My Covidprojek is voltooi.

Sedert my vorige verslag hier…

perdebytjie.wordpress.com/…/my-covidprojek

het dinge aansienlik verbeter. Ek en Leah het steeds elke dag gaan ry en naderhand het ek genoeg moed gehad om dit saam met haar in die verkeer te waag. Ek sal nie stry dat my senuwees gaar was nie en dat ek eenkeer die stuurwiel moes gryp, en versigtig moes eenkant toe stuur, om ‘n ongeluk te vermy. Ek weet nou nog nie hoe ek dit reggekry het nie, maar met kalmte het ek vanuit die passasiersitplek die karretjie terug in sy baan gekry. Leah het nog kans gehad om te sien hoe die bestuurder langs ons, haar uitskel! Dit was die benoudste oomblik.

Na vele omswerwinge in die omgewing, het ons begin om elke middag na werk na haar huis in die township te ry. Ek het die maklikste pad uitgekies en so het sy twee weke klank elke middag self bestuur met my wat moed inpraat, lesgee en algemene raad verskaf.

Daar was robots, bane wat verwissel moes word, draaie wat stadig gevat moes word, sirkels, spoedhobbels en fietse, slaggate, lorries en klippe… ‘n mens besef nie hoe oorweldigend dit vir ‘n beginner kan wees nie. Met ons swak gemerkte paaie en reuse slaggate plus varkerige bestuurders, het ons twee vasgebyt en elke moontlike situasie beleef en oorleef.

Twee dae na mekaar, het ek haar laat oefen om in en uit by haar garage te trek. Ons het bakstene gepak tot waar sy die kar moet intrek en met die uittrekslag het ek beduie en arms geswaai vir die vale. Haar garagedeur is baie smal en dan is daar nog twee watermeters, twee mure aan weerskante en ‘n lamppaal wat sy moet vermy.

Iets wat ek ook opgemerk het, is dat iemand wat nooit bestuur het nie, nie werklik die pad ken wanneer hulle self aan die stuur is nie. So het ek toe vir Leah bakens uitgewys op die pad en toe sy verlede week alleen begin ry het, het sy sowaar verdwaal. Gelukkig het sy kop gehou en tog reggekom.

Tuis het ek soos ‘n moederhen angstig haar nooiensrit gevolg op die tracker opspoorder via my selfoon.

Dis nou al ‘n hele week wat sy alleen huis toe en werk toe ry. Ek volg steeds angstig elke dag haar roete op die Tracker, maar as die blou karretjie hier voor ons deur stop en sy so vol selfvertroue met haar handsakkie uit die kar klim, besef ek dit was alles die moeite werd.

Kuiertjie by besondere diere…

Dis laatmiddag en die Hiënafamilie vreet vir oulaas aan die laaste kaalgevrete bene van ‘n karkas. Twee aasvoëls staan ook rond in die hoop op ‘n moontlike laaste happie, voordat die son sak…

Helsim Hiëna is nou lekker dik gevreet en het genoeg gehad van die ondraaglike hitte. Hy loer nuuskierig oor die damwal, waar hy in die water afkoel…

Hettie Hiëna lê met halfoop oë, maar registreer nie werklik wat om haar aangaan nie …

Moenie glo nie, sy slaap met een oog oop…

As jy so dik gevreet is oorval die slaap jou genadeloos…

Intussen lig Hannetjie lui-lui haar sware lyf uit die water, terwyl Helki nog ‘n bietjie luim in die heerlike lou water…

So ‘n vretery maak mens darem stadig en vaak…

Vir die meeste mense is hierdie diere nie mooi nie, maar wanneer mens hulle dophou begin jy besef hoe heg hulle as ‘n familie funksioneer en vir mekaar omgee.

Foto’s geneem te Londolozi.