wakker wees!
Ek sit heerlik op die stoepie van ons Kieliekrankiehuisie (wilderniskamp wat slegs tien mense huisves) en uitstaar oor die pragtige rooi duine van die Kgalagadi. Na goeie reëns, is die duine oortrek met gras en veldblomme. Ek is half in ‘n beswyming van die hitte (sowat 38°C elke dag) en my ooglede wil-wil toe val. Skielik sien ek ‘n beweging uit die hoek van my oog. Langs die houtreling van die stoep, is ‘n digte struik, waarin die voëltjies heeltyd baljaar.
Ek kyk, maar o wee… dis ‘n hele paar meter groter as die geveerdes!
Ek skrik nie regtig vir slange nie, maar ‘n Kaapse kobra (Naja nivea) is nie jou speelmaat nie! Gewoonlik maak hulle bakkop as hulle skrik, maar hierdie slang was heel rustig en op ‘n missie…
Hy seil aanmekaar en patrolleer die struik van hoek tot kant…
Dinge raak nou bietjie warm vir my, veral omdat ta nou stoep se kant toe mik! 
O nee! Miskien is dit nou ‘n goeie tyd om hakke te klap na ‘n veiliger oord!
Hy sit sy kop op die dwarsbalk en sy hele lyf val ondertoe uit die bos uit, maar hy klou met sy kop en soos ‘n wafferse gimnas, hys hy sy lyf tot op die hout!
Steeds steur hy hom nie aan my nie en ek bly op ‘n veilige afstand…
Hier kom hy…
Krul homself om die pale van die stoepafskorting…
Teen hierdie tyd is ek binne met die deur stewig toe!
Deur die glasvenster lyk die slang ekstra lank en daar is nie genoeg spasie om sy hele lengte te fotografeer nie…
Hy krul deur die koelsak, wat ek buite gesit het om droog te word…
Nou sommer onderdeur!
Gelukkig kry hy nie waarvoor hy gesoek het nie en verdwyn weer in die bos, nadat die kampbestuurder met sy slangstok hom verjaag het. Hy was op geen stadium agressief nie.
Feite oor die Kaapse kobra ook bekend as Geelslang: Hulle is bedags en vroeg saans aktief en vreet ‘n verskeidenheid prooi asook ander slange. Hulle sal in lae bome klim en voëlneste deursoek vir eiers en kuikens. Hulle eet verskeie knaagdiere en is dus nuttig om rot- en muisplae te beheer.
Ongelukkig is hulle baie senuweeagtig en dodelik. Die kop maak ‘n breë bak as dit gekonfronteer word en dan moet mens maak dat jy wegkom. Hulle spoeg nie. Die gif is neurotoksies en die dood word deur vinnige verlamming veroorsaak.Groot hoeveelhede teengif is nodig om die byt te behandel…dus is kanse op oorlewing op ver-afgeleë plekke, maar skraal.
Habitat: Dorre karoostreke, veral langs rivierlope tot in goed gedreineerde oop gebiede langs die suidkus. Verspreiding: Deur Kaapland, in die ooste tot by Oos-Londen en noord tot in Suid-Namibië, Botswana en die Vrystaat.
Like this:
Like Loading...