Hoofstuk 9 …Coronamouna.


Hier is die negende hoofstuk van ‘n nuwe bloguitdaging : Die storie oor die Towerinne en Coronamouna. Soos gewoonlik by ‘n vervolgverhaal, moet almal wat wil deelneem ‘n inskrywingsvorm voltooi – kry die vorm hier: https://forms.gle/spN3EwV1kt5wGW9F9

Bloggers sal skryf in die volgorde waarin hulle inskryf – kyk na HIERDIE vorm (spreadsheet) wat outomaties op datum gehou word om te sien wanneer dit jou beurt is om te

NB! Hierdie uitnodiging is oop vir alle bloggers op alle platforms – ons soek altyd “nuwe bloed” om deel te neem aan ons uitdagings. As jy in Afrikaans skryf, sluit gerus aan by die Towerinne en neem deel aan hulle avonture. As jy nog nooit deelgeneem het aan een van ons uitdagings nie, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Onthou ook die addisionele reëls vir vervolgverhale – (1) wag jou skryfbeurt af, (2) wanneer ‘n nuwe blog geplaas word en jy is volgende aan die beurt – gee net eers ‘n dag of wat kans sodat almal die blog kan lees en kommentaar lewer voordat jy jou bydrae plaas en (3) plaas jou bydrae binne die volgende drie tot vyf dae sodat ons nie die vloei van die verhaal belemmer nie.

https://fresh.inlinkz.com/p/c0342166738644c9875c54b4f5669017

Die volgende berig verskyn vanoggend in die Adder, plaaslike koerant van Pofadder:

Die situasie op ons buurdorp, Rebusfontein, lyk uiters bleek. Ons verslaggeefster van virusse en bonatuurlike verskynsels, me Broodina Barber, berig dat verskeie faktore daarvoor verantwoordelik is.

Me Barber, wat klandestien poseer, as ene me Corona, het haar tuisgemaak in ‘n verlate houthuisie, net buite die dorp. Vandaar kan sy ongestoord die pettalje dophou.

Daar is gerugte van ‘n moesieneusheks, wat kekkellaggend op ‘n besem rondvlieg. Sy koester glo spinnekoppe wat sy kan toor om so groot soos huise te wees. Klaarblyklik is twee van die inwoners gemesmeraais deur só ‘n reuse wyfiespinnekop. Hulle lê tans soos babatjies, in haar harige voorpote en kyk met benewelde bewonderende oë op na die dierasie, terwyl sy met ‘n grieselrige taai tong, haar lippe smakkend aflek.

Etlike van die inwoners hardloop wild en wakker rond met bottels Doom en daar heers glo algehele chaos. Lorenzo, ‘n buitengewoon aansienlike spierpaleis en die enigste manlike inwoner op Rebusfontein, weet nie meer herwaarts of derwaarts met die dorp se paniekerige vrouens nie. Camilla, die seksieste pop in die suidelike halfrond, het nou ‘n goeie verskoning om aan Lorenzo se magtige biseps te klou, terwyl sy sagte kermrige murmelgeluidjies in sy oor maak. Camilla is ‘n ou kalant, opgewasse om enige situasie uit te buit.

Ons verslaggeefster het later per ongeluk laat val dat sy by aanblik van hierdie romantiese toneel, gelyktydig geril het van pure jaloesie én lekkerkry.

Meeste van die dames is ook sterk onder die invloed van verskeie saamgeflansde drankies, wat tydens grendeltyd orals op die swartmark te koop was. Me Barber het ‘n nota hiervan gemaak, vir latere optrede teen die sondaars.

Volgens alle aanduidings, is spinnekoppe verantwoordelik vir die klein onsigbare stekelrige balletjies, wat tans die hele mensdom gevange hou. Dit gaan ‘n groot ingryping kos, om hierdie netelige situasie om te keer. Die Rebusfonteininwoners is teen hul wil geforseer om op te tree, want die wêreldekonomie en die hele Pofadderdistrik is lamgelê deur hierdie klein pestilensie.

Skielik sonder enige aanduiding, verander die hele atmosfeer. Die dorp se spinnekopvanger het vanuit die niet opgedaag en slaan ‘n reuse Cosulkênfroetbottel bo-oor die spinnekop. Die harige gedierte skrik só, dat sy haar twee gevangenes in die lug opgooi, voordat die bottel op haar toeslaan. Hulle trek soos vrot velle deur die lug, maar die dorp se spierpaleis vang een in elke arm en sit hulle saggies neer. Camilla is egter saam met die spinnekop in die bottel vasgevang en nou is daar werklik ‘n dilemma.

Ons suidelike seksieste pop, laat egter nie op haar wag nie. Sy pluk haar bloedrooi stiletto’s uit en slaan met mag en mening die spinnekop se ses oë uit met die spykerhakke. Die stomme arachnida sterf daar en dan ‘n gruweldood en die dorpsinwoners juig en is skielik almal nugter.

Me Barber het gisteraand voor druktyd uitasem in haar knallende blou rokende Uno, na ons kantoor aangejaag gekom, sodat ons vir u, ons getroue lesers, vanoggend, die scoop van die dekade kon lewer.

Hierdie is lank nie die einde van hierdie bonatuurlike gebeure nie en ons noop u om hierdie koerant fyn dop te hou vir verdere verwikkelinge.

Klem de Kaak. (Redakteur)

Woordnoot moet die storie verder van hier af neem.