Verdere brief aan ‘n geliefde

Nadat jou bose sweer die afgelope week oopgebars en jou strate en geboue verwoes en bevuil het, het ‘n wonderwerk gebeur.

Van oraloor het hulle aangekom, jou mense, ons land se mense…en hande gevat. Weereens het ek nie woorde nie.

Na dae van verwoesting en anargie, het gemeenskappe saamgekom. In plaas van vuurhoutjies, petrolbomme, stokke, klippe, spiese, assegaaie en ander wapens, was daar besems, harke, skoppies, borsels en enige bruikbare skoonmaakding in jou mense se hande. Saam-saam sonder inagneming van kleur, stand of status, het jou mense ingespring en skouer aan skouer jou vieslike verleentheid opgevee en weggewas.

Orals is planne gemaak, kos versamel, water, melk en brood uitgedeel, waar die nood hoog was.

Onder die radar het die aanstigters laag gelê en hul wonde lek, omdat hulle nie hierdie reaksie verwag het nie. Hulle skelm truuks om die werkloosheid en armoede uit te buit vir eie magsugtige gewin, het amper geslaag. Hulle het egter nie rekening daarmee gehou nie, dat jy ‘n groot gros kinders het, wat moeg is vir politieke speletjies en blatante kriminaliteit.

Swak politieke leierskap se onderrok het lelik uigehang en uiteindelik is daar erken dat hulle pogings tot orde, klaaglik misluk het. In plaas van die gewone blaamverskuiwing, is hande stadig in eie boesem gesteek. Ons hou nie asem op nie, maar hoop hierdie gebeure het mense laat wakker skrik.

Ons is nog lank nie uit die moeras nie, want hef aan lê nog voor om ‘n verpletterde ekonomie weer aan die gang te kry. Dinge gaan vorentoe eerder slegter as beter gaan, maar soos voorheen, oorheers die sterk gees van versoening en gaan hopelik die wa weer, soos sovele ander kere in ons geskiedenis, deur die drif trek.

Van ‘n video met ‘n man in ‘n rostoel op ‘n balkon, waar hy geweer in die hand skerts dat hy ‘n “sniper” is, het ons beweeg na nog twee mense in rolstoele…een met ‘n hark en die ander een met ‘n besem, fluks besig om skoon te maak.

Mooi Suid-Afrika! Jou goeie mense het geseëvier.

Hartseer brief aan ‘n geliefde

Ek stap al amper agt-en-sestig jaar saam met jou. My eerste gewaarwording van jou, was jou blou lug en ewige sonskyndae. Saam met jou het ek ‘n onskuldige gelukkige kindertyd beleef. Wye vlaktes, horisonne wat bewe in die hitte, wilde diere, goudgeel strande, droogtes, storms, vloede was alles deel van dit wat jy ons gebied het.

Dis eers heelwat later dat ek besef het alles is nie so wel nie. Die onregte wat gepleeg is teenoor ‘n groot deel van jou kinders, het gelei tot ‘n onsinnige oorlog, waar baie van jou ander kinders ook hul lewens moes opoffer om ‘n onwerkbare ideologie aan die gang te hou.

Toe gebeur die wonderwerk en ons vat almal hande. Sonder bloedvergieting het ons begin om na mekaar uit te reik. Daar was gemoedelikheid en werksaamheid, maar ongemerk het dinge begin verander.

Geleidelik is alle sisteme deur onbevoegde mense beman. Politici is in strategiese posisies geplaas,vanwaar nepotisme en gierigheid hul vraatsug gevoed het.Dienste en infrastruktuur het in die slag gebly. Ons ken almal die afdraandstorie van staatskaping, korrupsie van kaders in gesagsposisies en die hulpeloosheid van werkloses, wat al dieper in die wanhoop van armoede verval het.

Toe breek Maandag 12 Julie 2021 aan. Ek het nie woorde vir die verwoesting wat ons al drie dae lank aanskou nie. Die sweer het oopgebars en die sug loop in ’n breë siek stroom daaruit. Die leiers lei nie meer nie. Hulle het nog nooit gelei nie. Al wat gelei is, is miljoene na individue se bankrekeninge.

Terwyl die gans wat die goue eiers lê, stelselmatig ander groener weivelde gaan soek het, het die druklas op die ganse wat dinge ‘n kans wou gee, al hoe groter geword. Die ellende en werkloosheid het die gulsige kripvreters min geskeel. Voor verkiesings is beloftes gemaak en dan het die wanhopiges weer moed geskep om dieselfde kripvreters wéér in magsposisies in te stem.

Terwyl die land in vlamme opgaan, hou ministers in deftige klere, nuuskonferensies en vertel hoe onder beheer alles is. Intussen bloei winkels en pakhuise leeg en slegs enkele polisiemanne staan magteloos en toekyk. Die stropers het miskien vir ‘n paar dae kos, maar die werklikheid is, dat ‘n hele infrastruktuur en vervoerketting vernietig is.

Suid-Afrika, my geliefde land, jy bloei, jou kinders bloei, ons almal bloei. In die donkernag loop ‘n verflenterde kaalvoet seuntjie, met ‘n winkelsak vol kleurvolle onderbroekies en ‘n paar skoentjies wat hy gebuit het. In ‘n stofstraat warrel wintergras en blare oor die lyk van ‘n kind. In die hospitale blaas vele hul laaste asems uit….