Opwindende dag op Sanipas….vir Dries.

Sanipas is die tweede hoogste pas in Suid-Afrika . Dis in 1950 gebou en word beskou as die moeder van alle bergpasse in Suid-Afrika. Dit is SA se mees ikoniese grondbergpas en is ‘n uitdaging vir menige avontuursoeker, natuurlik net rybaar met ‘n 4×4. Dit bly ‘n uitdagende rit met wonderlike natuurtonele, slegte weer en verraderlike toestande, wat mens kan verwag van ‘n pas met ‘n hoogte van 2876 meter. Dit kan enige tyd sneeu en die weer is baie onvoorspelbaar.

Dis een van die gevaarlikste passe in SA en het al menige slagoffer ge-eis. Ons het eerstehands beleef hoe gevaarlik dit is en ook benoude oomblikke beleef.

Die pad is tans onder konstruksie en ‘n groot gedeelte is al geteer. Ongelukkig gaan dit die aantrekkingskrag vir avonturiers bederf, as enige voertuig oor ‘n paar jaar gemaklik tot bo kan ry, maar dis glo “vooruitgang”. Gelukkig gaan dit nog lank neem en diegene wat Sanipas op hulle emmerskoplysie het, moet dit gou aanpak.

Oppad soontoe is dit van die asemrowende tonele…

Gou kom ons uit by die Suid-Afrikaanse grenspos en al wil ons nie in Lesotho ingaan nie, moet ons hier ons paspoorte laat stempel. Die pas is op SA grondgebied, maar dis meer prakties dat die grenspos hier aan die onderkant is.

Hierlangs is die pad nog maklik begaanbaar en die natuurtonele slaan ons asems weg…

Ek klim uit om die vars yskoue lug in te asem en ‘n vinnige skoot van die omgewing te neem….

Die natuurtonele is asemrowend…

Die gevoel van verwondering is onbeskryflik….

Sover het alles goed afgeloop, maar toe ons die eerste sneeu en ys kry is daar ‘n onverwagse obstruksie in die pad. Manlief gaan stel ondersoek in, maar die bakkie is verlate…..

‘n Basoetoe kom ewe rustig bergaf en stap gemaklik op die ys, terwyl manlief amper neerslaan en voetjie vir voetjie stadig terugkom…

Tot dusver was daar net ‘n paar voertuie en ons was voor. Dis net hier waar ons besluit om om te draai, want die sneeu het verander in seepgladde ys en die bakkie het die hele pad versper. Die voertuig agter ons het langs ons gestop en die spasie waarin ons kon omdraai, gevat.

Dis toe waar ons agteruit moes bergaf!!! Elke sentimeter wat ons beweeg, het die voertuig op die ys begin gly en al wat wink, was ‘n helse afgrond!! Gelukkig kom daar toe ‘n groep jongmense aan en die toerleier het die situasie opgesom. Hy het langs ons oop venster stelling ingeneem en op ‘n kalm manier instruksies gegee van hoe manlief sy stuurwiel moet draai en hoeveel hy moet briek en wanneer om nie te briek nie. Dit was ‘n hele proses waar hy saam met ons bergaf gestap het, totdat ons veilig kon omdraai. Ons was heeltyd baie kalm, maar agterna het ons albei duistere nek- en lyfpyne ervaar…beslis stres gewees! Daar was ook ‘n welkome dop sjerrie in die pyplyn…darem net teen die koue hoor en veilig in ‘n leunstoel.

Daar waar die sleepwa en ander motor staan, is waar ons omgedraai het. Die sleepwa was ook deel van die geheimsinnige verlate bakkie se vrag…

Toe ons eindelik weer vaste veilige grond bereik, kom daar ‘n hele gevolg uniformmanne te voet verby met ‘n baie benoude Sjinees tussen hulle. Dit blyk toe sy bakkie te wees wat daar vassit. Die knaap moes bergaf tot by die polisiepos en toe saam met hulle in hierdie noodvoertuig ry, om sy bakkie te probeer red….

Ons het nie gebly om die reddingsoperasie te aanskou nie en is veilig bergaf met nog mooi tonele in ons visier…

Goeie raad: Doen jou huiswerk, maak seker jy weet hoe om op ys te ry, want dis nie dieselfde as sneeu nie, hou bandkettings byderhand, moenie vol bravade wees nie, vermy groepsdruk en moet veral nie drink en bestuur nie!!!

‘n Dag saam met hoogsbedreigde gevleuelde konings van die berge

Die skuiling in die Drakensberge by Giant’s Castle.
Skuiling van buite
Gooi bene uit vir die Baardaasvoels.
Die gesellige warm binnekant.
Slaggereed om te “skiet”.
Die pragtige omgewing met sneeu op die Drakensberge.
Onverwagse besoeker kom kyk wat daar te aas is…Kransaasvoel (Cape Vulture).Ook skaars en sy status is kwesbaar.
Daarshy…wat ‘n fantastiese oomblik!!
Hy doen ‘n paar verbyvlugte en die kameras kliek verwoed.
Verbyvlug van ‘n jongetjie. Hulle neem tot sewe jaar om volwasse te word en die regte kleur te ontwikkel.
Volwassene met kenmerkende kleure.
Die Withalskraaie (White-necked Raven) en rooivlerkspreeus (Red-winged Starling) was baie lastig. Hulle het die bene skoon gepik en van die kraaie het bene gesteel.
Withalskraai (White-necked Raven) met een van die bene in sy klou.
Die kraaie het ons vermaak met interessante toertjies. Hierdie een het ‘n stok rondgegooi en dan weer gevang. Hulle is ongelooflike akrobate in die lug!
Die baard van hierdie volwassene is duidelik sigbaar.
Jonge met baard al effens sigbaar.

Ietsie oor hierdie ongelooflike konings van die hemel:

Dis die enigste aasvoel wat spesialiseer in die vreet van bene van dooie diere. Hulle eet veral die murg en sal die bene vanuit ‘n hoogte op rotse laat val om dit te breek.

Die ou naam was Lammergeier of Lammervanger, wat afgelei is van verkeerde aannames, dat hy lammers vang. Dis absoluut onwaar en het grotendeels gelei tot amper uitwissing in sekere werelddele.

Gewig: 5 tot 7 kg.

Vlerkspan: 2.6 tot 2.9 m.

Habitat: Berge. In Suid-Afrika word hulle slegs in die Drakensberge aangetref (ongeveer 175 km vanaf Durban na die binneland). Wereldwyd kom hulle voor in die Himalayas, Pyrenees, Alpe, Caucasusstreek, Altaiberge, Alborz, Zgrosberge, Ladakh, Wes en sentraal, Sjina en die Arabiese Peninsula.

Eerste suksesvolle broeitydperk: 8 tot 9 jaar. ..slegs twee eiers, waarvan die tweede ‘n hele ruk na die eerste gele word. As die tweede kuiken uitbroei, word hy deur die ouer een getreiter en van kos weerhou, totdat hy sterf. Dus is hierdie voels se aanwas baie beperk.

Lewensduur: 50jaar in dieretuine.

Skoknuus: Slegs 350 individue oorleef in die Drakensberg van SA. Die beste plek om hulle te besigtig is by Giant’s Castle, een van Ezemvelo KZN se kampe. Dis waar die wonderlike skuiling is wat ons vir ‘n dag gehuur het, vir totale privaatheid.

Opgestop in ‘n glaskas…

Mag dit NIE eendag die enigste manier wees om hierdie gevleuelde koning te besigtig nie!!