My Covidprojek

Ek het iets begin, wat my elke dag laat opstaan. My liewe huishulp van dertien jaar, het vyftien jaar gelede haar bestuurslisensie gekry op een van daardie platbak vragmotortjies waarmee elke tweede ryskool hul kandidate leer bestuur het. Dus het sy amptelik ‘n C1 lisensie. Ek het ‘n B lisensie, wat dui op ‘n gewone motor en motor met sleepwa.

Nodeloos om te sê, vanaf die dag waarop sy haar toets geslaag het, het sy nooit weer eers soveel as ‘n kruiwa bestuur nie. Elke vyf jaar het sy getrou haar lisensiekaart hernu en toe Covid ons tref, het ek besef, sy moet haar lyf uit oorlaaide, besmette taxis kry.

Ek het haar by ‘n ryskool ingeskryf en ‘n sagmoedige dierbare vrou het haar begin neem vir lesse. Sy moes heel van vooraf leer hoe om ‘n motor te hanteer en dit was duidelik dat daardie lisensie nie die ink en foto daarop, werd was nie. Dis eintlik skokkend as mens daaraan dink hoeveel mense met sulke lisensies rondry…. sy het hare heel wettig gekry.

Ons het ‘n tweedehandse klein motortjie aangeskaf en met ‘n reuse L agterop die ruit, gaan ry ek en sy elke dag in die stil strate van die buurt. Aanvanklik was my senuwees aan flarde en my hand was permanent op die handrem vir die wis en onwis.

Tussenin kry sy steeds haar lesse by die ryskool en sy word aan die verkeer blootgestel. Die ryskoolmotor het dubbele remme en koppellaar, sodat die instrukteur ook beheer het. Ek sien nog nie kans daarvoor nie, maar intussen oefen ons koppellaarbeheer, veilig om draaie en spoedhobbels gaan, trurat, u- draaie en driepuntdraaie.

Ons het ons angsvolle oomblikke, waaroor ons agterna heerlik lag. Gelukkig het niemand gesien toe die kantspieël ‘n trollie-asblik tref wat bietjie te ver in die pad gestaan het nie. Dit was asblikdag en die straat was vol swart trollies. Van pure skrik ry ons toe sommer tot bo-op die sypaadjie, waar die motor rukkend tot stilstand gekom het. Diep asemhaal, moed inpraat, vasstel dat daar geen skade is nie, is ons weer vort. Agterna moes ‘n sterk koppie tee as lafenis dien.

Op ‘n ander keer was die pad te nou vir ‘n u-draai en die sypaadjie ‘n bietjie styl om sommer daarteen op te ry. Met ‘n slag, tref ons die hoë grond en met die terugtrek, ploeg die motor se lae voorkant, die gras uit, dat jy net polle sien spat. Gelukkig weer nie veel skade nie, behalwe dat daar nou ‘n effense sloot is, waarvan net ons weet. Wanneer ons daagliks ons roete ry, lag ons elke keer as ons by die boe- boe plekke verby gaan.

Terme soos poer-poer (te stadig), goep-goep (wanneer die kar ruk) oeghhh ( wanneer die kar stol), is deel van ons taalgebruik tydens lesse. Ons albei geniet dit baie en sy vorder pragtig.

Met ons identiese maskers op en ons tjorretjie met die reuse L agterop, is ons nou al ‘n bekende gesig in ons buurt. Gelukkig gooi niemand meer wye draaie om ons nie, want oefen en oefen lei tot sukses.

Mooi so Leah!

72 Replies to “My Covidprojek”

  1. Is hierdie nie nou net wonderlik nie, Bytjie, jy wat so ñ slim plan bedink het!!! Jy leer haar ook nou ñ nuwe “skill” aan, wie weet hoe handig dit eendag in haar lewe te pas gaan kom.

    Liked by 1 person

  2. Jojo!!! Gee vir Bytjie ‘n Bells! Dis werklik ‘n fantastiese idee, want sy word bemagtig….so bring Covid ook sy tevrede oomblikke…Love dit Dina!

    Liked by 1 person

        1. Ek het ook al ‘n gat in die vloer getrap soos ek by tye briek. Die ryskool vrou is baie goed, maar sy kan nie elke dag dit doen nie… bietjie duur.☺️

          Like

  3. Genade Perdebytjie, jou Lea is omtrent gelukkig om jou te hê. Ek het wel my huishulp betaal regdeur die lockdown uit dankbaarheid dat ek my salaris wel gekry het. Julle neem dit sowaar tot op die volgende vlak.

    Liked by 1 person

        1. Ek dink nie dat “ons” al genoeg van die kiem se werking verstaan nie – die feit dat almal met dieselfde eienskappe nie dieselfde gang gaan met die siekte nie is vir my kop te veel om te snap. Daar is 80-jarige diabete wat asimptomaties bly en aan die ander kant is daar blakend gesonde 20-jariges wat sterf. Ek is net baie dankbaar dat ek nie n dokter of verpleegster in hierdie tyd is nie, en ek waardeer hul opofferigs onbeskryflik baie.

          Liked by 1 person

        2. Dit is so waar, Dries. My skoonseun is ‘n dr en dis juis hoekom hy siek geword het en my dogter aangesteek het. Hy sê al wat hulle van die virus weet is inligting wat oor agt maande ingewin is. Dis ‘n bitter kort tydperk en nie naastenby genoeg om presies te bepaal wat die virus doen nie. Dis wat dit so skrikwekkend maak.

          Like

        1. Jy moenie nog praat nie. Die blikskottel het my in sy sak. Het hom eenkeer op my skoot getel terwyl ek gesit en tik het aan tafel. Hy kom toe agter hy kan uit venster kyk as hy met voorpote op tafel sit. Nou kom hy elke nou en dan vra dat ek hom moet optel(okay ek tel hom nie op, hy spring op my skoot) Ewe kontant sal hy na my skerm kyk en dan kyk hy verder na bewegings buite. Die op my skoot klim is meestal as ek na n spreker luister.

          Liked by 1 person

  4. Dit was sommer net lekker om so ‘n positiewe plasing te lees. Geniet dit baie, jy doen goeie werk. Terloops, ons is aan die skryf aan ‘n fantasie storie, terk al by derde hoofstuk. Sal ek jou kan nomineer vir volgende as dit my beurt is en jy nog nie genomineer is nie. Dit is goeie pret.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s