Wanneer swaartekrag en duisternis bymekaar kom.

Verlede naweek moes ek my kleindogtertjie oppas. Gewapen met al my verroeste kennis van vier kinders wat ek groot gemaak het, is ek vol vertroue vir die takie. Alles verloop volgens plan, want die kleine mensie is baie soet en so vermaaklik.

Bedtyd sit ek met haar in my arms op die enkelbed in die spaarkamer. Reg langs die bed se voetenent staan ‘n laaikassie met mooi koperknoppe aan die laaie. Teen die venster staan die kampkot vol sagte speelgoed, gereed vir die kleine mensie se nagrus.

Ek wieg haar heen-en-weer in my arms en probeer met ’n kraakstem, “Slaap Piekanienie” sing. Juffroutjie is glad nie beïndruk nie en suig kermrig aan haar “glow in the dark” fopspeen.

Dis toe waar ouma besluit, so ‘n bietjie duisternis sal die ding doen en ek stap deur se kant toe om die lig af te skakel. Steeds met haar in my arms beweeg ek bed toe en sien in gedagte myself heerlik agteroor lê met genoemde asempie en haar “glow in the dark” op ouma se gesellige ruim bors.

Dis toe nou waar die spreekwoordelike koek die fên slaan, behalwe dat ek die koek is en die bedkassie en kot is die fên! Ek gaan sit op die kooi, maar daar is geen kooi nie en in die duisternis slaan ek my linkerblad amper moertoe teen die laaikassie se hoek. Die laai se knop boor in my skouer in en die kampkot word summier amper deur die venster gelanseer.…gelukkig het die gordyne gekeer.

Waar sit so ’n mensie ’n keel op en my eerste gedagte is dat sy sleg beseer is! Met haar steeds in my arms, probeer ek regop kom, val weer om, maar is uiteindelik op my voete en strompel verwond deur se kant toe vir die ligskakelaar.

By nadere ondersoek, het sy niks oorgekom nie, danksy ‘n sagte landing op ouma. Bewend van skok en pyn sit ek toe maar so…hierdie keer óp die bed…totdat sy slaap en ek haar kan neerlê in die amper-buurman-toe-gelanseerde-kot.

Na ’n koppie sterk tee en ’n intense ondersoek na my beserings, voel ek effens beter. My rug is nerfaf, die twee bladspiere voel of ’n bokser my as slaansak ingespan het.

Dis ’n week later en ek voel uiteindelik beter. Ek het egter op ’n pynlike en baie goedkoop manier uitgevind dat ek nie osteoperose het nie. So ’n val sou ’n bros beenstelsel heeltemal laat verkrummel het.

43 Replies to “Wanneer swaartekrag en duisternis bymekaar kom.”

  1. U sal alles vir u kleinkinders doen. As een van hulle kom bly, moet dit ‘n partytjie wees. En u weet natuurlik hoe u vir so ‘n kind moet sorg, u het self vier grootgemaak.
    So ‘n ‘ongeluk’ is nooit gerieflik nie. Gelukkig lyk dit of alles goed gaan en die kind is ongedeerd.
    Groete uit Brugge,
    Paul

    Liked by 1 person

  2. Ja nee, die donker laat nie met hom speel nie. Mens kan tog so sommer in die verby gaan ‘stupid’ dinge doen. So ‘n val gaan jou nog lank by bly. Ek kan praat van ondervinding as sulke dinge gebeur. Baie bly jy het niks gebreek nie en dat jy weet jou gebeentes is nog hard/dig genoeg om nie te breek nie. Nou glimlag ek eers weer vir jou mooi vertelling. Mooi bly en wees maar versigtiger volgende keer.

    Like

      1. Probleem is as jy ouer word gebeur dit makliker sommer net in die verbygaan. Ek kry met tye ‘n strompel en besef dat ek moet ontspan met beweeg. Is asof my voet vasklou aan loopvlak vir oomblik en dis wanneer die val naby is. Gelukkig is my balans nog redelik goed en my reaksies vinnig om te keer dat ek regtig val.

        Liked by 1 person

  3. Liewe aarde, Dina – dit was n hengse val! Ek is saam met jou dankbaar dat die uiteinde darem nie n hospitaal besoek genoodsaak het vir een van julle twee nie. Gelukkig is kleinding nog te jonk om dit te onthou en Ouma te koggel oor die val wanneer sy groter word.

    Liked by 1 person

Leave a reply to perdebytjie Cancel reply

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +