
Vandeesweek speel ons letterkeer. Letterkeer of anagram is ‘n woord of ‘n sin gevorm uit die letters van ‘n ander woord of sin, maar in ‘n ander volgorde.
Ons gebruik die interessante woord: SWARTSKAAP. Binne slegs ‘n kort tydjie kon ek ses-en-vyftig woorde vorm, net van die letters in dié woord. Dis eintlik ‘n heerlike speletjie. Ek gaan nou ‘n humoristiese skets skryf en ‘n paar van dié woorde gebruik.
My skoonma was ‘n besondere waarnemer. Sy kon ure sit en na die mensdom om haar staar. In die aftree-oord waar sy gewoon het, was ‘n lastige man, wat heeldag vir almal wou bid en “begogel” (een van haar uitdrukkings) met sy heiligheid. Hy het die wit waks uit almal geïrriteer en as iemand hom sien stap het, is daar so rats as wat dit moontlik vir ‘n bejaarde is, die hasepad gekies.
Oudergewoonte laai haar seun haar een Woensdag in die kar, vir haar weeklikse bederfie by die dorp se Wimpy. Die plaaslike bedelaar, met sy pakaas in ‘n swart sak oor sy skouer geslinger, praat al van ver af, maar skoonma wat op daardie stadium al redelik swak was, kyk skaars na hom en wikkel met haar stootkarretjie die Wimpy binne.
Terwyl sy aan ‘n heerlike glas sap teug en haar kaasbroodjie knibbel, sien sy hoe die bedelaar iemand nader skraap, met sy gewone storie oor ‘n geldjie vir ‘n dringende pasaat, wie weet waarheen?
Groot fout…dis die aftree-oord se selfaangestelde redder van siele, wat ingekatrol is. Tot die bedelaar se verstomming, word hy plegtig met geboë hoof, meegesleur in ‘n ellelange gebed. Die woorde raps en die sweet die tap, maar die taak van gebedserbarming is lank nie afgehandel nie.
Uiteindelik is die sessie verby en die bedelaar staar in ‘n waas na die bringer van goeie boodskappe. Slegs ‘n kleine aalmoesie verwissel van hande, nie eers genoeg vir ‘n knypseltjie twak vir ‘n gerolde zol nie!
Skoonma se droë opmerking ala Captain Bertorelli van Allo-Allo faam: “What a mistaka I maka”!