van skaamte, met Porky-uil klouend aan haar skouer, vind sy darem ‘n sitplek waar Trompie bietjie uit die oog is.

Camilla, geklee in ‘n styfpassende katpak, wat die nodige kurwes beklemtoon, hang liefies aan Lorenzo se arm. Die man lyk erg verleë as sy kort-kort giggel en aan sy oorlob knibbel. Die twee duifies neem stelling in op die sagte stoele teen die arena. Camilla skuif styf teen Lorenzo se gespierde arm aan en leun haar kop koketterig op sy skouer.

Toortsie, Elané, Sonell, Hester, Trommeltjies en Perdebytjie het geen aanhangsels en sit rustig en knaag aan springmielies uit reuse kartonhouers. Nou en dan is daar slurpgeluide soos wat een van die ses behaaglik suig aan pienk koeldrank uit plastiekkoppies.

‘n Brullende Harley Davidson stop in ‘n stofwolk reg langs die tent en ‘n hupse Tannie Frannie wip rats tot op die grond. In haar hand het sy ‘n mandjie met broodrolletjies, wat heerlik warm gebroei word deur Lelik, haar baie lelike kat.

Positief vat hier en daar grond soos Billy Bok haar met sy horings op haar agterent klits.Gelukkig kry sy hom tot bedaring met een van die warm gebroeide broodjies uit Frannie se mandjie en kan hulle sitplekke inneem op die harde houtbankies agterlangs.

Virgo se kat, Floki, blaas en sis as sy vir Bondels met Pasella, die papegaai raaksien. Sy besluit om liewer naby die ingang te staan met Floki in haar arms. Vuurvliegie doen haar bes om Ringo, die pratende Schnauzer, se gebabbel te laat bedaar. Sy dreig dat sy een van Harpy, die Reuse-ooruil, se vere in sy keelgat gaan afdruk.

Woordnoot sit eenkant, vêr van almal af en kou heerlik aan ‘n baie lewendige stuk bloukaas. Sy is hierdeur verseker van ‘n hele blok sitplekke net vir haarself. Laastens kom Christa en haar drie brakkies, BB, Sobek en Shilo ewe ordentlik aangetrippel.

Skielik is daar ‘n geroffel van tromme, die lug is vol van die geur van springmielies en strooi, die spanning laai op…

Die tentflap lig, die orkes begin speel en onder luide applous beur die groot grys lywe van vier olifante deur die nou tentopening. Die hanteerder klap sy sweep en die stomme reuse stap gehoorsaam na hul klein stoeltjies, waarop hulle gaan sit.Die musiek word al hoe harder en werk op na ‘n hoogtepunt. Weer klap die sweep en die vier olifante gaan staan gelyk op hul voorpote met hul reuse agterstewes in die lug.

Skielik is daar ‘n viervoudige trompetgeskal…’n stortbui van halfgegisde maroelas trek die hele tent vol. Orals is daar gille en chaos. Kartonne vol springmielies, halfgedrinkte plastiekglase met koeldrank en louwarm gebroeide broodrolle trek deur die lug , soos wat almal spaander om gelyk by die tentopeninge uit te kom.

Leibande verstrengel inmekaar soos die klomp viervoetiges hakskene klap buitetoe. Die paar katte skreeu soos maer varke en hol met oopgesperde naels die berge in. Die geveerdes hap na die gegisde maroelas en sluk dit soos knoppe weg…heel tevrede oor hierdie skielike manna uit die hemel. Billy Bok hardloop in ‘n tentpaal vas en hol met ‘n gedeelte van ‘n stuk seil gespan oor sy horings, ook die berge in.

Skielik is alles stikdonker. P.T. Barnum trek ‘n vuurhoutjie en ‘n helse ontploffing laat die tent in ligte laaie.Gegisdemaroelagaswalms uit vier olifante is ‘n goeie bron van energie en het net ‘n klein vonkie nodig.

Gelukkig het geen dier of mens seergekry nie, maar die tent is tot as verbrand….

(Vuurvliegie sal die diere en geveerdes gaan troos in die grot waar hulle verskrik wegkruip).

 

Lank gelede…

Una het gevra ons moet foto’s van onsself uit die tagtigs plaas, maar ek het so min, dat ek maar ‘n paar gaan uitkrap het uit my argiewe. Die fotokwaliteit is ook baie swak, maar hier kom dit…

Hierdie een was in Augustus 1973 toe ek pas 20 geword het…IMG_0644

‘n Paar maande later in Januarie 1974 nadat ek my hare afgesny het…IMG_0642

Gradeplegtigheid April 1975…img_0645.jpg

Saam met my vier spruite met vakansie op Umzumbi, Desember 1994…img_0641.jpg

Iewers in die negentigerjare, toe ek afgelos het by ‘n laerskool…tipiese onderwyseres. Kyk die haarstyl en my skewe tande, waaroor ek vandag nog selfbewus is!!

IMG_0640

Perdebytjie en die Porche

Ek het bietjie van ‘n stoute streep in my. Verlede week oppad iewers heen, jaag ‘n splinternuwe Porche Cayenne by my verby en laat my voel of besig is om parkering te soek. Ek is dadelik ergerlik en voel hoe die adrenalien begin pomp.

My klein karretjie het nogal krag onder die enjinkap…

broken car vehicle vintage
Photo by Skitterphoto on Pexels.com

en sonder om te dink wag ek my kans af. By die volgende rooi robot trek ek langs die vibrerende Porche in en loer so uit die kant van my donkerbril na die twee insittendes. Beslis twee windbolle met te veel geld en te min klas. Hulle sit en gesels en merk nie die skelm bejaarde dame langs hulle nie.

Toe die lig groen slaan, gee ek vet en trap die lepel diep weg. Ek bêre daardie Porche maklik met tien meter en dit lyk of hulle stilstaan.Moenie glo nie, die volgende oomblik dreun die aarde soos die Porche verby my skiet en my in petrolwalms laat stik…

action asphalt auto automobile
Photo by Pixabay on Pexels.com

Omdat ek nooit die spoedgrens oorskry nie, ry ek ewe preuts verder teen die regte spoed. Nodeloos om te sê, ek het nooit weer die Porche gesien nie. Ek kon nie help om so ‘n heerlike kekkellaggie by myselwers te lag nie.

Al wat ek weet, dit was dêm lekker!

(Toemaar manne, ek weet dis ‘n Alfa op my foto…kon nie ‘n foto van ‘n Porche kry nie)

‘n Middag in my wintertuin

Met ons heerlike sonskynwinters, is daar altyd mooi tonele…_MG_7033

Ek sit heerlik in my tuin en wag vir die natuur om na my toe te kom…_MG_7051

Besige bytjies zoem in die blommetjies bokant my kop…_MG_7048

Op buurman langsaan se dak, sit ‘n hoep-hoep…_MG_6669

Kyk wie kom sit skielik op die muur bokant my kop en loer nuuskierig na my…_MG_6753

Ou kwêvoël met sy parmantige kuif…_MG_6775

Hy loer vir my en draai sy kop in alle rigtings…_MG_6769

Bekkie gaan oop…_MG_6797

en skielik bring hy kos op en kou weer heerlik daaraan…_MG_6799

Op ons agterse buurman se skoorsteen, sit die parmantige kolganse, wat die hele buurt elke oggend wakker skree. Self die voëlafskrikmiddels op die skoorsteen, skrik hierdie twee nie af nie. Hulle skreeu al vir jare daar van bo af, ‘n skril gekwaak wat hoor en sien laat gryp na hul ore…_MG_6843

Ou kwêvoël maak hom sommer hier by my tuis in die bos langs die swembad…_MG_7079

‘n Laaste roos blom steeds vir oulaas pragtig…_MG_7103

Ons winters is wonderlik!