Lewe in ‘n Waterwesekamp….Middel-Letabarivierdam

Na agt maande op die oop vlaktes van Standerton is ons op ‘n ysige wintersoggend vort na ons volgende blyplek.’n Nuwe damprojek moes in die destydse Gazankulutuisland aangepak word. Manlief Frans, was gekies om die projek aan die gang te kry en is aangestel as die plaaslike ingenieur. Dit was ‘n reuse uitdaging vir ‘n jongman van ses-en-twintig en hy het klippe gekou, maar hom uitstekend van sy taak gekwyt.

Ons blyplek was in ‘n ou myndorpie wat dateer het uit die dertigerjare en die meeste huise was ruïnes en moes herstel word. Ons was gelukkig om een van slegs ‘n aantal bewoonbare huise te kry en dit was omtrent ‘n gewerskaf om die huise bewoonbaar te maak.

Ons grasdakhuis met ‘n ou wildevyeboom, waaronder ons ure deurgebring het.

Destyds was dit letterlik in die boendoes en daar was ook ‘n projek aan die gang om die hoofstad van Gazankulu, Giyani, aan die gang te kry. Staatsgeboue, ‘n hotel, ‘n pragtige hospitaal en vele ander ontwikkelings het plaasgevind. Die amptenare wat hiervoor verantwoordelik was, het in Kremetart gewoon. Dit was ook ‘n staatsdorpie en ons naaste plek om te kuier, tennis te speel en kerk toe te gaan. Destyds is daar baie geld ingesit in tuislandontwikkeling.

Soos ek reeds gesê het, dit was in die gopse en ons moes met ‘n slegte grondpad, deur driwwe en sekelbos-boskasies ry. Langs die pad was ook verskeie Sjangaanstatte met modderhutte en klein landerytjies, beeste en bokke.

Vanaf ‘n ysige -7grade die oggend in Standerton, kom ons en ons treklorrie toe teen ‘n heerlike warm 30grade in ons nuwe tuiste aan. Die ouens wat die vervoerwa afgelaai het, het droogweg opgemerk dat ons beslis nie meer ons asbesverwarmer nodig het nie! Wat ‘n temperatuurverskil in een dag…dis die bosveld daai!

Ons het drie jaar daar gebly en dit was van die gelukkigste tye in ons lewe. Die damprojek het vlot verloop. Foto’s van verskillende stadiums in die dambouproses….

Inlaattoring

Daar was ook baie dramas met vloede en masjienerie wat vasgesit het…

Klein- Letabarivier in vloed. Oubaas, ons hond, was baie lus om te swem.

Die Klein- Letabarivier naby ons dorpie het ook soms afgekom. Tydens die reënseisoen moes ons deur gevaarlike driwwe ry om tuis te kom na inkopies op die naaste dorp, Tzaneen…’n rit van 240km heen en terug. Ons het al eenkeer vasgeval en met behulp van ‘n klomp Sjangaans het ons gelukkig weer uitgekom. Daardie jare was daar nie 4×4’ s nie en ons is met ons kerriegeel Ford Cortina deur plekke waar ons dit nie vandag sal waag nie!

Ons het die lewe vir onsself aangenaam gemaak. Daar was selfs ‘n klein biblioteek, waarvan ek die bibliotekaresse was. Vrydagaande het ons gefliek in ‘n klein saaltjie en ons byna doodgelag vir die simpel Amerikaanse strokiesprente. Daar was ‘n tennisbaan ook aangelê en wanneer ons eensaam was, het ons die veld ingevaar met twee reuseboomboeke ( dit was in die dae voor klein handige veldgidse) en die pragtige bosveldbome probeer identifiseer. Tot vandag toe is dit kennis wat my bygebly het.

Die twee boeke is vandag nog van my kosbaarste besittings.

Daar was vier of vyg jong ingenieurs en hul vrouens, wat ook oor ‘n tydperk daar ingetrek het. Ons het wonderlike vriende gemaak en elke Saterdagaand, winter of somer, gebraai. Ons is steeds vandag bevriend met een paartjie, wat ons bure was.

Ons eerste twee kinders is gebore op Duiwelskloof, wat die naaste dorpie met ‘n goeie hospitaal was. Dit was ver en nogal ‘n uitdaging om daar te kom. Gelukkig was ons darem elke keer betyds met geen verrassende kraamgevalle nie!

Ek en Oubaas.
Oubaas voor ons huis.
Ons eerste babatjie, Francois.
Ons tamaties… was baie vrugbare wêreld.
Ek en Oubaas in ons groentetuin…kyk my haarstyl…ugghhh!
Twee wonderlike Sjangaanvrouens, Lina en haar ma Kokwaan. Hulle het ons in die huis en tuin gehelp.
Kokwaan en Francois deel ’n grappie.
Ons tweede babatjie, Isabel is sewentien maande na Francois gebore.
Ons hou piekniek op die oewer van die rivier….doer onder die rooi sambreel. Dit was nog baie ongerep.

Na drie en ’n halwe wonderlike jare is ons daar weg en het padbouers geword. Dit was weer ’n heel ander soort lewe. Dankie aan die destydse Departement van Waterwese wat vir ons hierdie fantastiese lewenservaring gebied het.Ek kyk met heimwee terug daarna.

Lewe in ‘n Waterwesekamp…Grootdraaidam

Ons was slegs agt maande op Jozini, toe word ons verplaas na Standerton, waar ‘n nuwe dam gebou sou word. Ons was baie hartseer, want vanaf Jozini se pragtige tropiese omgewing, skuif ons toe na ‘n plat kaal wêreld, waar jy sewe dae in die toekoms kon inkyk. Dit was egter ook ‘n opwindende tyd, want hier het ons beleef hoe ‘n hele skema van grondvlak af begin het.

Eerstens was daar nog geen huise nie en van die mense het tydelik in dorpshuise in Standerton, gewoon, terwyl die kamp opgerig is. Met ons geluk, beland ons toe vir twee maande in ‘n karavaan in Standerton se karavaanpark, op die oewer van die Vaalrivier. Ons meubels het in Jozini agtergebly en Vlekkie, ons hondjie het by my skoonouers ‘n nuwe tuiste gevind.

Die karavaanblyery was omtrent ‘n belewenis en dis hier waar ek tydelik en vir ‘n lang tyd, alle bande met kampeer, verbreek het. Ek het darem later bekeerd geraak en enige kampeerdery, hoe woes ookal, baasgeraak en geniet.

Eerstens was dit Septembermaand en verskriklik koud. Dink jou in hoe voel so ‘n blikkaravaan as dit afkoel in die nag…’n ysterkis op wiele! Soggens wanneer jy uit die bed klim, ys jou voetsole aan die vloer vas en die velle waai, as jy jou voete oplig.

Ons karavaan was heel goed ingerig en ons het ook ‘n tent aan die voorkant gehad, maar geen grondseil nie en ook geen stoele en ander kampkakkies nie…. net die karavaan, met die heel basiese dinge.

Ek in die mooi ingerigte karavaan.. Kyk die melkbottel met blommetjies regs op die foto.

Die kleedkamers was ‘n hele ent weg en ‘n trippie soontoe in die donker, was enige vrou se nagmerrie, veral as jy kniediep deur modder moes spartel. Op ‘n stadium het dit baie gereën en as jy gaan stort het, was dit nie eers nodig om af te droog nie, want jy het deurdrenk weer by die karavaan aangekom. ‘n Sessie in die badkamer, het jou gewond en geskend gelaat op plekke waar jy nie eers geweet het jy het plekke nie. Die muskiete was so groot soos mossies en het bloeddorstig afgeduik op enige oop kol, waar hulle ‘n suig kon inkry.

Manlief, Frans by die tafeltjie in die karavaan.

Ek was bitterlik eensaam en verveeld en het bedags ons wasgoedjies met die hand gaan was en opgehang op die kommunale waslyn…dit was die dae voor die goud uit jou tande gesteel is. Gelukkig het een van die jong ingenieurs ons bevriend en sy vrou het my soms kom haal om by haar op die dorp te kuier. Ons het later baie goeie vriende geword en ons het vandag nog kontak via FB.

Dit was ‘n miernes van bedrywigheid om die bou van die Grootdraaidam aan die gang te kry. Daar was omtrent vyf ingenieurs as ek reg onthou, wat elkeen verantwoordelik was vir ‘n sekere afdeling. Die doel van die dam was om water te verskaf aan Secunda, wat ‘n nuwe uitbreiding van Sasol was. Daardie jare is daar nog vooruit beplan en nie gewag tot die modder die fên slaan nie!

Na twee maande in die karavaan, was ons huis uiteindelik klaar en het ons ons karige besittinkies op Jozini gaan haal. Die huise is op ‘n oop vlakte buite Standerton gebou en dit was van voorafvervaardigde asbespanele. Die wind het gehuil oor daardie vlakte en geloei om die huishoeke en dit was woes, lelik en leeg. Maar ons was ‘n klomp jongmense wat ‘n missie gehad het en ons nie laat onderkry het nie.

Voorkant van ons huis…kyk hoe rof was dit.
Sykant met die dubbele garage wat ons met die bure agter gedeel het.

Ons het hard probeer om tuin te maak in die pikswart turfgrond. Iemand wat nie turfgrond ken nie, sal dit nie verstaan nie. As dit nat is en jy loop daardeur, is jy binne ‘n paar treë heelwat langer as jou gewone lengte. Dis klei wat plak en plak en daar waar ons gewoon het, was ‘n wandeling na die bure, ‘n hele avontuur. Dit was in die dae voor gumbootse en ons het sommer plastieksakke om ons voete geknoop. Dit het tot op ‘n punt gewerk, totdat jou voete so vassuig en die plastieksak afruk en in die modder agterbly.

Tuingereedskap was ook nie opgewasse teen klipharde droë turfgrond nie. Ons het ‘n hele paar vurke se tande gebreek en grawe se stele het sommer omgebuig. Net met ‘n pik kon mens iets vermag en ons kon darem ‘n grasperk aanlê, voordat ons na die volgende skema verhuis het.

Intussen het die dambouery aan die gang gekom en die eerste sooie is gespit. Die manne het hard en in skofte gewerk. Dinge was vier-en-twintig uur aan die gang. Daar is gegrawe, geboor, geskiet, keerwalle gegooi, beton gemeng…dit was ‘n absolute belewenis. Die masjienerie wat gebruik is, het mens se asem weggeslaan en net weer laat besef hoe vindingryk die mens is.

Die skietgate vir die plofstof, is klaar geboor en gelaai.
Doer trek die stof! Dit was ‘n suksesvolle skoot.
Net ‘n hoop klippe is oor.

Ons het sowat agt maande daar gewoon en wonderlike vriende gemaak, so tussen die werkery deur. Op ‘n stadium het ek ‘n aflospos by George Hofmeyer Meisieskool gehad. Dit is ‘n storie vir ‘n anderdag…ook iets heel buite my ervaringsveld. Al wat ek kan sê is dat dit ‘n spesiale skool was en dat my onskuld by tye getroef was.

Standerton het bitter koue winters en op een so ‘n koue dag met ‘n temperatuur van -7 grade, is ons vort na ons volgende avontuur. By ons was weer ‘n nuwe hond, Oubaas. Hy sou lang jare sy lewe met ons deel.

Oubaas, drie maande oud…my slimste hond wat ek ooit gehad het.

Ek het my oë uitgehuil toe ek in Standerton aangekom het en weer my oë uitgehuil toe ons die dag daar weg is. Dit wys net weer, mens kan op enige plek gelukkig wees. Dit hang af wat jy daarvan maak.

Lewe in ‘n Waterwesekamp…Jozinidam.

As pasgetroudes het ek en manlief in Januarie 1976, opgewonde na ons eerste blyplek vertrek…’n houthuis in die Ubomboberge, net anderkant Pongola. Dit was ons eerste damprojekervaring. Die grondpad na Jozini, die Waterwesedorpie, was teen die steil Ubomboberge uit en nogal ‘n uitdaging vir twee onervare jongmense met ons kerriegeel tweedehandse Ford CortinaV6 met sy bruin vinieldak!

Ons spogmotor en eerste ryding.

Ons trek het twee dae voor ons uit soontoe gegaan en by ons aankoms was alles netjies in die huis gepak en die hele dorp se mense het geweet watse besittings ons het…een dubbelbed, ou spieëlkas, twee bedkassies, een enkelbedjie, my ma se ou yskas en ‘n rottangsitkamerstelletjie, bestaande uit vier stoele en twee klein tafeltjies. Toe ons die dorp inry, sien jy net gordyne beweeg. Dis nou van klein gemeenskappies, almal se besigheid is almal s’n!

Ons sitkamer met vier stoeltjies en een skildery wat ons as trougeskenk gekry het. O ja, die matte het ons by skoonma geërf.

Die bure het nuuskierig op ‘n afstand gebly, want duidelik was daar ‘n ingeburgerde respek vir titels. Ons wis niks hiervan nie, want ons was stadsmense en manlief het ‘n jaar lank in Waterwese se hoofkantoor gewerk. Ons moes later uitvind dat ons nie die regte huis gekry het nie. Die assistent plaaslike ingenieur (manlief se posomskrywing) moes ook in een van die groot baksteenhuise gevestig gewees het. Dit het ons min geskeel en ons het regtig probeer om onsself nie beter te ag as die sout-van-die-aarde-dambouers nie. Ons het toe lekker gebly in een van die houthuise, tussen die gewone werkers, met gawe hulpvaardige bure aan albei kante.

Ek voor ons houthuis, met ‘n pragtige massiewe rubberboom links.

Die eerste aand hoor ons vreemde geluide in die kombuis. Ek het die halfuitgepakte kartondose net so laat staan vir die volgende dag. Toe ons die lig aanskakel, skarrel ‘n hele legioen Natalse kakkerlakke uit genoemde bokse. ‘n Natalse kakkerlak is amper so groot soos ‘n klein vlêrmuis en wraggies die grillerigste ding ooit! Nadat ek klaar gegil en gegril het, is ons maar weer kooi toe. Dit was die begin van ontmoetings met daardie tot dusver ongerepte omgewing, se insekte en reptiele.

Een oggend hoor ek ‘n bloedstollende gil uit die badkamer en toe ek om die deur loer, spring ‘n wit padda uit die stort. Manlief het gedink dis die seep en padda se kind het homself nog witter geskrik. Die Natalse boompadda kom juis net in Natal voor en hierdie outjie moes die spoor byster geraak het, om in ons badkamer te beland. https://www.sanbi.org/animal-of-the-week/natal-tree-frog/

Dis ‘n warm wêreld, met hoë humiditeit, baie naby aan die see. Die dam was reeds klaar gebou en redelik vol water. Daar was egter probleme met die Swazilandse regering, want die water sou oor hulle grondgebied opstoot, dus is die watervlak altyd op ‘n sekere hoogte gehou. Destyds het die dam bekend gestaan as die Pongolapoortdam, want dit lê in die poort tussen die Ubombo-en Lebomboberge. Vandag staan dit bekend as Lake Jozini.

Die dam is heeltyd halfvol gehou.

Onderkant die damwal is ‘n reuse kanaalstelsel gebou, waarby manlief betrokke was. Die doel was om besproeiing te skep vir die vrugbare Makatinivlakte. Dit was ‘n ongerepte vlakte vol binnelandse mere, pragtige plantegroei, klein gehuggies waar Zoeloes gewoon het, taamlik onbegaanbare paaie, waar mens net met ‘n 4×4 kon ry. Die bekende Sordwanabaai was een van die ruwe aantrekkingskragte van die gebied. Kosibaai, wat vandag maklik bereikbaar is, was ‘n missie op sy eie.

Pongolarivier onderkant die damwal. Regs is die kanaalstelsel in aanbou en in die verte lê die Makatinivlakte.

Die dam is vandag ‘n aantrekkingskrag vir vissermanne en natuurliefhebbers. Met ‘n onlangse besoek aan die damwal, was die teleurstelling groot. Dit was vuil en krotterige huisies is oral teen die eens ongerepte hange gebou. Die skoonheid van die omgewing is weereens geskend deur bevolkingsaanwas en onbeplande “ontwikkeling”.

Die damwal met die pragtige omgewing, wat vandag vol gebou is.

Tydens ons verblyf daar, was die waterfiskaal, ene oom Papie Papenfuss. Hy het nogal ‘n kunssinnige streep gehad en die damwal en omgewing versier met klein miniatuur kliphuisies met grasdakkies en vetplanttuine. Gelukkig het ek foto’s daarvan. Alles is vandag weg.

Een van Oom Papie se kunswerke.
Nog een van die miniatuurhuisies met sy eie tuintjie.
Aansig op die uitlaattoring en Oom Papie se mooi tuin.

Ons was baie afgesonderd en ons naaste dorp was Pongola in die noorde en Empangeni in die suide. Dit was nogal ‘n uitdaging om met die bergpad af te ry dorp toe en daarom is inkopies tot eenkeer ‘n maand beperk. Vandag is die pad geteer en maklik om te ry.

Om besig te bly het ons Saterdae tennis gespeel en Sondae die klein hotelletjie reg langs die dam, besoek, waar ons lekker kon eet. Om op die dam te vaar was ‘n belewenis, want as die wind opsteek veroorsaak dit reusegolwe en dis ‘n skrikwekkende ervaring. Dis een plek waar ek gedink het my laaste oomblikke het aangebreek. Die waterwese boot met sy lae perdekragenjintjie het ons daardie dag amper ‘n vroeë waterdood laat sterf!

Ek met my raket by die piesangboom in ons lekker tuin. Dis subtropiese wêreld en die storie lui dat as jy lank genoeg op jou kierie rus, skiet dit wortel.

Die mense het gebruik gemaak van “fanjanne” om in die tuine te werk. Dit was jong Zoeloeseuns, wat vir ‘n ekstra geldjie, oor naweke kom werk het. Ek het Fanagalo (‘n taal wat ontwerp is deur Suid-Afrikaanse mynmaatskappye, bestaande uit elemente van Nguni tale, Engels en Afrikaans), leer praat om met ons fanjan te kommunikeer. Ons het die oulikste slim kêreltjie gehad en ek wens ek weet wat van hom geword het. Hy was so gretig om te leer en het vir my gevra vir ‘n Engels/ Zoeloe woordeboek. As sy werk klaar was, het hy sit en lees en skryf.

Alpheus Dlamini, ons fanjan. Hy is seker vandag al diep in sy vyftigs.

Ons eerste hondjie was ‘n klein foxterriër en is teen ons sin aan ons “geskenk”. Na ‘n daguitstappie het ons by die huis gekom en ‘n baie opgewonde Alpheus met die hondjie aangetref. Wat kon ons maak? Mens kon tog nie ‘n geskenk teruggee nie. Nietemin, ons was baie lief vir Vlekkie.

Alpheus en Vlekkie.

Op Jozini het ek uit noodweer geleer om brood te bak. Die plaaslike vrouens het hul aartappelsuurdeegplantjies met my gedeel en ek het later, na ‘n hele paar mislukkings, bobaasbrode gebak. Daar was ‘n spesiale gat agter in ons tuin, waar die gesneuwelde baksels begrawe is.

Ons het gehuil toe ons die dag daar weg is. Wat ‘n wonderlike ervaring, saam met fantastiese mense in een van ons land se mooiste dele.

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Picture Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Writing - Photography - Lifestyle

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +

%d bloggers like this: