Vier die lewe..

Gister vyf-en-twintig jaar gelede is my skoonseun se pa oorlede in ‘n motorongeluk, toe skoonseun maar net sewe jaar oud was. Gister is sy eerste babatjie gebore en kon hy haar teen hom vasdruk. Sy is vernoem na sy ma, wat oorlede is aan kanker, toe skoonseun maar een-en-twintig was. Hierdie klein bondeltjie mensie is ‘n viering van die lewens wat was en nooit die voorreg sal hê om haar te sien grootword nie.

Gisteraand toe ons gaan kennis maak met hierdie skatjie, was ons so gelukkig dat die pediater ook daar aangekom het. Met die grootste liefde en deernis het hierdie grote man, ons babatjie ondersoek. Eers die refleks van die handjies, wat dadelik sy vingers vasgryp. Daarna volg die voetjies, wat soos kloutjies om sy vingers krul. Ogies knip teen die liggie wat daarin skyn. Armpies word heen en weer, op en af gefleks. Daarna volg die beentjies en heupe. Wat op die oog af redelik rof lyk, het hierdie kleine bondeltjie gladnie ontstel nie.

Die toppunt was toe hy haar bolyfie oplig en haar weer laat val. Die armpies skiet kante toe en weer terug…blykbaar ook ‘n normale refleks. Laastens het hy met sy pinkie haar verhemelte bevoel, om seker te maak daar is nie ‘n opening tussen die harde en sagte verhemelte nie.

Die mooiste oomblik was, toe sy begin huil en hy haar vat en saggies heen en weer skommel, soos ‘n bootjie. Sy was onmiddellik stil.

Welkom kleine mensie, ons vier die nuwe lewe saam met jou!

Bosstories…

Roftie Renostervoël is vanoggend lus vir ontbyt op die boonste verdieping van Katryn Kameel se bewegende restaurant. Katryn se ogies blink soos nat lukwartpitte, van pure lekkerkry…_MG_8723

Roftie bekyk eers die spyskaart met ‘n kennersoog en besluit dan op sy gunsteling maaltyd…_MG_8720

Hy peins nog ‘n bietjie, maar hy sien reeds die heerlike sappige bosluise, wat soos swart glippertjie druiwekorrels in Katryn se maanhaar, ingeryg sit…_MG_8717

Sy bek gaan oop, hy pik en hy sluk, pik en sluk, pik en sluk, totdat sy krop tot barstens toe vol is…_MG_8715

Wat ‘n heerlike maaltyd, dankie Katryn! Om te betaal vir die sappige ontbyt, sal ek jou maanhaar mooi uitkam en jy kan my aflaai by Bulletjie Buffel se Bosluiskroeg…IMG_0696

Bulletjie is effens geïrriteerd, want Roftie kielie sy neusgate en hy voel hier kom ‘n groot niesbui…IMG_0723

Roftie is maar versigtig vir Bulletjie en gaan kam liewer al die lekker vetgesuipte bosluise op Bulletjie se bors uit…IMG_0693 Ja, in hierdie kroeg is dit net die bosluise wat suip…bloederige drankies!

Woelige wildehonde..

Woepies en Willempie Wildehond lê heerlik en knaag aan ‘n stuk skedelbeen…IMG_0579

Woepies is nie meer lus om die been te deel nie en trap ongeduldig met sy poot op Willempie se gesig…IMG_0581

Willempie wil nie los nie en ‘n hewige toutrekkery ontstaan…IMG_0583

Myne! Nee, myne!!IMG_0582

Wie gaan hierdie een wen?IMG_0584

Willempie draf triomfantelik weg met sy buit…IMG_0606

Die ander hondjies is ook nou lus vir speel…IMG_0668

Dis ‘n jagery en bytery…IMG_0667

IMG_0665  IMG_0633  IMG_0629

Wegkruipertjie agter ‘n boomstomp…  IMG_0647

Ek sien jou!IMG_0657

Mamma Willemientjie Wildehond kom aangestap om seker te maak die kleinspan ruk nie handuit nie…IMG_0598

Tevrede slaan sy die jolige klompie gade…IMG_0670

Foto’s geneem in Londolozi, Sabi-Sandreservaat.

 

Die Geheim is ontrafel… Kluisenaar slothoofstuk

Hierdie is ‘n vervolgverhaal deur ‘n klomp bloggers. Gaan gerus verby, want my gewone lesers sal geen kop of stert hiervan uitmaak nie.

Camilla lê in ‘n diepe slaap op ‘n geruite kombers. Die yl sonstraaltjies van ‘n nuwe dag, kielie oor haar welgevormde hoë wangbene en laat opeens haar ooglede oopfladder. Sy sit vervaard regop en staar onbegrypend om haar. Oral op geruite komberse, lê al die inwoners van Rebusfontein uitgestrek, met hul slapende troeteldiere styf teen hul stil lywe.

Die onthou sukkel om deur haar benewelde brein te breek, maar stuk-stuk kom alles terug…

Gisteraand was almal bymekaar op die dorpsmeent… daar waar al verskeie gesellige en minder aangename gebeurtenisse plaasgevind het. Sy onthou die fiasko van die sirkustent wat in vlamme opgegaan het, nadat metaangas uit olifantlywe en ‘n ondeurdagte trek van ‘n vuurhoutjie, die hele tent verwoes het.

Die herinnering aan die verwaarloosde biblioteek en Broodina se val deur die verotte vloerplanke en haar landing in die ribbekas van ‘n geraamte, stuur opnuut rillings deur Camilla se lyf. Sy onthou dat daardie geheim opgelos is en dat almal op Rebusfontein tevrede was met die uitslag.

Wat het gisteraand gebeur en hoekom lê almal in ‘n diepe beswyming? Eenkant staan ‘n lang tafel, steeds gelaai met heerlike bantingkosse uit Toortsie se kombuis. Verskeie bottels met ‘n groen vloeistof, staan orals oopgemaak. Met haar fyn neusie, snuif Camilla aan een bottel en voel dadelik erg lighoofdig.

Skielik sien sy visioene van pratende diere, ‘n arend genaamd Harpy, ‘n donker aantreklike man, wat haar tone laat omkrul van lekkerkry, ‘n getatoeëerde spierpaleis wat diep in haar oë kyk, laggende dansende dames, ‘n swewende mansponiestert, Broodina wat wegtrek in ‘n knallende rokende Uno, PT Barnum se sirkustent, olifante wat toertjies doen…

Die slapende Towerinne ontwaak nou een vir een en die troeteldiere begin ook wakker word. Almal lyk verward en staar om hulle heen.

Camilla begin stadig maar seker weer helder dink en skielik snap sy wat gebeur het. Met ‘n pers gemanikuurde vingernael, tik sy teen een van die bottels en sê: “Towerinne, daar was nooit ‘n kluisenaar genaamd Alexander nie, Lorenzo was net in ons gedagtes, Harpy was ‘n mite, pratende diere bestaan nie. Ons is bedwelm deur hierdie groen drankie!”

Eenkant op die hoek van die tafel, sit ‘n pikswart kraai, heerlik en smul aan ‘n stukkie vetterige bantingfrikkadel. Hy vlieg krysend op en verdwyn ooswaarts teen die helder oggendson…hy word net ‘n spikkeltjie.